Geskryf deur: Hykie Berg
Op 10 Julie 1999 gaan laai my pa my af voor die deure van Stepping Stones in Kommetjie, Kaapstad, ’n rehabilitasiesentrum vir verslaafdes. Ek was angstig, kwaad en vol vrees. ’n Suster het my tas deursoek om te kyk of ek dalk dwelms ingebring het. Sy was ’n vrou vol liefde. Ek sal nooit vergeet hoe sy my met ’n drukkie verwelkom het nie en in my oor gefluister het: “Dit gaan ok wees; hierdie sal ook verbygaan.”
Die laaste skuilplek
Nadat ek ingeteken het, sê sy vir my ek moet met die trappe opgaan na my kamer toe en ’n lang, warm stort gaan vat, want die volgende paar weke gaan vir my hel wees met die onttrekkingsimptome. Wat hulle nie geweet het nie, is dat ek nog ’n bietjie heroïen in my skoene weggesteek het wat hulle nie gekry het nie. Ek het na my kamer toe gegaan, die deur agter my toegemaak en dit vinnig in die badkamer gaan gebruik.
Voor die spieël
Ek begin toe my klere uittrek om in die stort te spring. Teen een van die mure het daar ’n baie groot spieël gehang. Ek gaan staan toe nakend voor die spieël en kyk na myself. Daar was niks van my oor nie. Daar was geen lewe in my oë nie. Terwyl ek so na myself staan en kyk, doen ek toe maar wat seuns doen en wikkel my lyf van links na regs. Terwyl ek besig was om myself te vermaak, merk ek iets vreemds op: nou en dan flits ’n swart skaduwee in die spieël. Ek stap nader – verbeel ek my? – ek sit my hande teen die glas en besef met ’n skok: dis ’n eenrigtingspieël; die susters en die psigiater sit anderkant en lag nog die hele tyd vir my. Ek kon dit nie glo nie! Ek wou vlug!
Die kamer waarin hulle my gesit het, was waar verslaafdes gehou word om te monitor wanneer hulle deur erge onttrekking gaan. Ek skrik toe so groot en ’n warboel van emosies het van my besit geneem. Ek het skielik ’n ongelooflike woede ervaar! Ek het net daar begin vloek en skel, terwyl ek my klere aantrek en my tas weer pak. Ek besluit toe ek gaan nie daar bly nie. Ek het my tas gevat, die gang af gestorm, die telefoonboks uit sy skarniere uit geskop en by die trappe af gehardloop.
Woorde wat my stilmaak
Toe ek by die heel onderste trappie kom, vang my oog ’n klein gelamineerde papier wat teen die muur opgeplak is. Op die papier was die gemoedsrusgebed. Woorde het my nog nooit so hard tot stilstand geruk nie. In daardie oomblik het God my tot stilstand geroep. Ek het besef: Ek is waar ek is weens my eie keuses – niemand anders s’n nie. Die tyd vir blaam was verby. Dit was nie die skool, my verlede, my vriende, my ouers se egskeiding, die regering of die land nie. Ek kon niemand meer vir my foute blameer nie; die fout was by my.
Verandering begin by my
Ek het altyd eksterne dinge, gebeure en mense geblameer vir my gebrek aan vooruitgang. Skielik besef ek: Dis ek wat moet verander. As jy agt is, kan jy die blaam verskuif, maar as jy 28 is, kan jy nie meer nie. My keuses en denke het my lewe deurmekaar gemaak. Die wêreld verander nie; maar as ek verander, verander my wêreld. Dit begin by my.
Jesus wys die balk in my oog
“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar ’n balk in jou eie oog? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal” (Matt 7:3-5).
Verantwoordelikheid en identiteit
Op ’n bonatuurlike manier het God in daardie oomblik vir my die insig, wysheid en krag gegee om om te draai en terug te stap na my kamer toe. Dit was die dag, die oomblik, wat ek besluit het om persoonlike verantwoordelikheid vir my lewe, my besluite en my toekoms te neem. Daardie dag het ek die lyn in die sand getrek. Dit was my verantwoordelikheid om die waarheid oor my identiteit te ontdek, die valse vestings in my denke te identifiseer en God toe te laat sodat werklike transformasie kon plaasvind.
Herstel lê in jou hande
Jou herstelproses, jou toekoms, jou denkwyse, jou besluite, jou suksesse, jou vrede, jou gesondheid, jou verhouding met God – alles hang van jou af. Dit begin by jou. Hoe vinniger jy dit aanvaar, hoe vinniger sal jy op die pad van herstel wees. God het almal lief; dit beteken egter nie dat jy outomaties die volheid van sy beloftes en sy visie vir jou lewe sal beleef nie. Ek en jy dra ’n groot verantwoordelikheid vir hoe ons lewe uitspeel.
Keuses, pyn en nuwe lewe
Hierdie gebed het my hoeksteen geword en ’n lewensfilosofie gevestig: “Vir dinge om te verander, moet ek verander; vir dinge om beter te raak, moet ek beter raak; as ek meer wil hê, moet ek meer word, want as ek groei, groei alles rondom my.” Dis nie maklik nie – dit verg tyd, moeite, energie, sweet en trane. Daardie oggend het God my geleer wat persoonlike verantwoordelikheid beteken. Ek het vir myself gesê: “Hykie, as jy heroïenverslawing kan oorwin, kan jy enigiets oorwin!”
Hykie berg – akteur, aanbieder en sakeman. Besoek gerus www.hykieberg.com vir meer inligting.

Vir hulp rakende verslawing reik asseblief uit na ons:
Hope Again Wellness Center
Tel & 24-uur-WhatsApp:
078 233 4553/066 307 4952
e-pos: info@harc.co.za
hopeagainwellnesscenter.org

Hierdie artikel verskyn in die Februarie/Maart 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif. Lees die digitale weergawe van hierdie tydskrif hier: joygifts.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 24/02/2026
Foto’s verkry deur oorspronklike artikel
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








