Geskryf deur: Michael Swain
Artikelbron: FOR SA
Het jy al ooit wakker geword met die besef dat ’n nuwe wet, beleid of regulasie wat jou teen die bors stuit nou van krag en afdwingbaar is? Dit kan jou magteloos laat voel. Die goeie nuus is dat Suid-Afrika ’n grondwetlike demokrasie is en ons Grondwet ons land se oppergesag is – nié ons parlement of enige ander staatsorgaan nie. Die Grondwet verleen aan jou as individu belangrike regte wat slegs beperk kan word ooreenkomstig die toets wat in detail in artikel 36 van die Grondwet uiteengesit word.
Hoe wette aanvaar word
Ons nasionale regeringstelsel is in drie afdelings verdeel, die wetgewende, die uitvoerende en die regsprekende gesag. Die wetgewende gesag sluit ons parlement in, wat uit twee huise bestaan, die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies (NRP). Die wetsontwerpe wat deur hierdie huise oorweeg word, word tipies eers in verskeie regeringsdepartemente opgestel. Elke fase is onderhewig aan ’n openbare konsultasie- en deelnameproses voordat dit deur die president (die uitvoerende beampte) goedgekeur en in wetgewing aanvaar kan word.
Openbare deelname is van kritieke belang
Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie is verteenwoordigend en deelnemend van aard. Hierdie deelname is nie beperk tot hoe ons tydens ’n nasionale verkiesing stem nie. Artikel 59 van die Grondwet vereis dat die Nasionale Vergadering deurgaans openbare betrokkenheid in die wetgewende proses in ’n oop wyse moet fasiliteer. Artikel 72 stel dieselfde vereistes aan die NRP. Ons moet egter ons regte uitoefen om enige voordeel daaruit te trek. Daarom is openbare (of burgerlike) betrokkenheid by die wetgewende proses van kritieke belang in ’n funksionerende demokrasie. Dus doen Freedom of Religion South Africa (FOR SA) baie moeite om elke wetsontwerp, konsepbeleid en regulasie noukeurig te ondersoek vir enige potensiële ondermyning van ons reg op godsdiensvryheid (soos verskans in artikel 15 van die Grondwet). Ons formuleer dan ’n reaksie en ’n standpunt om hierdie reg te beskerm en te handhaaf en dit word met kiesers en die media gekommunikeer.
Ons het jou betrokkenheid nodig
As burgers en belanghebbendes moet ons aktief en direk betrokke raak by die wetgewende proses, want hoe meer ons eenstemmig ons stem laat geld, hoe meer aandag moet die regering aan ons standpunte gee. Indien die regering dan hierdie openbare deelnameproses ignoreer of versuim om hom behoorlik daardeur te laat lei, is dit onmiddellik moontlik om by die hof (die regsprekende afdeling) aansoek te doen en die hele proses te betwis. Ons regbank het dit in verskeie uitsprake duidelik gemaak dat wanneer die regering versuim om die proses behoorlik te volg, insluitend om betékenisvolle openbare deelname te fasiliteer, die gevolglike wet se geldigheid in gedrang gebring is en omvergewerp kan word. Wanneer wetgewing daarenteen wettig aangeneem is ná behoorlike openbare deelname, sal die burgers die wette wat daarop volg baie meer geredelik aanvaar.
Teken vandag in vir ons nuusbrief!
Klik hier (forsa.org.za) om in te teken op FOR SA se nuusbrief en kennisgewings om akkurate, tydige inligting te ontvang en nooit weer ’n geleentheid mis te loop om jou sê te sê in ons wetgewende proses nie!
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 06/03/2023
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.