Geskryf deur: Alex Pollock www.incontextinternational.org Artikelbron:
Op Saterdag, 9 September, het verskeie lande tydens ’n aparte vergadering, gedurende die G20-spitsberaad, ooreengekom om ’n multinasionale spoor- en verskepingsprojek op die been te bring wat Indië met Europa via die Midde-Ooste sal verbind.
Die Indië-Midde-Ooste-Europa Ekonomiese Korridor (IMEC) sal help om handel, energieproduksie en digitale konnektiwiteit in al drie gebiede te bevorder. Beplanning vir die korridor het tydens die besoek van die Amerikaanse president, Joe Biden, aan Saoedi-Arabië in Julie 2022, ’n aanvang geneem. Tydens die G20-spitsberaad het Indië, die VSA, Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), Frankryk, Duitsland, Italië en die Europese Unie op ’n raamwerk vir die korridor ooreengekom, met die vooruitsig dat meer konkrete planne binne 60 dae bekendgemaak sal word.
Die beplande korridor sal Indië deur Saoedi-Arabië, die VAE, Jordanië, en Israel met Wes-Europa verbind. Dit sal die oprigting van ’n waterstofpyplyn, treine, veseloptiese kabels, elektriese kabels en ander infrastruktuur, insluit. Dit sal oor byna 5 000 km strek en uit ’n oostelike korridor, wat Indië met die Arabiese Golf verbind, asook ’n noordelike korridor, wat die Arabiese Golf met Europa verbind, bestaan. Na verwagting behoort dit die handelstydsverloop tussen Indië en Europa met bykans 40% te verkort. Hierdie korridor ding mee met China se Belt and Road-inisiatief – ’n projek wat in 2013 deur die Chinese president, Xi Jinping begin is.
Alhoewel nie teenwoordig by die bekendmaking van die korridor nie, het die Chinese Buitelandse Ministerie gesê “dit verwelkom alle inisiatiewe wat ontwikkelende lande werklik help om infrastruktuur te bou en opregte pogings om konnektiwiteit en gemeenskaplike ontwikkeling te bevorder,” solank sulke inisiatiewe “nie geopolitiese werktuie word nie.” Indië maak nie deel uit van die Belt and Road-inisiatief nie, dus bied hierdie projek alternatiewe infrastruktuur en handelsbronne vir die wêreld se mees bevolkte land.
Indië is ook die wêreld se mees “onbereikte” land, met 2 135 mensegroepe (90% van sy bevolking, volgens die Joshua-projek) met min tot geen blootstelling aan die evangelie nie. Een unieke aspek van die IMEC is die godsdienstige demografie van die lande waarin dit gebou sal word. Dit loop deur een van die mees prominente lande met ’n MosIem-meerderheid (Saoedi-Arabië), die grootste Hindoe-land (Indië), die Joodse staat Israel, en eindig in die oorwegend Christelike Wes-Europese lande. Daarom bied die IMEC die geleentheid vir meer as net goedere en energie om vervoer te word. Soos betrekkinge tussen lande meer toeganklik gemaak word, ontstaan daar ook potensiaal vir meer geestelike openheid.
Veral binne hierdie strategiese lande is die oes groot. Die Kerk moet dus nie die tyd waarin dit homself bevind, miskyk nie, maar moet eerder voorbereid wees op die geleentheid wat die Here deur die ontwikkeling van die IMEC daarstel. Vir die Golfstate wat in die projek ingesluit is, Saoedi-Arabië en die VAE, is die IMEC net een van baie voorbeelde van hoe die Here deure oopmaak in wat eens ’n baie geslote gebied was. Kroonprins Mohammed bin Salman van Saoedi-Arabië het sy land in die afgelope paar jaar op verskeie maniere oopgestel as deel van sy Saoedi-visie 2030. Die verbetering van verhoudings met ander Golfstate het ook geleenthede gebied vir “buitestaanders” om die land binne te gaan. Saoedi-Arabië en die VAE is ook onder die jongste lidlande van BRICS – ’n groep ontluikende globale ekonomieë – wat ook godsdienstig-diverse nasies insluit.
Hierdie onlangse geopolitiese gebeure kan dien as ’n herinnering aan die wêreldwye Kerk dat die Here aktief aan die werk is op die ekonomiese en politieke terreine van elke land. Daar is ’n geleentheid vir die Kerk, sowel binne as buite hierdie lande, om groot werk te verrig as dit gewillig is om die seisoen te verstaan en te interpreteer. In Matteus 16:2-3 sê Jesus vir ’n groep Fariseërs en Sadduseërs: “In die aand sê julle: ‘Daar kom mooi weer, want die lug is rooi;’ in die more sê julle: ‘Vandag sal dit onweer wees, want die lug is dynserig rooi.’ Julle weet hoe om die voorkoms van die lug te beoordeel, maar die tekens van die tye kan julle nie onderskei nie.” Mag die Kerk bid vir ’n groter begrip van die “tekens van die tye” wat die Here daarstel, en bereid wees om die beste te maak van elke geleentheid wat aan hom gegee word.
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid dat die IMEC die nodige ekonomiese groei vir die betrokke lande sal skep;
- dat die Kerk die geleenthede wat die Here deur hierdie geopolitiese ontwikkelinge daarstel, sal raaksien; en
- dat gelowiges in hierdie streke doelgerig sal wees oor waarheen die Here hulle roep om te gaan, hoe Hy hulle roep om te dien, en die rol wat hulle kan speel in die bevordering van die Koninkryk.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 17/09/2023
Foto: wikipedia.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.