Artikelbron: cvandaag.nl
Verlede week het 22 000 Christene van verskillende denominasies en streke in Indië vreedsaam in Delhi bymekaargekom om teen die toenemende vervolging van Christene in die land te betoog. Die betoging is georganiseer deur Christen-leiers van Delhi en die Hoofstad se streek, en is bygewoon deur jongmense, kerkleiers, menseregte-aktiviste, onderwysers, prokureurs, musikante en ander professionele persone van meer as 80 denominasies en Christelike organisasies.
Moeg vir diskriminasie
Die betogers het op beter toestande vir Christene aangedring en het gesê hulle is moeg vir die vlaag van antibekeringswette en beskuldigings van onwettige bekerings, asook vir bendes wat Christene uit hulle dorpe dwing en hulle eiendom vernietig. Die betogers was veral kwaad vir die regering, wat dikwels toelaat dat hierdie optrede plaasvind en dit soms selfs aktief aanmoedig.
Toenemende geweld teen Christene
Die betoging was daarop gemik om die aandag te vestig op die toenemende geweld teen Christene en hulle instellings en om ’n beroep op die regering te doen om hulle te beskerm. Baie betogers het wit gedra om vrede te simboliseer, terwyl ander tradisionele klere en swart armbande as teken van protes gedra het. Die protes het aanbiddingsliedere en bemoedigende tekste in verskeie tale en musiekstyle ingesluit.
Die betoging het ook ’n geleentheid vir Christen-leiers uit verskillende dele van Indië gebied om hulle verhale van vervolging te deel. Shivdesh (wat net sy voornaam gebruik het) het byvoorbeeld gedeel hoe hy verlede jaar 20 dae lank in die tronk aangehou is op aanklagte daarvan dat hy mense gedwing het om hulle te bekeer. Hy het die geweld beskryf wat hy en sy gesin verduur het toe hulle deur ’n verwoede skare aangeval is. Hy het ook getuig ook die daaropvolgende probleme wat hulle in die gesig gestaar het weens die owerhede se apatiese reaksie.
Skerp styging in voorvalle van vervolging
Die United Christian Forum (UCF) se blitslyn het slegs 142 geverifieerde voorvalle van vervolging teen Christene in 2015 ontvang. In 2021 het die aantal oproepe na die menseregtegroep egter tot 505 gestyg. UCF het verlede jaar 598 voorvalle aangemeld, en daar is reeds 57 voorvalle sedert Januarie 2023 aangemeld. Indië is 11de op die 2023 Wêreldwaarnemingslys van lande met die hoogste vlak van vervolging teen Christene, volgens Geopende Deure.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 09/03/2023
Foto ter illustrasie: unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.