Geskryf deur: Rene Roux; Solidariteit Helpende Hand
Wat ’n besondere week van geloof en diensbaarheid. Ons het pas ons Psalmsingende Kongres 2026 afgesluit drie dae waarin 550 personeel en vrywilligers van Solidariteit Helpende Hand, uit al die provinsies regoor Suid-Afrika, bymekaargekom het. Dit was werklik ’n Psalmsingende Kongres, waar ons deur die drie dae telkens weer teruggekeer het na die Woord van God.
Met elke opening, tussen toesprake en tussen sessies deur, het ons saam Psalms gesing. Te midde van vol programme, groot verantwoordelikhede en die druk van tyd, het ons telkens seker gemaak dat ons onsself weer anker in die Woord van God. Dit was vir my die goue lyn deur die hele kongres: dat ons, te midde van alles wat ons doen, nooit moet vergeet aan Wie ons dit opdra nie. Ons het saam gesing, saam gewerk, saam geluister en saam gedien, en deur alles heen was daar hierdie voortdurende herinnering dat dit wat ons doen, uiteindelik tot eer van God moet wees. Daar is ook ’n enorme groep mense wat agter die skerms gewerk het om seker te maak dat 550 mense vir drie dae goed versorg word en dat die kongres nie net suksesvol aangebied word nie, maar dat mense dit ook geniet. En dit is iets waarvan ons beslis kan sê ons het reggekry.


Ons het die eerste dag van die kongres afgeskop met ’n boodskap van ons uitvoerende direkteur, Hannes Noeth, uit Eksodus. Hy het gepraat oor hoe God die Israeliete saam met Moses uit Egipte gelei het, maar hoe Hy hulle nie op die kortste pad na waar hulle moes wees, geneem het nie. Hulle moes eers deur die Rooi See gaan, daarna deur die woestyn en verder verby die berg Sinai. God het hulle op die lang pad geneem na die land van Kanaan, want daar was dinge wat Hy hulle eers moes leer. Daardie boodskap het my diep geraak, want dit is so maklik om in ons eie lewens te dink dat die kortste pad noodwendig die regte pad is. Ons wil graag vinnig by die bestemming uitkom en ons wil graag hê dat dinge moet gebeur soos ons dit beplan het, maar soms vat die Here ons op ’n lang pad, omdat daar op daardie pad dinge is wat Hy ons wil leer. Soms is die woestyn nie ’n plek waar ons verlore is nie, maar ’n plek waar God besig is om ons voor te berei. Nie elke pad wat God met ons stap, is ’n kort pad nie, en soms is die langer pad juis die pad waarop Hy ons vorm, leer en voorberei vir dit wat voorlê.

En toe, aan die einde van hierdie week, sit ek Sondagoggend in my kerk in Moreleta Park, en die diens begin met ’n vraag wat my onmiddellik weer laat dink aan die beeld waarmee ons ons kongres begin het: “Is jy die Rooi See of die Dooie See?” Die Rooi See ontvang water, maar dit vloei ook weer uit. Die Dooie See ontvang, maar niks vloei daaruit nie. En skielik besef ek hoe mooi die Here hierdie hele week vir my aanmekaar geweef het. Ons het ’n kongres begin met die verhaal van die Rooi See ’n herinnering dat God ons soms op ’n lang pad neem en dat daar ’n doel is met die pad waarop Hy ons lei. En dan begin ons ’n nuwe week met dieselfde beeld van die Rooi See, maar nou met ’n ander vraag: Wat doen ons met dit wat ons ontvang?
Want dit is maklik om te ontvang. Dit is maklik om te leer, om te groei, om nuwe dinge te kry en om deur ander mense bedien te word. Die vraag is egter wat ons daarmee doen wanneer ons dit ontvang het. Mag ons nooit mense wees wat net ontvang nie. Mag dit wat God in ons lewens, in ons werk en in ons harte plaas, weer deur ons uitvloei na ander mense. Mag dit wat ons leer en ontvang het, iets word wat ander mense ook kan dra. Mag ons Psalmsingende dienaars van God wees wat nie net sing wanneer dinge goed gaan nie, maar wat selfs wanneer die dae lank is, wanneer die tyd druk en wanneer die pad soms langer is as wat ons gehoop het, vorentoe kyk, aanhou sing en aanhou dien. Maar daar was nog ’n ander gedagte wat gedurende hierdie kongres by my vasgesteek het, en dit het begin met die maande en maande se beplanning wat die kongres voorafgegaan het.
Wanneer jy ’n projek van hierdie omvang aanpak, moet jy jou drie kosbaarste hulpbronne ons mense, ons tyd en ons geld bymekaarbring en dit verantwoordelik bestuur. Daar was vergaderings, projekplanne, begrotings, logistiek, mense, tyd en eindelose klein besonderhede wat alles in plek moes val. Jy moet vooruit dink, jy moet moontlike probleme voorsien en jy moet seker maak dat elke persoon weet wat van hom of haar verwag word. Jy moet eenvoudig beplan, en jy moet tot op die been beplan, om seker te maak dat jy uiteindelik ’n uitnemende projek kan lewer. En toe, op dag een van die kongres, terwyl ek op pad was na die kerk waar ons die kongres gehou het, luister ek na ’n boodskap uit Eksodus 16 tot 29 op my podsendings in die motor. In hierdie gedeeltes verduidelik God vir Moses baie spesifiek hoe Hy wil hê die tabernakel gebou moet word. Dit is nie bloot ’n algemene opdrag om ’n tabernakel te bou nie. God gee vir Moses ’n baie duidelike plan. Hy verduidelik watter materiale gebruik moet word, hoe dit gebou moet word, waar elke onderdeel moet wees, hoe die verskillende dele bymekaar moet pas en hoe alles uiteindelik ingerig moet word.
En dit laat my wonder of God nie dalk ook vir ons hierdeur ’n les wil leer nie. Wanneer jy iets doen ter ere van My Naam, wanneer jy iets bou wat aan My toegewy is, behoort jy dit nie halfhartig te doen nie. Jy behoort te beplan, jy behoort vooruit te dink, jy behoort oor elke detail na te dink en jy behoort uitnemendheid na te streef. Die Here het vir Moses gewys hoe om stukkie vir stukkie, presies en doelgerig, ’n plek tot Sy diens op te rig. Alles het sy plek gehad en elke detail het saak gemaak. En dalk vra Hy dieselfde van ons in die werk wat Hy aan ons toevertrou. Beplan dit. Bou dit. Doen dit reg. Doen dit uitnemend. Maak seker dat dit wat jy bou, nie net iets is wat jy klaar kry nie, maar iets wat jy met trots voor God kan neersit en sê: Here, ons het dit gedoen met die beste van ons mense, ons tyd en ons hulpbronne, omdat ons glo dat dit wat ons doen tot eer van U Naam moet wees.
Ons kongres was bekend as ’n Psalmsingende Kongres, maar ons tema was “Welstand deur Werksyn , Plus Een.” Alles wat ons aanpak en alles wat ons doen, wil ons Plus Een doen. Ons wil een beter wees, een tree verder gaan en een vlak hoër beweeg. Ons wil meer uitnemend wees, meer doelgerig wees en meer daarop ingestel wees om dit wat aan ons toevertrou is, tot eer van God te doen. Terwyl ek op hierdie kongres gesit het, was ek ongelooflik trots. Nie net op die eindproduk wat 550 mense uiteindelik kon beleef nie, maar op elke stukkie beplanning wat daartoe gelei het. Ek was trots op elke persoon wat maande lank gewerk het, op elke afdeling van Helpende Hand wat ’n deel bygedra het, op elke detail wat iemand raakgesien het, op elke probleem wat vooruit voorsien en opgelos is en op elke persoon wat sy of haar deel gedoen het.



Want dit is hoe ’n groot projek uiteindelik suksesvol word. Dit is nie een persoon wat dit doen nie. Dit is elke persoon wat sy of haar deel doen, elke afdeling wat verantwoordelikheid neem en elkeen wat verstaan dat sy of haar stukkie deel is van iets wat groter is as onsself. Net soos Eksodus vir ons wys met die bou van die tabernakel: elke stukkie het sy plek, elke detail het betekenis en wanneer elkeen sy deel doen, word iets groter as onsself gebou.
Daarom is ek dankbaar vir hierdie kongres. Dankbaar vir die mense wat saam met ons gewerk het, dankbaar vir die vrywilligers en personeel wat van regoor Suid-Afrika bymekaargekom het, dankbaar vir die borge wat dit moontlik gemaak het en dankbaar vir elke persoon wat agter die skerms gewerk het om seker te maak dat alles in plek val. Maar bo alles is ek dankbaar vir die geleentheid om saam met soveel mense te kon werk, sing en beplan. Mag ons nooit ophou om uitnemendheid na te streef in dit wat God aan ons toevertrou nie. Mag ons mense wees wat nie net werk om ’n projek klaar te kry nie, maar wat werk om iets tot eer en verheerliking van God te bou. Mag ons mense wees wat dit wat ons ontvang, weer laat uitvloei na ander. Mag ons op die lang pad aanhou leer, aanhou groei en aanhou dien, met die wete dat die Here ook op daardie lang pad saam met ons is. Mag ons altyd nader aan Sy beeld probeer leef en mag ons altyd Psalmsingende mense wees, mense wat sing en dien, maar ook beplan, bou, werk en gee. Plus Een. Vir God.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Hoof foto en inhoud verkry deur Solidariteit Helpende Hand
Datum gepubliseer: 01/09/2026
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








