Artikelbron: morningstarnews.org
ʼn Jong Christen-vrou het onlangs die dood vrygespring. Die Pakistanse Christen, Saima Bibi (24) het saam met haar man op die plaas van haar twee Moslem-base gewerk toe een van hulle opgedaag het. Die man het haar woedend na buite gesleep en in die rigting van ’n elektriese kafsnyer gestamp. Sy het met haar kop op die roterende masjien te lande gekom en die grootste deel van haar kopvel verloor. Haar oor is ook afgeskeur en sy het beserings aan haar regteroog opgedoen.
Saima het verlede maand saam met haar man, Shahzad Masih, op die plaas van hul twee Moslem-base in Ram Diwali Chak-dorpie in die Faisalabad-distrik gewerk. Familielede het hulle op 12 April, die derde dag van die Moslem-fees van Eid Al-Fitr, kom besoek.
Masih se vrou was besig om vir hulle tee te maak toe een van die eienaars, Muhammad Mustafa, inkom en hulle skel omdat hulle nie besig was om voer vir die beeste sny nie, het hy gesê.
“Ek het dadelik opgestaan en die voer in die elektriese kafsnyer begin sny, maar toe my vrou uitkom om die tee te bedien, het Mustafa haar begin beledig en haar aangesê om te gaan werk,” het Masih aan Morning Star News gesê. “Toe Saima sê sy sal oor 10 minute begin werk, het Mustafa haar aan die hare beetgekry en na die kafsnyer toe gestamp…”
“Bloed het uit Saima se kop gevloei en sy het van pyn geskree en gehuil,” het Masih gesê. “Mustafa het haar in die poel bloed gesien en gevlug.”
Haar gille het ’n groot aantal dorpenaars na die terrein gelok, insluitend die ander baas, Muhammad Imran, wat haar in sy motor na ’n hospitaal geneem het. Met hul aankoms by die hospitaal het Imran hulle egter gewaarsku om vir niemand te vertel hoe sy beseer is nie.
“Imran het my met ernstige gevolge gedreig as ons nie sê dat die voorval die gevolg van ’n ongeluk was nie,” hetMasih gesê. “Saima het baie pyn gehad en my prioriteit was natuurlik om haar dadelik behandel te kry. Die dokters het haar noodhulp gegee en haar na die plastiese chirurgie-afdeling geneem, waar sy steeds behandeling ontvang.”
Masih het gesê hy het later probeer om ’n saak teen Mustafa by die Faisalabad-polisiestasie aanhangig te maak, maar beamptes het geweier om die saak te aanvaar.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 17/05/2024
Foto: Morning Star News
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.