Artikelbron: Christian Global Relief
Tydens ’n aanddiens het ’n Moslem-man by Pakistanse pastoor Zayn se kerk ingebars en geskree dat die kerk “’n bordeel” is. Zayn het probeer om die man te kalmeer, maar is uiteindelik fisiek aangeval. Die man en sy broers het toe die kerk afgebreek en skote afgevuur.
Die kerk se klankstelsel is vernietig en ondanks pastoor Zayn se beste pogings om met die man en sy broers te praat het hulle hom aangerand en met ’n krieketkolf oor die kop geslaan. Sy kornea is ook ernstig beskadig.
Terwyl sy kopwond gebloei het, is pastoor Zayn met ’n vuurwapen aangehou. Die pastoor het egter geweier om die diens te staak onder druk van die woedende aanvallers. “Skiet my as julle moet, maar ek sal nooit ophou om my geloof te beoefen nie,” het hy volgens Christian Global Relief gesê.
Die aanvallers het toe nie die pastoor geskiet nie, maar wel verskeie voorwerpe in die kerk vernietig. Baie kerkgangers het ook beserings en emosionele trauma opgedoen.
Weke ná die wrede aanval het Zayn volgens Global Relief dreigemente van Moslems ontvang. Tog sê die dominee dat God hom veral in hierdie tyd bemoedig. “In ons swakste oomblikke het God my moed gegee deur Sy Woord. Ek en my gesin het dit dankbaar ontvang en sterker geword en is beter voorbereid vir vervolging. Ek het vertroosting gevind in Matteus 24:6, wat sê: “Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor. Pas op, moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie.
’n Paar dae ná die aanval op die kerk en sy leraar, het plaaslike owerhede, dorpsouderlinge en geestelike leiers ’n vergadering belê. Die aanvallers het pastoor Zayn om verskoning gevra. Die pastoor het besluit om sy aanvallers te vergewe en ook om geen klagte teen hulle in te dien nie.
Pastoor Zayn pas Matteus 5:44 dus in die praktyk toe: “Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg.”
Die pastoor herstel al vir ’n aantal weke van sy oogoperasie. Hy sê hy is gereed “vir watter uitdaging ook al op hom wag.”
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 17/09/2023
Foto: globalchristianrelief.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








