Deur: Solidariteit Helpende Hand
Artikelbron: Artikel verskaf
Ria de Beer, die 77-jarige slagoffer, vertel sy het op 17 Januarie om 04:00 wakker geskrik toe twee mans toegang tot haar huis in die Agapé-huis in Pretoria se Moot verkry het.
“Toe ek wakker skrik, het daar twee mans in my kamer gestaan en hulle het vir my gewys ek moet stilbly. Ek het saamgewerk want ek wou nie skreeu en dan veroorsaak dat van die ander inwoners in gevaar kom nie,” sê De Beer.
Sy het in haar bed bly lê terwyl hulle haar kamer geplunder het – van haar handsak, eetgoed en selfoon tot toiletware en die boksie waarin haar gehoorstukke was.
Een van die verdagtes het in ’n stadium uit die huis geloop en toe ’n alarm afgaan, het hulle met hul buit op die vlug geslaan. Die oord se bestuur het na bewering die Villiera-polisie ontbied en dié het twee beamptes na die toneel gestuur. Hulle het De Beer nie ondervra nie maar versoek om later die dag ’n verklaring by die polisiestasie te gaan aflê. Sy het egter net ’n bejaarde suster en geen ander familie wat haar kon bystaan nie, daarom kon sy nie by die polisiestasie kom om die verklaring af te lê nie. Sy het ook nie kans gesien om weer al die trauma te ervaar nie.
Buiten die trauma, is De Beer ongedeerd.
“Ek skrik nog soms in die nag wakker van die vrees, maar dan sê ek net “Wyk, Satan” en raak weer rustig.” – NG Gemeente
De Beer sê die ondersteuning wat sy ná die nagmerrie ervaar het, veral van haar kerk – die NG gemeente Queenswood, is ongelooflik. Sy het nie geweet daar is nog so baie mense wat omgee en uitkyk vir mekaar nie.
Solidariteit Helpende Hand se tak vir gehoorgestremdes
Lede van Solidariteit Helpende Hand se tak vir Gehoorgestremdes is oor De Beer se voorval ingelig en het met die hulp van die Oorinstituut in Queenswood gehelp dat De Beer nuwe gehoorapparate ter waarde van sowat R35 000 kon kry. Met hierdie gebaar, wat onder die vaandel van Helpende Hand se HelpHoor-projek gedoen is, het Helpende Hand en die Oorinstituut Wêreldgehoordag op 3 Maart gevier. Die HelpHoor-projek poog om tweedehandse gehoorapparate wat deur weldoeners geskenk is, te laat diens en aan behoeftige mense en bejaardes beskikbaar te stel.
De Beer het die Oorinstituut se oudioloog, dr. Marinda Uys, en Helpende Hand se Suzette Oosthuizen geloof vir hul omgee en ondersteuning wat haar gehelp het om weer die gawe van goeie gehoor te kan ervaar.
“Ons is bly dat ons ter viering van Wêreldgehoordag weer die wêreld vir iemand kan oopsluit en die stilte verbreek sodat sy kan radio luister, televisie kyk en oor die telefoon kan praat. Ons kan nie die trauma wegvat nie, maar ons kan haar weer in verbinding met die buitewêreld sit,” sê Oosthuizen.
Uys, senior oudioloog en lid van die tak vir Gehoorgestremdes, sê die Oorinstituut is trots om betrokke te wees by Helpende Hand se HelpHoor-projek.
“Ons wil graag iets aan die gemeenskap teruggee. Gehoor is ʼn gawe waarsonder die lewe verskriklik eensaam kan word. Ons wil mense help om weer te kan hoor sodat hulle aktief aan die aktiwiteite rondom hulle kan deelneem en sosiale interaksie met vriende en familie kan geniet,” sê Uys.
Dr. Marinda Uys, senior oudioloog, Ria de Beer, Suzette Oosthuizen, Hoof: Sentrums & Nasionale takke.
Vir meer inligting oor die HelpHoor-projek, besoek www.helpendehand.co.za of stuur ’n e-pos na diens@helpendehand.co.za.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 06/03/2023
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.