Geskryf deur: Lisa Polson
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
“Spring, sussa, spring!” Dit was my ma se woorde daardie Sondagoggend in Oktober 2023 aan die ontbyttafel, toe ek met haar deel dat ek ervaar die Here roep my uit die finansiële sektor. Dalk is “verlos” ’n meer gepaste woord. Vir byna vyf jaar lank het ek gewag vir daardie bevestiging in my gees – dat dit tyd is om te gaan. Ek het my graad in beleggingsbestuur voltooi en as beleg-gingsanalis gewerk by ’n gerespekteerde fondsbestuurder. My paadjie was uitgelê – ek sou die sogenaamde korporatiewe leer klim, werk, trou, kinders hê en uiteindelik aftree. Die lewe sou goed en gemaklik wees. Maar die vooruitsig van “goed en gemaklik” het my met ’n hol kol op my maag gelaat. Met my hele wese het ek gesmag na meer.
’n Vuur in my binneste
Ek het die Here leer ken in my finale jaar van swot. Ek was vasgevang in sonde en skuldgevoel toe die God van die Bybel my kom vry maak en my lewe onherroeplik verander. Hy het ’n nuwe lied in my mond gelê en my eens-gebreekte bene laat dans. Ek het gevoel soos Jeremia, die boodskap van die Here het in my binneste gebrand soos ’n vuur, ek kon dit nie inhou nie. Met my beperkte verstaan van wat Koninkrykswerk behels, het ek gedink dit beteken sekerlik ek hoort op die sendingveld!
Gevorm in die wagtyd
Dit was dus nie lank nadat ek begin werk het nie wat ek gebid het: “Here, sodra U sê ek moet gaan, dan is ek hier uit!” Maar Hy antwoord toe: “Wat as Ek sê bly, Lisa? Sal jy bly?” En so het ek gebly. Soms het dit gevoel asof elke greintjie in my liggaam vasskop en wou wegbreek, maar ek het geleer om my vreugde te vind in die wete dat my gehoorsaamheid Hom behaag. Die Here het my karakter in hierdie tyd geslyp, en my werksplek het my sendingveld geword. Ek het gesoek na geleenthede om my kollegas en kliënte te dien en elke Excel-spreadsheet tot eer van die Here te bewerk. Ek was aktief betrokke by my kerk, het ’n selgroep gelei, en selfs die geleentheid gehad om op ’n paar korttermynsendingreise te gaan. Tog het my hart steeds gesmag na méér.
Vaar die onbekende in
Toe ek daardie naweek op die ma-en-dogter-retraite ervaar die Here sê vir my dat dit tyd is om te gaan, het ek geen benul gehad van waarheen ek op pad was nie. Maar ek het geweet Hy weet, en as ek net sy hand vashou sou ek daar uitkom. Abraham het nie geweet waarheen hy op pad was toe hy sy goedjies gepak en Haran verlaat het nie. Hy het eenvoudig geglo en gehoor gegee toe God hom roep. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom.
Die Here voorsien – en verras
Ses maande later, deur ’n reeks wonderwerke (wat gepaard gegaan het met baie uitdagings, skynbaar onmoontlike omstandighede en baie oomblikke van diep worsteling met God), maak die Here vir my die deur oop om as joernalis te werk hier by JUIG! Tydskrif. ’n Absolute getuienis van goddelike leiding en guns. Skaars vier maande later, 14 Oktober 2024, is ek op my pos besig om aan ’n storie te werk toe ’n aantreklike Britse Amerikaner na my lessenaar toe stap en homself voorstel. Dit voel of my gees spring van vreugde. Die Een wat in my leef woon ook binne hom!
Bestem vir mekaar
Howie was in Suid-Afrika vir die troue van sy beste vriend, ook die seun van JUIG!-redaktrise, Erin Georgiou. Drie afsprake en ses dae later laai ek hom by die lughawe af, en ons albei weet sonder twyfel dat die Here ons vir mekaar bestem het. Hoe dit sou werk, het ons nie geweet nie. Maar die Here vra ons nie om te verstaan nie – Hy vra ons om te glo. Die weke ná ons ontmoeting was gevul met ure en ure se video-oproepe, baie gebed en gesprekke, en uiteindelik ’n besoek aan Amerika, waar ons verloof geraak het.
’n Hand uitgestrek oor die oseaan
Iewers tussen dit alles deur maak God my een oggend wakker met Jesus se woorde in Lukas 18:29-30: “Daar is niemand wat ter wille van die koninkryk van God afgesien het van huis of vrou of broers of ouers of kinders nie, of hy ontvang in hierdie tyd al baie keer soveel terug, en in die tyd wat kom, die ewige lewe.” In my geestesoog sien ek toe ’n prentjie van Jesus in ’n bootjie in die Atlantiese Oseaan, naby die rand van die vasteland van Afrika. Hy staan regop met sy hand uitgestrek na my toe en fluister: “Vat My hand, volg My.” Die kyk op sy gesig het my hart vasgevang – Hy het so lig en vry gelyk. Vreesloos.
Geanker in sy liefde
En hier is ek nou. Soos my vader Abraham vaar ek weer die onbekende in vol afwagting en die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan. Wanneer benoudheid my wil oorval, onthou ek Jesus se gesig – vreesloos. En ek onthou God se belofte in sy Woord: “Moenie bang wees nie,” sê Hy. “Ek is by jou. Moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.” Sy volmaakte liefde verdryf keer op keer elke laaste bietjie angs en vrees wanneer dit vatplek in my hart probeer vind. Sy liefde maak my braaf. Sy liefde anker my.
Totsiens JUIG!-familie
So, liewe leser, hierdie is my totsiens. Dit was ’n absolute voorreg om deel te kon wees van JUIG! en te sien hoe God maand ná maand wonderwerke doen om deur hierdie tydskrif sy Woord na die nasie uit te stuur. Julle getuienisse, my wonderlike kollegas, elke adverteerder, mede-werker en bedieningsvenoot wat werk tot sy eer het my diep geraak. Al was my seisoen hier kort, sal ek altyd daarna terugkyk met dankbaarheid. Mag Jesus altyd genoeg wees vir ons. Mag ons met harte vol geloof – al gaan dit soms gepaard met bewende knieë – moedig en luidkeels “JA!” antwoord op sy roepstem. Hy is ons hele lewe waardig.
LISA POLSON – joernalis by JUIG! Tydskrif.
Hierdie artikel is in die Junie-uitgawe van JUIG! Tydskrif.
Lees ‘n digitale weergawe van hierdie tydskrif:
joygifts.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 05/06/2025
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.