Mediaverklaring deur: Geopende Deure Afrika
Die groep wat algemeen bekend is as al–Shabaab (Ahlu Sunnah wa Jama’ah, of ASWJ) het op 9–12 Oktober ʼn reeks aanvalle op Napala geloods. Napala, ʼn dorp in die Chiúre–distrik van die Cabo Delgado–provinsie in noordelike Mosambiek, is ernstig beskadig deur die ASWJ–aanvallers.
Volgens ʼn plaaslike pastoor (naam weens veiligheidsredes weerhou), het die situasie vinnig versleg toe die Mosambiekse Verdedigings– en Veiligheidsmagte hulle aan die gevegte teen die aanvallers onttrek het. “Alles het vererger toe die Verdedigings– en Veiligheidsmagte sonder sukses probeer ingryp het. Toe hulle gevlug het, het die situasie drasties versleg vir die inwoners,” het die pastoor aan Geopende Deure se plaaslike vennote vertel.
Nog ʼn pastoor, wie se naam weens veiligheidsredes nie gedeel kan word nie, sê: “Ons weeklaag oor die hartseer dood van vier bejaarde vroue wat in ʼn huis vasgebind en deur die aanvallers verbrand is.” Ná die aanvalle het sommige dorpenaars probeer terugkeer om te kyk of hulle enigiets kon red – net om die dorp leeg te vind, met uitgebrande geboue en twee kerkgeboue in puin.
Die Chiúre–distrik het die afgelope jaar onder verskeie gewelddadige aanvalle deurgeloop. Volgens ReliefWeb “het ʼn groot aantal mense ná ʼn reeks aanvalle deur nie–regeringsverwante gewapende groepe tussen 24 Julie en 3 Augustus hier aangekom, veral in die dorp Chiúre.
“Dit was die grootste vlaag van skielike ontwortelings in die provinsie sedert vroeg in 2024, toe ʼn beraamde 425 000 mense volgens die Internasionale Organisasie vir Migrasie intern ontwortel is.”

Christene in Mosambiek wat deur die onlangse aanvalle ontwortel is.
Met al–Shabaab se beweerde bande met die Islamitiese Staat (ISIS) in gedagte, is Geopende Deure ook bekommerd oor die volgende waarskuwing aan Christene in Afrika, wat vroeër vandeesmaand deur ISIS in ʼn weeklikse nuusbrief gepubliseer is: “Indien Christene in Afrika veilig wil wees en die siklus van moorde wil vryspring, moet hulle weet dat Islam aan hulle die ‘vryheid’ gee om tussen drie opsies te kies. Eerstens: Islam – word dus ons broers in iman (geloof), met dieselfde regte en pligte. Tweedens: Betaal die jizya (stembelasting) in vernedering en onderdanigheid – hierdeur word hul bloed bewaar en kan hulle veilig in hul dorpe woon. En derdens: Indien hulle beide Islam en die jizya weier – dan dood en uitsetting, wat hulle al vir jare ervaar en onder ly.”
“Die redaksionele plasing prys die groep se ‘jihad’, wat die teiken en doodmaak van Christene in Mosambiek en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) behels, terwyl dit ISIS–aanhangers in Europa aanhits om ʼn sogenaamde goddelike vonnis teen Christene in hul eie streke ‘te voltrek’,” het MEMRI Jihad en Terrorisme Bedreigingsmonitor op 7 Oktober verslag gedoen.
1. Bevestiging van die bedoeling teen Christene in Afrika oor die algemeen, soos herhaaldelik verklaar word in Geopende Deure en die Afrika Evangeliese Alliansie se Arise Africa–veldtog, ʼn meerjarige veldtog teen die vervolging van Christene in sub–Sahara Afrika.
2. Bevestiging van die godsdienstige agenda van die opstande in Mosambiek en die DRK spesifiek.
Vir meer inligting of om ʼn onderhoud te reël, kontak Elizabeth Botha, Geopende Deure se mediabeampte, by elizabethb@od.org, (+27) 83 227 8164 of (+27) 11 888 9341.
Tel: (+27) 83 227 8164 / (+27) 11 888 9341
E–pos: elizabethb@od.org
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 25/10/2025
Foto’s verskaf: Ná die aanvalle op Napala het inwoners wat teruggekeer het op ʼn leë dorp met uitgebrande
geboue en kerkgeboue in puin afgekom.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








