Geskryf deur: Clemens Mans
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
“So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word.” – Efesiërs 2:3
In elke Christen se lewe behoort daar ’n duidelike “voor en ná” te wees. Dit laat my dink aan die programme op televisie waar hulle ’n stukkende, geroeste ou voertuig neem, dit uitmekaar haal, regmaak en met nuwe verf spuit. Wanneer jy die voor- en ná-foto sien, kan jy nie glo dis dieselfde voertuig nie. Dis hoe dit moet lyk in ons Christelike lewe: daar moet die ou jy wees en dan moet daar ’n nuwe jy wees.
Die ou mens en sondige begeertes
Efesiërs 2:3 sê dat as gevolg van die ou mens – die sondige natuur – ons begeertes ons oorheers het en ons net gedoen het wat ons self wou. Ons het ons vergryp aan die dinge van hierdie wêreld; ons het nie God se wil gesoek nie, maar ons eie. Wat in ons gedagtes opgekom het, het ons eenvoudig uitgevoer. Die plesier van hierdie wêreld was vir ons baie belangriker as om heilig voor die Here te wandel volgens sy plan en wil. Efesiërs leer dat hierdie sondige gedagtes en begeertes gemaak het dat ons, net soos die res van die wêreld, God se straf moes ontvang.
Die krag van ’n klein woordtjie
Dan gebeur daar iets kragtigs in die volgende vers. Dit begin met die woorde: “Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief” (Ef 2:4). Die woordjie “maar” is ’n besonder belangrike – en selfs gevaarlike – woord. Dis klein, maar dra gewig. “Maar” is ’n voegwoord wat ’n teenstelling aandui, dit verbind twee idees wat in kontras met mekaar staan.
As ek vir my vrou sou sê: “Ek is lief vir jou, maar …” gaan sy waarskynlik nie onthou dat ek gesê het ek is lief vir haar nie. Sy gaan net alles onthou wat ná die “maar” volg, want wat ook al daarna kom, kanselleer die woorde wat voor dit gestaan het.
Genade gee maar, barmhartigheid weerhou
Paulus sê dat ons, as gevolg van ons misdade en oortredinge, die toorn van God verdien. Ons verdien dit om deur Hom gestraf te word. Maar wat doen God? Hy bewys barmhartigheid. Genade beteken dat God vir ons gee wat ons nie verdien nie. Barmhartigheid beteken dat Hy terughou wat ons wél verdien. Wat doen die barmhartigheid wat jy deur die kruis van Jesus Christus ontvang het? Dit weerhou God se straf van jou en gee in plaas daarvan liefde – en die ewige lewe.
Clemens Mans – ’n welbekende stem in Suid-Afrika wat al byna drie dekades lank, nasionaal en internasionaal, harte en siele met die Evangelie van Jesus Christus bereik. www.kruiskyk.tv
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 23/10/2025
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








