Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Wanneer RO Water SA op 28 September sy 21ste bestaansjaar vier, is dit veel meer as ’n datum op die kalender. Dit is die verhaal van ’n onderneming wat uit van ’n nederige begin gegroei het tot ’n toonaangewende leier in waterbehandelingsoplos-sings, met 336 personeellede regoor Afrika. Meer nog, dit is die verhaal van Pieter Greyling, wat sy geloof, gesin en waardes as kompas gebruik het om ’n besigheid te bou wat nie net wins meet nie, maar die verskil wat dit in mense se lewens maak.
’n Stalletjie onder ’n boom
Die reis het nederig begin – onder ’n boom by Mountain View Spar in Hartbeespoortdam, met net ’n tweedehandse opvou-tafel en ’n eenvoudige banier. Pieter het sy loopbaan as assistent-apteker begin en ná sy diensplig in die lugmag en weermag in 1984, met die steun van sy werkgewer, tot hoofapteker gevorder. Later, tydens werk in die destydse TBVC-lande, het hy saam met ’n mediese vriend die hoë voorkoms van epilepsie onder kinders ondersoek. Toetse het onthul dat tot 80% van gevalle direk aan swaar metale in drinkwater gekoppel was – ’n ontdekking wat sy roeping onherroeplik sou verander. “Deur die genade van die Here het ons die eerste watersuiweraars begin invoer,” vertel hy. Wat as ’n eenvoudige Saterdag-stalletjie begin het, het binne vier maande in ’n volhoubare besigheid ontwikkel. “Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie” (Sag 4:10).
Van stalletjie tot fabriek
Die groot aanvraag na skoon water, veral onder mense wat met kanker en ander ernstige siektes gediagnoseer is, het die onderneming se groei aangevuur. Pieter se betrokkenheid by die Childhood Cancer Foundation South Africa en by Steve Biko-hospitaal se onkologiese afdeling – waar watersuiweringseenhede aan die kinderafdeling geskenk is – het die roeping verder versterk. Met die inkomste uit die stalletjie kon die eerste winkel in Hartbeespoort oopmaak. Binne drie jaar het vyf nuwe winkels gevolg en agentskappe het landswyd begin versprei. Vandag vervaardig RO Water selfs ’n deel van sy eenhede in sy eie fabriek – ’n stap wat jare van beplanning en deursettingsvermoë geverg het.
Waardes as kompas
Wanneer Pieter oor die boustene van sy sukses praat, kom drie kernwaardes telkens na vore: kwaliteit, integriteit en eerlikheid. “Sonder God sou dit onmoontlik gewees het,” voeg hy by. As man van God neem hy sy verantwoordelikheid en rentmeesterskap ernstig op. Sy maatskappy is sterk betrokke by gemeenskapsprojekte, en hy spits hom daarop toe om terug te gee omdat hy self oorvloedig uit God se genade ontvang het. Langtermynbeplanning en oop gesprekke met personeel, kliënte en verskaffers het gehelp om relevant en innoverend te bly. Vyf- en tienjaarplanne gee rigting, terwyl daaglikse gesprekke nuwe idees na vore bring.
Soos enige entrepreneur moes Pieter ook terugslae trotseer – van politieke en ekonomiese druk tot persoonlike uitdagings. Sy ingesteldheid bly eenvoudig: neem die positiewe, bid vir leiding en put krag uit personeel wat in die maatskappy glo. “Partymaal kan jy niks aan die negatiewe doen nie,” sê hy.
Gesin as fondament
Gesin is die hoeksteen van Pieter se reis. Sy vrou en kinders speel ’n aktiewe rol in die besigheid – van hulle is al meer as 13 jaar betrokke. Dit bring stabiliteit en balans. “Oop kommunikasie op elke bestuursvlak, en die manier waarop ons saam as span probleme hanteer, maak ’n reuseverskil,” verduidelik hy. Ook professioneel pak hulle projekte saam aan en vier hulle sukses as ’n gesin.
’n Pad deur siekte
Verlede jaar is Pieter met kanker gediagnoseer – ’n beproewing wat sy geloof en perspektief diep getoets het. Aanvanklik het hy met die Here geworstel en gewonder waarom hy hierdie pad moes stap, maar uiteindelik het hy vrede gevind. “Ek het tot die besef gekom dat die Here hierdie uitdaging toegelaat het om my visie te verander,” sê hy. Hierdie herinner ons aan 2 Korintiërs 12:9 wat sê: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” “Ek is dankbaar dat ek Hom mag vra vir leiding en genade.” Hierdie ervaring het sy siening van sukses verdiep: waar wins en groei vroeër sentraal gestaan het, het dankbaarheid en die besef van ’n groter roeping nou sy denke gevorm.
Vir Pieter en sy gesin is geloof nie ’n afsonderlike deel van hul lewe of besigheid nie – dit is die kern. Elke dag word die onderneming aan die Here opgedra. “Ons dank Hom vir die goeie sowel as die moeilike dae,” verduidelik hy. “Albei vorm ons en help ons om beter mense te word.”
Erfenis van hoop
Vandag staan RO Water SA as getuienis van wat geloof, gesin en deursettingsvermoë kan vermag. Van ’n eenvoudige tafel onder ’n boom tot ’n netwerk wat oor Afrika strek, het die onderneming miljoene liter water gesuiwer en hoop en gesondheid aan duisende gesinne gebring. Pieter se visie vir die toekoms bly onveranderd: om ’n erfenis te bou waarin skoon water, geloof en liefde vir mense die kern bly. “As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs” (Ps 127:1).
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 24/10/2025
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.










