Geskryf deur: Geopende Deure SA
Artikelbron: opendoors.org.za 

Digitale vervolging is ʼn groeiende metode om teen Christen-bekeerlinge en veral vroue te diskrimineer. Dit is een van die bevindings van ʼn nuwe verslag oor die geslagspesifieke godsdienstige vervolging van vroue deur die bedieningsorganisasie Geopende Deure Internasionaal, wat vervolgde Christene regoor die wêreld ondersteun en versterk.

Die verslag, getitel “A web of forces: The 2023 Gender Report”, is op Internasionale Vrouedag bekendgestel. Met die viering van Internasionale Vrouedag op Woensdag, 8 Maart, val die kollig opnuut op die lot van vroue en meisies – veral op die Afrika-kontinent.

Vroulike bekeerlinge tot Christenskap staar ʼn groeiende bedreiging rakende vervolging in die gesig: Dwingende beheer en monitering deur digitale toestelle. Volgens Geopende Deure se nuwe verslag word alledaagse items soos slimfone en tablette deur die gesinne en gemeenskappe van Christene gebruik om tred te hou van hul daaglikse lewens en dit te beheer.

Beheer deur digitale vervolging
Geopende Deure se vrouevervolgingspesialis, Elizabeth Lane Miller, sê: “Ons sien ʼn toename in families wat beheer oor hul vroulike familielede uitoefen deur hul bewegings te monitor, hul digitale items te konfiskeer en hul websoektogte te monitor. Die gevolge is dikwels gewelddadig en lei tot die beheer van hierdie vroue.

“Ons neem dikwels ons privaatheid as vanselfsprekend, maar hulle websoektogte en sosiale media-rekeninge word gereeld nagegaan – waarna hulle dan geïsoleer of gestraf word omdat hulle ʼn ander geloof ondersoek het.”

Belangrikste bevindings van die verslag
Die 2023-verslag toon dat Nigerië, Kameroen en Somalië die lande is waar om ʼn vrou te wees die grootste invloed het op ʼn Christen-vrou se ervaring van godsdienstige vervolging, grootliks weens kontekstueel-spesifieke en nou verweefde kulturele en konflikdinamika, wat geslagsgebaseerde geweld normaliseer. Die impak van vervolging se groot interaktiewe druk kan oorweldigend wees, en dit kan die stabiliteit van Christen-gesinne ontwrig en bedreig.

Sub-Sahara Afrika is die streek waar die ervaring van godsdienstige vervolging vir Christen-vroue die meeste deur hul geslag beïnvloed word. Amper al die lande in sub-Sahara wat deel van die 2023 Wêreldwaarnemingslys (WWL) se top 50 is, is onder die lande met die ergste geslagspesifieke ervaring van godsdienstige vervolging vir vroue.

ʼn Fundamentele mensereg
Geopende Deure se globale spesialis in geslagsvervolging, Helene Fisher, sê: “Godsdiens- of geloofsvryheid is ʼn fundamentele mensereg, en dit word geskend in talle van die lande waaroor ons verslag doen.

“Die ervarings van Christen-vroue en -meisies word deur hul geslag bepaal. Dit is geneig om in ʼn gefokusde manier te wees, wat die sterkpunte vernietig wat hulle in hul families verteenwoordig. Wanneer jy vroue en meisies se kwesbaarheid in manlik-gebaseerde samelewings in ag neem, gekombineer met hul gesinne se verwagtinge en wetlike beperkings, is daar ʼn web van druk wat nog meer gekompliseerd raak wanneer hulle kies om een geloof te verlaat en na ʼn ander een oor te skakel.”

Sahar, ’n Iranse Christen-vlugteling wat uit haar gesinshuis gegooi is en van haar twee jong kinders geskei is toe haar woedende man haar geloof ontdek het.

Belangrikste drukpunte wat Christen-vroue en -meisies beïnvloed
Christen-vroue en meisies wêreldwyd word dikwels vasgevang in ʼn besonder komplekse web van saamgestelde kwesbaarhede. Hulle is nie net kwesbaar as Christene in die Wêreldwaarnemingslys-lande nie, maar hulle addisionele geslagsbepalende kwesbaarhede oorvleuel en is tot ʼn groter mate in wisselwerking met mekaar as vir Christen-mans en -seuns in dieselfde konteks. In hierdie omgewings ervaar alle vroue wetlik en in die samelewing ʼn benadeelde status, bevooroordeeld teenoor hul gebrek aan opvoeding of ʼn verhoogde risiko van armoede.

Seksuele geweld word deurgaans gekies om Christen-vroue en -meisies regoor die wêreld te teiken. Seksuele geweld is dikwels slegs een deel in ʼn web van ander drukpunte soos sielkundige geweld, ontvoering, gedwonge huwelike en gedwonge godsdienstige kleredrag. ʼn Groot aantal kwesbaarheidsfaktore kan die weg baan vir gewelddadige vorms van geslagspesifieke godsdienstige vervolging – enigiets van ʼn gebrek aan wetgewing oor kinderhuwelike tot assosiasies met sekere soorte kleredrag wat op seksuele beskikbaarheid dui.

Die doeltreffendheid van seksuele geweld word ook toegeskryf aan die magdom van skadelike gevolge wat dit kan hê. ʼn Web van aandadige magte kan die impak daarvan vererger en tot ʼn verlies aan behuising, kos, toekomstige geleenthede en ʼn gemeenskap lei.
Een van die plekke waar die seksuele mishandeling van Christen-vroue verskuil is, is geteikende godsdienstige gemotiveerde ontvoering vir die doeleindes van mensehandel.

Top vyf drukpunte vir vroue
1. Seksuele geweld.
2. Gedwonge huwelike.
3. Fisiese geweld.
4. Opsluiting deur familie (huisarres).
5. Sielkundige geweld.

Lande-ranglys vir vroue
Uit die 20 lande waar geslag die grootste invloed op die vervolging van vroulike Christene het, is 12 van sub-Sahara Afrika, insluitende die vier lande bo-aan die ranglys: Nigerië, Kameroen, Somalië en Soedan.
In die noordelike dele van Nigerië, waar Christene alreeds uiterste vlakke van geweld ervaar, staar vroulike Christene veral hoë vlakke van ontvoering, gedwonge ontworteling, mensehandel, moord en seksuele geweld in die gesig. Geslagspesifieke geweld word hoofsaaklik deur Islamitiese militante aktiwiteite in die streek gedryf. Hoë vlakke van interne ontworteling kan ook die kwesbaarheid van Christen-vroue en -meisies vir ontvoering en seksuele geweld verhoog.

Ander lande van belang in die top 20:
• Indië en Pakistan, waar Pew Research, sowel as Solotaroff en Pande, aanhoudende en uiteenlopende vorms van geweld teenoor vroue en meisies rapporteer, teen die agtergrond van streekspesifieke tradisionele patriargale norme.
• Iran, waar betogings aangevuur deur die dood van Mahsa Amini in September 2022 terwyl sy in polisie-aanhouding was, aangehou volgens hijab-wette, die deurlopende geslagsverwante onregte uitgedaag het.
• Afganistan, waar Amnestie Internasionaal gedokumenteer het hoe die vordering wat rakende vroueregte gemaak is deur die Taliban omgeswaai is sedert hulle in Augustus 2021 weer aan bewind gekom het.

Midde-Ooste en Noord-Afrika
Volgens die sesde verslag oor geslagspesifieke godsdienstige vervolging, is die Midde-Ooste en Noord-Afrika (MENA) veral in Geopende Deure se WWL-navorsing geïdentifiseer as die streek waar digitale vervolging skerp toeneem. Digitale vervolging word deur gesinslede en gemeenskappe, sowel as regeringsamptenare, uitgevoer om digitale toegang te beheer en aktiwiteite in die daaglikse lewens van Christene te monitor.

In die MENA-streek is digitale vervolging ʼn moderne manier vir familielede om beheer oor vroulike Christene te versterk. Streeksdata onthul hoe die algemene beheer van vroue deur manlike familielede daartoe lei dat beheer oor vervolgde Christen-vroue se digitale lewens algemener voorkom as by Christen-mans.

Telefoonboodskappe, ligging-opsporing en sosiale media-rekeninge kan gemonitor word, en toestelle kan gekonfiskeer word as ʼn eerste stap van isolering en straf in lande soos Katar en Saoedi-Arabië. Die ontdekking van gesprekke via sosiale media, digitale Christelike hulpbronne of Christelike websoektogte op toestelle kan tot gewelddadige gevolge vir vroue en meisies lei.

Christen-vroue vanuit ʼn Moslem-agtergrond in die MENA-streek ervaar die grootste risiko vir gedwonge egskeidings en gedwonge huwelike. Die bedreiging van gedwonge egskeidings in MENA teiken bekeerlinge tot Christenskap, oorwegend Christen-vroue, eksklusief. Gedwonge huwelike word op dieselfde manier grootliks gekorreleer met Christen-vroue wat tot bekering gekom het.

Die verslag bevat ʼn gedetailleerde ondersoek oor die resultate vir die MENA-streek, met klem op die kompleksiteit wat Christen-vroue in die gesig staar, en die kollig val op digitale vervolging en die ervarings van bekeerlinge.

Christen-vroue vanuit ʼn nie-Christen agtergrond in MENA ervaar veral die risiko om in ʼn web van onderdrukking vasgevang te word weens hul geslag, geloof en ander sosio-kulturele en wetlike faktore in hul lewens wat kwesbaarheid skep. Navorsing wys dat die familiestandaarde van getrouheid en verbintenis in samelewings in die MENA-streek dikwels die grootste bedreiging inhou vir Christene wat vanaf Islam tot bekering gekom het.

Lynette Leibach, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, sê: “Die navorsingsverslag se analogie van vervolgingsdinamika tot dié van ʼn spinnerak is gepas omdat die verskillende drade elke aspek van die teiken se lewe kan beïnvloed – persoonlik, familie, gemeenskap, nasionaal – om te ontmagtig, te verswak en nakoming af te dwing.

“As ʼn vrou en ma, is dit inderdaad skokkend vir my dat geslagspesifieke taktieke op ʼn toenemende wyse teen vroue gebruik word. Deur Geopende Deure se vennote, is ons mikpunt om te verseker dat niemand alleen gelos word terwyl hulle hierdie realiteit in die gesig staar nie. Dit is ʼn groot uitdaging, met een uit elke sewe Christene wat vervolging ervaar. Dit vereis eenstemmigheid met die plaaslike Kerk.”

Meer oor die verslag
Die GSRP-verslag word sedert 2018 jaarliks vrygestel. Die 2023-verslag bevat data wat deur Open Doors World Watch Research verkry is vir die 2023 Wêreldwaarnemingslys. Streeksgebaseerde kundiges het die primêre data vanaf globale versorgers, kerkleiers, fokusgroepe en streekskundiges versamel. Geopende Deure se geslagspan het die data geanaliseer om te bepaal hoe Christen-mans en -vroue in hierdie lande verskeie vorms van druk ervaar, om die algehele vervolgingstendense volgens geslag uit te lig.

Meer inligting
“A web of forces: The 2023 Gender Report” kan hier afgelaai word: opendoors.org.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 09/03/2023
Foto verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here