Geskryf deur: Katelin van Zyl  Artikelbron: incontextinternational.org

Op Vrydag, 20 Oktober, het Italië tydens ’n besoek aan Tunis ’n ooreenkoms onderteken om elke jaar sowat 4 000 werkers uit Tunisië aan te stel.

Italië se plan het ten doel om “reëlmatige” (wettige – in stede van “onreëlmatige”) migrasiekanale vir “gekwalifiseerde werkers” wat gewillig is om in Italië te werk, te skep. Italië het ook sy onderneming om Tunisië by te staan in die stryd teen mensehandelaars en om werksgeleenthede vir die jeug te skep, herbevestig. Dit volg op die Italiaanse parlement se onlangse goedkeuring van die omstrede “Cutro”-verordening om teen onreëlmatige migrasie op te tree deur ’n spesiale beskermingstatus, wat die Italiaanse owerhede aan migrante kan verleen wat nie vir asiel kwalifiseer nie, streng te beperk.

Tunisië is ’n bestemming en ook ’n deurgangsland vir baie migrante, asielsoekers en vlugtelinge, veral uit Afrika suid van die Sahara. Tesame met Tunisiërs, probeer baie van dié wat deur Tunisië gaan, Europa te bereik deur gevaarlike bootreise te onderneem oor die Middellandse See na nabygeleë lande soos Italië.

Italië het in 2023 dubbel die aantal seemigrante ontvang as in 2022 (140 000 tot dusver vanjaar, waarvan 91% na bewering via Tunisië gekom het). Hierdie getal sluit slegs diegene in wat dit tot by Italië se kus maak, maar baie meer mense word óf onderskep en teruggestuur na die land waarvandaan hulle gereis het óf hulle kom op die see om. Tunisië het gesê dit sal slegs die deportasie van Tunisiese burgers aanvaar wat ongeskik vir asiel bevind is, nie diegene van ander lande aan wie asiel geweier word nie.

Sedert 2014 was daar ’n aansienlike toename in die aantal mense wat Europa via verskeie roetes oor die Middellandse See en deur die Balkan-lande binnegekom het. Sommige lande soos Duitsland en Swede was aanvanklik verwelkomend teenoor die buitelanders uit Afrika en die Midde-Ooste, maar die instroming het ook populistiese protesaksies en die toenemende gebruik van teen-immigrante retoriek deur politieke rolspelers (veral aan die “regse” politieke kant) veroorsaak. Hulle het besorgdheid uitgespreek oor die voorsiende bedreiging wat migrante, asielsoekers en vlugtelinge vir Europa se ekonomiese-, kulturele- en sekuriteitsomgewings inhou.

Europese regerings beskou die invloei van migrante en asielsoekers as ’n probleem wat gestop moet word. Daarom het hulle die regerings van lande langs die Middellandse See, soos Libië en Tunisië, asook regerings van lande met groot deurgangspunte, soos Niger, befonds om die beweging van mense na Europa te help beperk. Hierdie strategie maak deel uit van wat as Europa se beleid van “grens-eksternalisering” beskryf word.

Europa is gekritiseer omdat hy dit al moeiliker maak om Europa op formele en informele maniere te bereik. Teen hierdie agtergrond van toenemende teen-immigrantesentiment en strenger beheerde grense, is hierdie nuwe ooreenkoms ten minste iets positiefs om te vier. Al sal dit sekerlik nie al die uitdagings en kwessies rondom migrasie en gedwonge verskuiwings oplos nie, sal dit ’n beduidende verskil maak in die lewens van ongeveer 4 000 werkers (en hul gesinne) wat jaarliks by hierdie ooreenkoms sal baat. Hopelik sal dit daartoe lei dat groter “formele”/“reëlmatige” kanale oop sal gaan vir die beweging van mense. Italië se ooreenkoms bied aan sommige verligting wat aan spesifieke kriteria voldoen, maar ’n ernstige bekommernis is die omstandighede van dié wat nie as voordelig vir die Italiaanse arbeidsmag beskou word nie, maar eweneens, of selfs meer kwesbaar is, en opsies benodig vir ’n veiliger en beter toekoms. Die Bybel sê ons moet omsien na die kwesbaarstes in ons samelewing, omdat dit belangrik is vir God en Hom behaag. (Sagaria 7:10; Jesaja 1:17-23; Jesaja 10:1-4; Jakobus 1:27).

Die Bybel is ook vol verhale oor migrasie – beide gedwonge en vrye keuse – en ons kan uit die gasvryheid leer wat talle stede en huishoudings aan die dag gelê het teenoor diegene wat onderweg was en behoefte gehad het aan ’n veilige toevlug. In Deuteronomium 10:12-21 koppel God versorging van die vreemdeling aan vrees vir die Here en om Hom te dien. Aan Israel het Moses gesê: “Wy jou aan Hom en moenie hardkoppig wees nie. Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie. Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere. Jy moet ook die vreemdeling liefhê, want jy was self ’n vreemdeling in Egipte. Jy moet die Here jou God eer, Hom dien en aanhang, en wanneer jy ’n eed aflê, moet jy dit in sy Naam doen. Jy moet Hom prys, want Hy is jou God en Hy het al hierdie magtige wonderdade wat jy met jou eie oë gesien het, vir jou gedoen.” Deuteronomium 10:16-21).

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat daar meer veilige, reëlmatige kanale vir migrante, asielsoekers en vlugtelinge oop sal gaan – nie net vir die beste “gekwalifiseerdes” nie, maar ook vir die mees kwesbares;
  • dat God die Kerk sal help om Hom te eer deur die mees kwesbares in die gemeenskap, insluitende weeskinders, weduwees en vreemdelinge, te versorg; en
  • dat diegene wat op plekke waar hulle nie wil wees nie vasgevang is, die Here se liefde, troos, hoop en genade sal ervaar.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 28/03/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here