Geskryf deur: Lourieke Haller Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Wat is meer eie aan ons as pap en wors, biltong en braai? Met Erfenisdag (Nasionale Braaidag) op 24
September net om die draai, is hier ’n paar verrassende feite oor die oorsprong van party van ons
geliefde kultuurskatte.
BILTONG (en DROËWORS)
Volgens weet.co.za, aanlyn ensiklopedie en e-naslaangids, is biltong afgelei van die Nederlandse woorde bil (vleis of kruis) en tong (strook). Die speseryhandel aan die Kaap (veral peper en koljander) het ’n groot invloed gehad op die ontstaan en maak van biltong – daardie geliefde vleisie wat gedroog en gestoor kon word sonder om sleg te raak – iets waarsonder die Voortrekkers en Boerekommando’s nie kon doen nie.
BESKUIT
Van toeka se dae af is beskuit die ideale kos vir mense wat ver moes reis. Volgens H.W. Claassens in Die geskiedenis van Boerekos 1652–1806 kom beskuit van die Franse woord, biscuit de guerre – brood wat twee keer gebak is. Gelukkig het ons ’n ver pad gekom van die harde, oneetbare gedroogde brood van meel en water wat die soldate destyds moes eet!
BOERETROOS
So genoem vanweë ons voorsate se groot voorliefde vir moerkoffie. Dié warm drankie het hulle veral versterk op die trekpad of gedurende die uitmergelende Anglo-Boere-Oorlog. Volgens wereldwyd.co.za het generaal Ben Viljoen in sy memoires oor die oorlog geskryf: “…almal weet dat dit ’n swaar beproewing is vir ’n Boer om sonder koffie te leef…” Die desperate Boere het mieliepitte op die kole gebraai en dan fyn gemaal vir hulle koppie “boeretroos”.
KONSERTINA
Ander name vir dié gewilde boeremusiekinstruments is krismiswurm of donkielong! Tog was die boere nie die eerste om die instrument hier te bespeel nie, maar die Zoeloes, (volgens navorsing van Jaco van Deventer, soos berig in die artikel “Nuwe dokumentêr: die geskiedenis van die konsertina” van Maroela Media). Die Duitsers het die eerste tipe konsertina in die 1800’s gemaak.
KOEKSISTERS
Dié bros, deegvlegsels met ’n soet, stroperige hartjie verskil van die koesister, ’n Kaaps Maleise lekkerny. Dié ovaal sister met ’n oliebolagtige tekstuur word gegeur met speserye en kry ’n klapper
lagie om.
MELKTERT
Volgens Hetta van Deventer-Terblanche, die koshistorikus, is ons melktert nie so eie aan ons as wat ons dink nie. Die Spanjaarde, Portugese en Franse het almal hulle eie weergawe. Volgens weet.co.za was die Nederlandse setlaars se Mattentaart, die voorloper tot ons melktert.
BOBOTIE
Die resep behoort glo nie slegs aan die Maleisiese slawe aan die Kaap, maar volgens navorsing van Volgens Hetta van Deventer-Terblanche kan nie een enkele kultuurgroep alleen aanspraak maak daarop nie. Die aanduiding is dat dit ’n Persiese, Romeinse Arabiese, Italiaanse en 17de Hollandse dis was; Hetta het talryke bobotie-tipe resepte in Middeleeuse Europese reseptemanuskripte gevind.
RUGBY
George Ogilvie, die destydse skoolhoof van Bishop’s College, het die eerste amptelike rugbywedstryd
in Suid-Afrika gereël tussen lede van die weermag en die staatsdiens. Die wedstryd is op 21 Augustus
1862 in Groenpunt in Kaapstad gespeel. Daar was Britte en Afrikaners onder die spanlede.
DIE SPRINGBOKKE
Menings verskil oor die herkoms van die naam, maar volgens een spruit dit uit die kommentaar van
die voormalige Springbokkaptein, Paul Roos. In 1906 moes die Suid-Afrikaanse rugbyspan per skip op
hulle eerste toer na Brittanje vertrek. Iemand het hom blykbaar gevra of die span gereed en fiks sou
wees ná so ’n lang seereis. Hy het na die manne gewys wat besig was om te oefen en gesê:
“Natuurlik sal hulle reg wees! Kyk, hulle spring rond soos ’n trop springbokke!”
PROTEA
Ons nasionale blom, die koningsprotea, blom reg deur die jaar en al brand dit in ’n veldbrand, spruit dit weer uit. In die 1800’s is die nektar van nog ’n protea, die suikerbossie, gebruik om medisinale stroop te maak – bossiestroop – vir hoes en borsaandoenings.
VELLIES
Die woord “velskoen” is deur Nederlandse setlaars aangeteken, maar volgens Khoisan-oorlewering het hulle egter so vroeg as 1 000 jaar vroeër reeds sulke leerskoene gedra wat uit een stuk vel gemaak is.
ROOIBOSTEE
Die bossie is in 1772 deur plantkundiges ontdek, maar die San het reeds die bossie vir sy medisinale
werking benut. Rooibos groei slegs in die Cederberg-streek van die Wes-Kaap – daar is al gepoog om
dit elders in die wêreld te verbou, maar die klimaat, grond en toestande is net nie bevorderlik
genoeg nie.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 22/09/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.