Geskryf deur: René Roux
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Die voorreg om te kan studeer, om jou kennis te verbreed, die regte vrae te vra om jouself te bevorder, die lekkerte van teorie en die praktiese leer, die kosbare oomblikke van studentwees – dit alles word verewig wanneer jy uiteindelik daardie graad in jou hand hou.

Die hartseer werklikheid
Dit is inderdaad ’n voorreg om te kan studeer. Maar die realiteit is dat dit vir baie jongmense nooit ’n moontlikheid sal wees nie. Dit is hartseer om te weet dat daar jongmense is wat nie daardie liefdevolle pediater sal kan word of daardie hardwerkende ambagsman of die kreatiewe juffrou wat lief is vir haar graadeenklas nie. Die rede waarom hierdie mense nooit die werksmag in hulle roeping sal kan betree nie, is omdat daar nie genoeg geld was om dit te studeer nie. Vir baie van hierdie jongmense met harte vol drome is daar eenvoudig nie genoegsame fondse in hul gesin nie. Daar mag verskeie redes wees, daar was al so baie kandidate wie se versoek tot verdere studies op ons paneel se tafel was wat enkelouers het, geen ouers het nie, ’n ouer verloor het of wie se ouers skielik onder enorme finansiële druk leef omrede ’n aflegging.

’n Kans op ’n beter toekoms
Dit is wanneer ’n mens weer opnuut besef dat die rentevrye studielenings wat die Studietrust van Solidariteit Helpende Hand aan verdienstelike studente toeken, meer as net ’n lening is – dit is ’n toekoms. Hierdie toekoms is slegs moontlik wanneer ’n gemeenskap saamstaan en sê: “Ons wil hierdie bekwame jongmense help om te gaan studeer, sodat hulle ons Suid-Afrika ’n beter plek kan maak. Sodat hulle die volgende dokter, juffrou, ingenieur en ook maatskaplike werker kan wees.”

Die voorreg om te kan studeer
Ek is self tans besig met verdere studies aan Akademia en kan so op my “ouer dag” getuig dat dit werklik vir my ’n groot voorreg is om my studies verder te neem, en ook dan meer te kan beteken in my pos by Solidariteit Helpende Hand. Om so op kampus te kan rondloop tussen dinamiese studente maak my trots om ’n Fontie te wees by Akademia. Dit maak my opgewonde oor die toekoms wat vir my voorlê. Ek wens dit vir elke mens toe.

Dankbaarheid en pleidooi
Die wete dat ons, deur die krag van die gemeenskap, al 7 000 studente kon help die afgelope 17 jaar met ’n totaal van R450 miljoen, bly steeds ’n gedagte wat my elke dag opgewonde maak oor die toekoms van ons land. Maar die feit bly staan dat daar steeds honderde studente is wat ons nie kon bystaan nie. Dit bly steeds ’n groot opdrag om seker te maak dat die publiek weet van die sukses-stories, maar ook dat daar regtig meer befondsing nodig is sodat studente ook die siklus van armoede waarin hulle tans verkeer kan verbreek. Daarom sal my dankie altyd hard-op gesê word, maar my pleidooi steeds wees om te dink aan dié wat ons moes wegwys.

Die droom bly dieselfde
Hierdie unieke waarde-aanbod van Solidariteit Helpende Hand is ’n volhoubare plan – die studente wat afstudeer, help weer die volgende student. Ons uitvoerende hoof sê altyd: “Die Studietrust bewaarheid drome, help studente om bepaalde doelwitte te bereik sodat hulle hul roeping kan uitleef. En terwyl baie dinge verander het, bly ons droom steeds dieselfde – elkeen wat wil studeer, moet kan studeer.”

Saam bou ons aan ’n helderder toekoms
Ons sê opreg dankie aan elke donateur, vennoot en spanlid. Ons sukses is ’n bewys van ons gesamentlike toewyding om ’n helder toekoms vir ons jongmense moontlik te maak. Ons is, soos elke jaar, tasbaar bewus van die Here se genade en guns op ons werk. Sonder die genade van God sal die werk van die Helpende Hand Studietrust geensins moontlik wees nie. Ons weet dat elkeen wat geroep is om nou hier te wees om die werk van die Here te doen, met opregte dankbaarheid en in verwondering voortgaan om te help bou. Ons bou in geloof verder.

RENÉ ROUX – bestuurshoof: Media, Solidariteit Helpende Hand

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 04/06/2025
Foto slegs ter illustrasie.

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here