Geskryf deur: Geopende Deure
Geopende Deure Internasionaal het onlangs sy 2026 Wêreldwaarnemingslys (WWL) bekendgestel, wat ’n jaarlikse lys van die top-50-lande wêreldwyd is waar Christene die ergste vervolging vir hul geloof ervaar. Die lys skep bewustheid van die swaarkry waarmee vervolgde Christene elke dag gekonfronteer word. Noord-Korea beklee vir die vierde agtereenvolgende jaar die eerste plek op die Wêreldwaarnemingslys en vir die 24ste keer sedert die eerste WWL in 1993. Dit maak dit die gevaarlikste land in die wêreld om Jesus te volg. Kort op sy hakke, in die tweede plek, is Somalië, wat in dieselfde posisie as verlede jaar is en die land in Afrika met die hoogste rangorde is.
’n Lewensgevaarlike situasie
In Somalië, wat sedert 1993 in die toptien van die WWL is, is dit letterlik ’n saak van lewe en dood om Jesus te volg. Al-Shabaab, ’n gewelddadige Islamitiese militante groep, voer oorlog met die regering en beheer groot dele van die land. Die groep dwing ’n streng vorm van Sharia (Islamitiese wetgewing) af en is daarop uit om die Christendom in Somalië uit te wis. Somaliese Christene word dikwels summier doodgemaak. Christene word dikwels ook deur hul eie families en gemeenskappe vervolg. Om ’n Moslem te wees, is ’n kernaspek van die Somaliese identiteit en dit word as ernstige verraad beskou om dit te verwerp. Somaliese Christene is van die ergste vervolgde gelowiges ter wêreld. Daarom kom hulle net in klein, geheime groepe bymekaar. In hierdie vyandige omgewing is die lewe ondraaglik moeilik vir Aweis Ali, ’n Christenman van Somalië. Hy sê: “Toe ek besluit het om ’n Christen te word, is ek van my familie en stam afgesny. Ek was ’n uitgeworpene en daar was dreigemente teen my lewe.”
In Somalië is dit ’n saak van lewe en dood om Jesus te volg
Om samesyn te vind
Toe Aweis se ondergrondse kerk in Somalië tot 14 mense gegroei het, was dit een van die gelukkigste tye van sy lewe. Hy het Jesus jare lank alleen gevolg, in die geheim na radiouitsendings geluister en vurig gebid dat hy ’n ander Christen sou ontmoet. “Wat eens onmoontlik gelyk het, het moontlik geword omdat God daarin was,” sê Aweis. “Ek het iemand gehad saam met wie ek die Bybel kon bestudeer. Dit het gevoel asof die hele wêreld vir my oopgegaan het.” Maar binne twee jaar was dit alles verby … “Twaalf van die 14 mense in ons kerk is vir hul geloof doodgemaak,” sê Aweis. “Ons het geen twyfel gehad dat ons geteiken is nie. Jy kon in ’n kafee sit en jou ete geniet, en iemand kon skielik opdaag en probeer om jou te onthoof.”
Lewe in ballingskap
Die onophoudelike geweld het ’n groot tol op Aweis geëis en hy het besluit om Somalië te verlaat. Terwyl hy in ’n ander land herstel het, het hy die geleentheid gekry om ’n teologiese kollege by te woon. Dit het hom die krag en ondersteuning gegee wat hy vir sy bediening nodig gehad het. Vandag is Aweis ’n akademikus, produktiewe skrywer, Bybelvertaler en bedien hy steeds Somaliese gelowiges in die Horing van Afrika. Hy werk tans aan die Somaliese Bybelvertaling en ontwikkel dissipelskapmateriaal en leierskapopleiding. Ten spyte van voortdurende dreigemente is hy openlik oor sy identiteit en bediening.
Gebede en ondersteuning
Aangesien die vervolging van gelowiges vinnig toeneem, het vervolgde Christene soos Aweis jou gebede en ondersteuning nou meer as ooit nodig. Besoek opendoors.org.za om ’n GRATIS 2026 Wêreldwaarnemingslys-kaart en gebedspunte af te laai om vir vervolgde Christene te bid en die top 50-lande op die 2026 Wêreldwaarnemingslys te besigtig.

In Noord-Korea is dit só gevaarlik om Jesus te volg dat dit onmoontlik behoort te wees. Maar langs die grens wag evangeliste soos Cho om onder vlugtende Noord-Koreane te bedien. Sal jy hulle ondersteun?
Geopende Deure – Open Doors NPC
Bank: Nedbank
Takkode: 198765
Rekeningnommer: 113 750 4552 (Besigheid)
Verwysing: JA2602
Wees deel van God se onmoontlike plan. Versterk Christene en die Kerk in lande waar geloof onmoontlik lyk deur jou gebede. “… maar vir God is alles moontlik.” (Matteus 19:26)

Laai jou GRATIS Wêreldwaarnemingslyskaart en gebedspunte af en begin vandag nog om vir jou familie in Christus te bid.

Hierdie artikel verskyn in die Februarie/Maart 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif. Lees die digitale weergawe van hierdie tydskrif hier: joygifts.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 23/02/2026
Foto’s verkry deur oorspronklike artikel
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








