Deur: Tinus Coetzee
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Eerstens wil ek graag die Here Jesus Christus bedank dat Hy my lief genoeg gehad het om my te red en dat Hy my hierdie geleentheid gegee het om my getuienis te deel. In Openbaring 12:11 (OV) staan: “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.” My hoop is dat hierdie getuienis mense nader sal bring aan die waarheid oor Jesus Christus en wat die Kruis vir ons almal beteken.
My lewe lank ’n ateïs
Ek was 44 jaar lank ’n ateïs wat in absoluut niks anders die mens as ’n vleeslike wese geglo het nie. Ek het geglo dat ons lewe, dan sterwe en vergaan om deel van die grond te word as voedingstowwe vir die plante en diere. Ek het wel geglo dat mense “goed” kan wees as hulle so sou verkies.
Drank, pornografie en partytjies
Ek was feitlik ’n alkoholis. In my geval was dit nie om elke dag te drink nie, maar hoevéél ek gedrink het wanneer ek partytjie gehou het. Vir my was dit niks om ’n bottel brandewyn uit te drink as opwarming vir wanneer die partytjie regtig begin nie. Ek het in daardie stadium ten minste twee tot drie keer per week só gekuier. Die uitdaging was om so vinnig moontlik uiters dronk te word. Ek het altyd gedink ek is die siel van die partytjie en dat geen partytjie die naam werd is as Tinus nie daar nie is!
Ek het tussen 20 en 40 sigarette per dag gerook; wanneer ek gedrink het, kon dit opskiet na 60. Ek was gek oor al die pornografievideo’s wat vriende daagliks vir my gestuur het en my gedagtes was so vol wellus dat ek nie kon wag om my daaglikse dosis pornografie te ontvang nie. Elke woord wat by my mond uitgekom het, was vieslik en ek was jaloers op elkeen wat beter as ek gevaar het.
Alles het oor myself gegaan
Ek het korrupte saketransaksies gedoen, was nie bang om mense om te koop nie en het ander tot my voordeel uitgebuit. Ek het my personeel sleg behandel en hulle so min as moontlik betaal vir die maksimum produktiwiteit. Ek het myself ten koste van ander verryk. Ek was hoogmoedig en verwaand en doof vir enige vermaning of teregwysing. Dit het alles oor ek en myself gegaan.
Aanbiddingsmusiek in die kroeg
Ek het een aand weer by een van my luide partytjies in my lapa saam met vriende gesit en drink, rook en vuil grappe vertel, toe my broer, Tjaart, aanbiddingsmusiek in my kroeg begin speel het. Jy sien, hy is lank voor my gered en so ook my vrou, Lisa. (Hulle het jare lank vir my bekering gebid.) Ek het my vererg omdat hulle die musiek opgesit het, maar het hulle daardie aand laat begaan, want ek was mellow, soos die mense dit noem, halfpaddronk. Toe gebeur die wonderlikste ding met my.
Tot in my kern geskud
Ek het die Heilige Gees vir my hoor sê: “Waarmee is jy besig, my seun?” Ek het gedink dit is net ’n simpel gedagte, maar toe hoor ek dit weer: “Wat doen jy, my seun?” Vir ’n ateïs, is so iets uiters vreemd. Ek het emosioneel geraak en geweet dit is Jesus wat met my praat. Hy het vir my gesê: “My seun, jóú lewer is mý lewer en jou longe is my longe; jou oë is my oë. Elke keer as jy na pornografie kyk, moet Ek saam met jou daarna kyk. Elke keer as jy drink, moet Ek saam met jou drink. Elke keer as jy rook, is my longe ook seer!” Dit het my tot in my kern geskud.
My lewe het verander
Ek het my glas brandewyn net daar oor my lapavloer uitgegooi en in my kop vir die Here belowe dat ek nóóit weer sal drink nie. Ná daardie aand het dinge in my lewe begin verander. Ek het nog ’n paar maande lank met rook gesukkel, maar het sedertdien opgehou rook, opgehou drink en ek draai telkens na Hom toe wanneer wellus in my gedagtes wil opkom. Die Here help my elke dag.
Hierdie is ’n baie kompakte weergawe van my getuienis. Daar is soveel meer om te vertel, maar ek kan getuig: Ek is gered, ek is gedoop en gedissipel. Dit is nou al ’n paar jaar later en my lewe verander steeds op ’n daaglikse basis. Ek is nou deel van ’n wonderlike kerk en ek het koning, priester en profeet van my huis geword. Ek kan nie wag om daagliks tyd in die Woord deur te bring nie, want dit gaan alles oor die verhouding met Jesus, wat my uit die duisternis na sy lig toe gebring het (Ef 5:8)!
TINUS COETZEE het onder leiding van die Heilige Gees ’n boek geskryf oor Openbaring wat verduidelik hoe naby ons aan die wederkoms van Jesus Christus is. Om dit te bestel kyk na die advertensie op bl.17. Tinus is beskikbaar as gasspreker: Vir besprekings kontak Lisa by lisacoetzee5@gmail.com
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 03/03/2023
Fotos verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.