Geskryf deur Daniel Kolenda
Artikel bron: Christ for all Nations (CfaN)

Vyf jaar gelede het Christ for all Nations (CfaN) die Decade of Double Harvest aangepak. Die visie wat God aan my gegee het, was om CfaN se Evangelie-impak te verdubbel – van die 75 miljoen wat ons in die eerste meer as 40 jaar van die bediening getel het, tot 150 miljoen teen die einde van hierdie dekade. Baie mense het dit as onrealisties beskou – ’n onhaalbare droom. Maar God het vir ons ’n strategie gegee wat hierdie visie verseker.

God het my gewys dat dit nooit deur vermeerdering kan gebeur nie – soos om net elke jaar ’n paar ekstra veldtogte by te voeg nie. Hierdie visie kan net deur twee kragtige instrumente vervul word: vermenigvuldiging en samewerking.

Evangeliste deur opleiding
Eerstens het ons die CfaN Bootcamp bekendgestel om evangeliste, veral vir massaveldtog-evangelisasie, op te lei. Kort daarna het die CfaN School of Evangelism’ in verskeie lande begin, gevolg deur Fire Camps, werkswinkels in gemeentes en nou ook ons CfaN School of Ministry. Meer as 8 000 mense wat ons opleidings voltooi het, het reeds by die CfaN Evangelisasie-alliansie aangesluit, met nuwe lede wat weekliks bykom. Ons het verwag dat sowat 20% van die afgestudeerdes aktiewe evangeliste sou word – maar dit is nie wat ons sien nie.

Versprei soos ’n veldbrand
Ons sien mense wat onmiddellik begin om siele te wen, CfaN-stylkruistogte in hul eie lande aanbied, die Evangelie bring na plekke waar die Naam van Jesus skaars bekend is, gemeentes plant en plaaslike gelowiges toerus om dit in hul eie nasies te verkondig. Hierdie beweging versprei soos ’n veldbrand – ’n wêreldwye impak waarby ons skaars kan byhou. Juis danksy hierdie strategie het ons in 2025 alleen meer as 9 miljoen besluite vir Jesus aangeteken. In Julie het ons die mylpaal van 100 miljoen reddings oorskry – iets om te vier en God voor te loof – maar dit is net ’n mylpaal. Ons fokus is reeds op wat volgende kom…

’n Miljoen evangeliste uit Afrika
Sending
“Ons maak gereed vir die grootste oes wat die wêreld nog ooit gesien het.”

Voorbereid vir Jesus se wederkoms
Ek glo ons maak gereed vir die grootste oes wat die wêreld nog ooit gesien het. Ek is nie die enigste een wat tans ’n intense dringendheid ervaar nie. Dit voel asof gebeure versnel, asof die wêreld van een krisis na die volgende beweeg, asof ons op iets afstorm. Ek kan nie sê hoe die toekoms presies gaan ontvou nie, maar dit weet ek vir seker. Jesus kom weer en ons moet gereed wees.

In Matteus 24:14 staan daar: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.”

Groot Fire-konferensies in Afrika
Ja, dit is Christ for ALL Nations, en ons sien dit nou profeties ontvou, met CfaN-opgeleide evangeliste wat op ses vastelande bedien. Maar Afrika is en sal altyd ons hart bly. “Van Kaapstad tot Kaïro sal Afrika gered word” – Reinhard Bonnke se visie van ’n bloed-gewaste Afrika vorm die fondament van hierdie bediening.

Daarom is die volgende stap om oor die volgende vyf jaar doelbewus en intensief in die liggaam van Christus in Afrika te belê. Ons wil kerkleiers en evangeliste uit Afrika sien opstaan, opgelei word, toegerus word en gemotiveer word deur die krag van die Heilige Gees. Ons wil gemeenskappe en stede sien wat deur golf na golf van evangelisasie geraak word, lank nadat ons vertrek het.

Vanaf Nairobi, Kenia, sal ons groot konferensies in strategiese Afrika-stede aanbied. Terselfdertyd gaan ons Afrika-evangeliste oplei. Hierdie is ’n groot visie. Ons wil sien hoe een miljoen evangeliste uit Afrika toegerus en uitgestuur word na hul eie gemeenskappe.

’n Miljoen Afrika-evangeliste
Ons het reeds begin om plaaslike evangeliste op te lei wat die taal praat, die kultuur verstaan en plekke kan bereik waarvan buitestanders nie eens bewus is nie. Evangeliste wat nie weggaan nie, maar wat aanhou om hul stede vir Christus te bereik wanneer ons weer huis toe is.

Nie net is alles in plek om hierdie doel te bereik nie – dit het reeds begin. Dit is dieselfde visie, dieselfde strategie – om te vermenigvuldig en saam te werk.

GEREED VIR DIE FINALE OES
Ek glo dit is ’n God-gegewe plan om gereed te maak vir die finale oes voordat Jesus weer kom. Ons is nie net getuies van die geskiedenis nie – ons vervul saam profesie. Hierdie kan die generasie wees wat sien hoe die Evangelie aan elke nasie verkondig word. Dit kan selfs die geslag wees wat Jesus se wederkoms beleef.

Ons wil getrou en gereed wees. Ons wil ’n generasie wees van Heilige Gees-vervulde evangeliste wat met vuur hardloop, die kruis verkondig en die finale oes insamel. Van Kaapstad tot Kaïro, van Afrika tot aan die uithoeke van die aarde – die oes is NOU!


ELKE OOP DEUR HET VOORSIENING NODIG
Dankie dat jy saam met ons staan. Sluit vandag aan. Kom ons bring die oes saam in.
E-pos info@cfan.org.za


Hierdie artikel verskyn in die Februarie/Maart 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif. Lees die digitale weergawe van hierdie tydskrif hier: joygifts.co.za


Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 24/02/2026
Foto’s verkry deur oorspronklike artikel

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here