Artikelbron: Morning Star News

Die Ugandese polisie het twee mense in hegtenis geneem in verband met die ontvoering van 40 Christen-kinders.

Valse voorwendsels
Die groep is volgens Morning Star News in ’n lokval gelei deur ’n Moslem-man wat homself voorgedoen het as die leier van ’n Christelike liefdadigheidsorganisasie wat gratis onderwys aanbied. Bronne in Arua, in die noordweste van Uganda, het gesê dat die 27-jarige Siraji Sabiri die kinders na ’n hotel gelok het onder die valse belofte om skoolbeurse aan hulle te verskaf. Die motief was moontlik om die kinders aan militante rebelle te verkoop.

Pastoor merk onraad
Die polisie het die kinders op 2 Februarie uit die hotel gered. Kerklidmate het hulle pastoor in Arua ingelig oor die beweerde bedrogspul waar ’n Christelike organisasie kinders vir skoolbeurse in sentraal-Uganda registreer. Die pastoor, wie se naam om veiligheidsredes weerhou word, het gesê: “Ouers het die geleentheid benut om vir die beurse te registreer. Op 2 Februarie het ’n ouderling berig dat baie kinders van die kerk in ’n hotel in Arua vergader is. Ek het bekommerd geraak en die polisie gebel om die kinders op te spoor, aangesien ek nie by die hele proses betrokke was nie.”

Op pad na die Demokratiese Republiek van die Kongo
Die polisie het die kinders (vyf tot sestien jaar oud) by die hotel aangetref en gehoor dat hulle per bus na die Demokratiese Republiek van die Kongo vervoer sou word. Dit het egter tydens ondervraging aan die lig gekom dat die leier, Sabiri, ’n Moslem was wat homself as ’n Christen voorgedoen het.

“Die man het homself as ’n Christen voorgehou en het meer as 40 kinders geregistreer wat vir die beure aansoek gedoen het. Ons vermoed hy wou hulle aan die ADF [Allied Democratic Forces] in die Kongo verkoop,” het die pastoor aan Morning Star News gesê. Die polisie het ook ’n 28-jarige Moslem-vrou in verband met die saak gearresteer en is op soek na ander beweerde medepligtiges.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 06/03/2023
Foto: Morning Star News

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here