Verskaf deur FEBA Suid-Afrika
Artikel oorspronklik geplaas in die September uitgawe van JUIG! Tydskrif
Van ’n klein begin tot ’n uitgebreide bediening – FEBA Suid-Afrika is ’n lewende getuienis van God se onfeilbare goedheid.
“God doen wêreldwyd wonderwerke.” Wanneer dr Jurie Vermeulen hierdie woorde sê, praat hy uit persoonlike ervaring. As direkteur van FEBA Radio SA en ondervoorsitter van die moederorganisasie, die Far East Broadcasting Company (FEBC), het hy self gesien wat die Evangelie kan doen. Dit is hierdie oortuiging wat FEBC al 80 jaar lank en FEBA Radio SA reeds 30 jaar lank dryf om hulle oorspronklike opdrag uit te voer: om Christus deur die media na die wêreld te bring.
Die verlede lê die grondslag
Dit behoort niemand te verbaas dat FEBA Radio SA baie verhale het om te vertel nie. Wat met twee sendelinge uit die Verenigde Koninkryk begin het, het ontwikkel tot ’n ondersteuningskantoor met 12 radiostasies in ses Afrikalande, meer as 100 voltydse personeellede en talle vrywilligers.
Die fondamente van FEBA SA
In 1996 is Russell en Gill Ashley-Smith deur FEBA UK gestuur om ’n Suid-Afrikaanse kantoor te vestig en die bestaande groep van sowat 200 ondersteuners uit te brei. Die egpaar het die eerste twee jaar van die huis af gewerk, ’n databasis saamgestel en ’n netwerk van kontakte en vennote in Suid-Afrika opgebou. Toe hulle in 1998 na ander sendingvelde vertrek het, het FEBA Radio SA reeds ’n kantoor by die Melville Metodistekerk in Johannesburg gehad, met eerw. Petrus Moolman as plaaslike direkteur. In die 28 jaar daarna het FEBA sy eie hoofkantoor in Pretoria gebou, wat vandag nog gebruik word. Die organisasie het ook twee keer van leierskap verander: eers met eerw. Frik Veldman as direkteur in 2008 en daarna met dr Jurie Vermeulen in 2014. FEBA se rol het intussen uitgebrei van ondersteuning aan FEBA UK tot die vestiging en instandhouding van FEBA-radiostasies in Mosambiek, Malawi, Tsjad, Mali, Niger en Soedan.
Kyk terug met dankbaarheid
Met so ’n kleurryke geskiedenis is dit aanloklik om lank by die stories uit die verlede stil te staan. Hoewel FEBA met groot dankbaarheid terugkyk, bly sy blik egter stewig op die toekoms gerig. Hierdie boodskap was ’n sentrale tema tydens sy onlangse 30ste bestaansjaarvieringe.
‘Kom luister, almal wat vir God ontsag het’
Die eerste van twee vieringe het op 30 Mei by NG Lynnwood in Pretoria plaasgevind. FEBA se personeel en raadslede het saam met 178 ondersteuners byeengekom om te getuig van die wonderwerke wat God deur die bediening doen. Die tweede byeenkoms, wat op 6 Junie by NG Bellville-Riebeeck in Kaapstad gehou is, het op ’n pragtige wintersoggend 185 ondersteuners gelok. FEBA se jaarlikse getuienisbyeenkomste in Suid-Afrika bied ’n oorsig van die werk wat wêreldwyd gedoen word, maar hierdie keer was die fokus op Afrika. Baie het die voorreg gehad om eerstehands verhale van drie FEBA-direkteure uit die voorste linies te hoor: Godi Rabo van FEBA Niger, Ayata Aimé Palyo van FEBA Tsjad en Bright Sonjera van FEBA Mosambiek.
Toordery, weer en oorlog
Een ding het duidelik geword terwyl die drie mans gepraat het: Suid-Afrikaanse Christene lei gemaklike lewens. Soos dr Vermeulen dit gestel het: “Ons het geen idee hoe dit is om soos hierdie mense te leef nie. Ons kan dit nie begryp nie. Moenie eens probeer nie. Bid net.” Tans ervaar 32 lande in Afrika vernietigende konflik. Hongersnood, droogte, oorstromings en uiterste armoede – die mense van Afrika word van alle kante verdruk. En tog skyn die lig in die duisternis en kon die duisternis dit nie uitdoof nie.
Lig in Niger se duisternis
FEBA Niger se radiostasie staan as Radio Light bekend. Direkteur Rabo het in Frans gepraat met direkteur Palyo wat as vertaler opgetree het. Hy het vertel hoe luisteraars in sy land die Evangelie hoor en aanvaar, maar dit geheim hou om vervolging te vermy. Jongmense is bang dat hulle ouers hulle sal verstoot en dat hulle uit hulle gemeenskappe verban sal word. Die aantrekkingskrag van die Evangelie is te sterk om te weerstaan.
Een luisteraar, ’n man genaamd Mustafa, was voorheen ’n alkoholis. Toe sy pa sterf en ’n goeie erfenis aan hom nalaat, het hy dit verkwis. Hoewel hy goed opgevoed was, het sy drankmisbruik hom werkloos gelaat. Hy het op Radio Light gehoor dat Jesus enige kwaal kan genees. Hy het die stasie gekontak, tot geloof in Christus gekom en is genees. Direkteur Rabo het hom daarna in uitsaaiwerk opgelei. Vandag werk Mustafa vir ’n nasionale televisie-uitsaaier in Niger.
FEBC se missie om Christus deur radio wêreldwyd bekend te maak, het in 1946 begin toe medestigter John Broger na Sjanghai gevaar het om ’n Christelike radiostasie te vestig wat die Evangelie in China sou verkondig. Die plan het uiteindelik misluk. Hoewel FEBC vir ’n kort tyd programme vervaardig het wat deur bestaande Christelike radiostasies in Nanjing en Sjanghai uitgesaai is, het die opkoms van kommunisme en die kulturele revolusie John Broger en sy medestigters, Robert Bowman en William Roberts, gedwing om FEBC se hoofkantoor na die Filippyne te verskuif. Van daar af saai FEBC se radiostasies al byna 80 jaar lank die Goeie Nuus oor FM en kortgolf uit.
Die Evangelie word in Tsjad uitgesaai
FEBA se spanne help dikwels luisteraars in nood. In Tsjad word Christene in die suide verwelkom, maar in die noorde vervolg. Veral vroue word doodgemaak wanneer hulle besluit om Christus te volg. Die vrees is dat hulle kinders sal hê en hulle as Christene sal grootmaak. Een van FEBA Tsjad se omroepers, ’n jong vrou, was ’n Moslem toe sy na musiek op RACE FM, FEBA se radiostasie, begin luister het. RACE FM fokus sterk op kunstenaars en musiek. Die stasie gebruik ’n mengsel van sekulêre en Christelike inhoud om ongelowiges aan die Evangelie bekend te stel. Nadat sy na Christelike musiek geluister het, het sy haar geloof in Christus geplaas. Toe direkteur Palyo verneem dat sy werkloos was en nie uit haar omstandighede kon kom nie, het hy haar ’n pos by RACE FM aangebied. Daar saai sy nou die Evangelie in Arabies uit.
Uiterste omstandighede
Voordat direkteur Palyo hierdie verhaal by die Kaapstadse byeenkoms vertel het, het hy haastig sy baadjie aangetrek. Hy wou aanvanklik sy pragtige maar dun tradisionele hemp vertoon. Dit was egter te koud vir hom, het hy laggend gesê. Dit is geen wonder nie. Tsjad het gedurende die afgelope somer temperature van tot 55 °C ervaar. FEBA se radiostasie moes elke dag tussen 12:00 en 15:00 heeltemal sluit om die toerusting te beskerm en die personeel kans te gee om van die hitte te ontsnap. Hulle moes selfs die sonpanele met water afspuit om te keer dat dit oorverhit.
Oorwinning oor toordery in Mosambiek
Mosambiek ervaar ook uiterste weersomstandighede. Vroeër vanjaar het omroepers en luisteraars hulle huise in wydversprei-de oorstromings verloor. Swak oeste die afgelope paar jaar het ook tot ernstige voedseltekorte gelei. Lyding dryf baie mense in afgeleë gebiede na toordokters vir hulp. “Die toordokters,” het direkteur Sonjera gesê, “haat dit wat ons omroepers doen.”
Een toordokter het na FEBA se radiostasies begin luister om meer oor die omroepers uit te vind, sodat hy vloeke oor hulle kon uitspreek. Ná ’n tyd het hy die stasie besoek en vir ’n radiostel gevra. Uiteindelik het hy hom tot Christus bekeer en die Evangelie aan sy leerlinge in toordery verkondig.
Wonderwerk ná wonderwerk
Die een verhaal ná die ander getuig van veranderde lewens, genesing, vryheid en verlossing. Soveel wonderwerke vind in Afrika plaas dat dit ons aan hierdie Skrifgedeelte herinner: “As dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie” (Joh 21:25).
’n Oproep tot gebed
Saam met die verwondering en dankbaarheid wat die FEBA-direkteure se getuienisse gewek het, was daar ook verhale van vrees, lyding en lewensgevaar. Die dag voor die Kaapstadse byeenkoms het FEBA Soedan se stasiebestuurder laat weet dat skote rondom die stasie afgevuur is. Die koeëls het die gebou net-net gemis en in die mure van die nabygeleë skool vasgeslaan. Ondersteuners is opgeroep om vir hulle broers en susters te bid in lande waar lyding deel van die daaglikse lewe is. “As jy die Here ken,” het dr Vermeulen gesê, “het jy ’n verantwoordelikheid om te bid.”
Gebedsversoeke
Bid asseblief saam met ons vir ons personeel en luisteraars, asook vir die verspreiding van die Evangelie in Mosambiek, Malawi, Tsjad, Niger, Mali en Soedan. Direkteure Rabo, Palyo en Sonjera het die volgende gebedsversoeke gedeel:
- Dat Islamitiese terrorisme bekamp sal word en vrede in hulle lande sal kom.
- Dat hulle, hulle personeel en ander gelowiges die krag en wysheid sal ontvang om vervolging en openlike vyandigheid, veral van Moslems, te hanteer.
- Dat FEBA se personeel en luisteraars beskerm sal word teen die geweld van jihadiste en ’n nuwe groep in Mosambiek, die Naparama. Lede van hierdie groep het onlangs die 27-jarige Mariza Jauado Francisco vermoor. Sy het agt jaar lank as omroeper by FEBA gedien. Sy was by Impact FM aan diens toe ’n groep Naparama-lede opgedaag en geld geëis het. Toe sy vir hulle sê dat die stasie slegs Bybels het, het hulle haar doodgeskiet.
’n Hoopvolle toekoms
In die Bybel dui die getal 30 op ’n keerpunt. Dit was die ouderdom waarop Leviete vir diens in die tabernakel in aanmerking gekom het. Dit was ook die ouderdom waarop Josef onderkoning van Egipte geword het, Dawid koning geword het, Esegiël as profeet begin optree het en Jesus met sy openbare bediening begin het. In elke geval was daar 30 jaar van voorbereiding, gevolg deur ’n tydperk van diens. Ná 30 jaar van saad saai, sien FEBA Radio SA uit na ’n besige oesseisoen
Watter nuwe seisoen wag op FEBA radio SA?
Dr Jurie Vermeulen skryf: “Ek kan slegs die woorde van Jesaja 26:12 herhaal: ‘U regeer in vrede oor ons, Here, U doen alles vir ons.’ “FEBA Radio SA het die afgelope 11 jaar geweldige groei in sy bedie-ning in Afrika beleef – 12 nuwe radiostasies in baie onherbergsame lande, ’n bestendige daaglikse stroom getuienisse van veranderde lewens en ’n toename in belangstelling en ondersteuning van getroue vennote wie se gebede en bydraes dit alles moontlik maak. “Ons glo dat die beste nog voorlê! Die geleenthede wat voor ons lê, is veel groter as dit wat ons reeds bereik het. FEBA Radio se leierskap, insluitend die raad, verwag dat die werk onder God se leiding steeds geografies sal uitbrei. Daar sal terselfdertyd ’n groter klem geplaas word op die volle benutting van die geleenthede wat deur vinnig verbeterende internettoegang wêreldwyd gebied word. Vanaf 2026 sal ons ons aanlyn teenwoordigheid verder ontwikkel. Ons sal nie net ons aanlyn uitsendings uitbrei nie, maar ook digitale hulpbronne oor dissipelskap, geestelike groei en leierskapsontwikkeling skep. Dit is nie nou die tyd om huiwerig of bang te wees nie. Oral waar ons gaan, sien ons lande met oeslande wat ryp is en wag op dapper, vreeslose arbeiders met ’n hart vir verlorenes.”


Hierdie artikel verskyn in die September 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif. Lees die digitale weergawe van hierdie tydskrif hier: joygifts.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Hoof foto verkry deur oorspronklike artikel geplaas in die September uitgawe van JUIG! Tydskrif
Datum gepubliseer: 31/08/2026
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








