Geskryf deur: Etgar Lefkovits, JNS.org
Artikelbron: unitedwithisrael.org

Verteenwoordigers van 14 Arabiese en Afrika-lande sal vandeesmaand in Jerusalem vergader vir die eerste Arabiese-Afrika-Israel-konferensie oor Midde-Oosterse veiligheid.

Die geleentheid kom tydens ’n diplomatieke toutrekkery in Afrika tussen ondersteuners en teenstanders van Israel wat in ’n openbare rusie ontaard het toe ’n senior Israelse diplomaat onlangs uit die Afrika-unie se jaarlikse beraad in Ethiopië verban is.

Volgende maand se drie dae lange konferensie, getiteld “Trusted Regional Partnerships at a Time of Shifting Alliances,” wat deur die Jerusalem-gebaseerde navorsingsinstituut, die Jerusalem Centre for Public Affairs (JCPA), gereël word, sal deelnemers van lande sonder diplomatieke betrekkinge met Israel insluit.

Die konferensie sal fokus op veiligheid, bestendigheid en samewerking, met samesprekings oor die 2020 Abraham-ooreenkomste, anti-radikalisme en voedsel- en watersekerheid. Dit sal ook twee dae se besoeke aan die nuutste Israelse tegnologiemaatskappye insluit.

Dit sal deelnemers van Bahrein, Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate, Ethiopië, Uganda, Djiboeti, Nigerië, Ghana, Kenia, Somalië, Soedan, Somaliland, Suid-Soedan en Suid-Afrika insluit.

“Die eerste Arabiese-Afrika-Israel-beleidsberaad ooit in Jerusalem is veral belangrik op ’n tydstip in die Midde-Ooste en Afrika wanneer Iran en sy Hezbollah -terreurgroepe state oral in die streek en Afrika ondermyn,” sê Dan Diker, die president van JCPA in ’n onlangse verklaring.

“Israel word deur sy Arabiese en Afrika-bure genader vir samewerking oor sleutelkwessies soos voedsel- en watersekerheid in ’n tyd van plaaslike onbestendigheid,” het hy bygevoeg.

Die deelnemers wat by die konferensie verwag word, sal beleidmakers van vooraanstaande dinkskrums van oral uit Afrika en die Golf insluit, asook hulle diplomatieke verteenwoordigers in Israel.

Uitnodigings is ook aan verteenwoordigers van Sierra Leone, Tsjad, Egipte, Mauritanië, Marokko en Rwanda gestuur.

Die Israelse premier, Benjamin Netanyahu, het die verbetering van Israel se betrekkinge met Afrika ’n belangrike buitelandse beleidsdoelwit gemaak.

Die JCPA het onlangs ’n paneel van Suid-Afrikaanse en swart Amerikaanse godsdiensleiers aangebied oor die hantering van antisemitisme en die apartheidslaster teen Israel. “In plaas daarvan om die Jode as individue of as klein gemeenskappies aan te val, is die aanslag teen die kollektiewe identiteit van die Joodse volk en veral die staat Israel,” het Amichai Chikli, die minister van diaspora-aangeleenthede, by die geleentheid gesê. “Hierdie apartheidsnarratief is een groot leuen en net soos die Sowjetunie sal dit in duie stort. Dit sal nie die toets van die tyd deurstaan nie.”

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 06/03/2023
Foto: Israelse minister vir diaspora-aangeleenthede Amichai Chikli praat met Suid-Afrikaanse en Amerikaanse godsdiensleiers by ’n geleentheid van die Jerusalem Sentrum vir Openbare Aangeleenthede. (Jerusalem Sentrum vir Openbare Aangeleenthede)

VRYWARINGJUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here