Geskryf deur: Lisa Polson
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Ek gesels nou die dag met my verloofde oor iets waarmee ek die afgelope tyd worstel in my verhouding met die Here. “Ek moet net uit my gedagtes uit klim,” sê ek moedeloos. “Ek weet wat die Woord sê. As ek net my kop uit die pad kan kry…” Hy bly vir ’n oomblik stil en antwoord toe sagkens: “Dalk moet jy eerder jou gedagtes ondersoek en oplet waaroor jy mediteer.”

Die oorlog tussen jou ore
Jy het seker al die gesegde gehoor dat die grootste oorlog tussen jou ore plaasvind. Die mees uitdagende stryd wat ons almal voer, is nie teen eksterne omstandighede nie, maar teen ons eie gedagtes, vrese, twyfel en negatiewe selfspraak. Die Bybel vra ons nie om hierdie denke te verontagsaam nie, maar eerder om dit te vernuwe.

’n Koning wat Hom ontferm
Dit herinner my aan ’n storie wat my stiefpa graag vertel. Dit gaan oor ’n dogtertjie wat langs die pad in die modder lê. Sy is alleen, gebroke, verlate en sonder hoop. Op ’n dag ry ’n koning verby. Toe hy haar sien, word sy hart met deernis gevul. Hy beveel sy koetsier om te stop, verlaat die gemak van sy koets en stap deur die modder om haar self te gaan haal.
Hy tel haar saggies op en neem haar saam na sy paleis. Daar laat hy sy diensmeisies haar skoon was en vir haar pragtige, nuwe klere aantrek. Hulle maak vir haar die mooiste kamer in die paleis reg, gevul met alles waarvan ’n dogtertjie kan droom.

Nooit weer alleen nie
Daardie aand, toe die koning vir haar nagsê, kyk die dogtertjie met trane in haar oë na hom. Sy gooi haar arms om hom en fluister: “Dankie.” Hy glimlag en sê: “Jy is veilig hier. Jy is nou onder my sorg. Jy hoef nooit weer bang te wees nie.”

Terug na die ashoop
Die volgende oggend wag die koning vir haar by die etenstafel. Hy het spesiaal vir haar ’n feesmaal laat voorberei. Hy wag… en wag… maar sy kom nie. Uiteindelik stuur hy ’n diensmeisie om haar te gaan haal, maar haar bed is leeg. Die hele paleis word deursoek, maar sy is nêrens te vinde nie. Kon sy weggehardloop het? Maar hoekom sou sy?
Skielik storm die kok uitasem die kamer binne, met die dogtertjie aan sy sy. “U Majesteit!” roep hy uit. “Ek het haar gevind! In die binnehof, agter die kombuis… sy was besig om in die asdrom te krap vir oorskietkos.”

Laat die Woord jou denke vernuwe
Wanneer ons ons harte vir die Here gee, maak Hy ons nuut. Ons ontvang ’n nuwe identiteit in Christus, van weeskind tot koningskind. Maar ons het dikwels nog steeds ou denkpatrone (en gevolglik ou gedragspatrone) wat ons moet vernuwe met die Woord van God.

Ons moet gereeld ons gedagtes ondersoek en oplet waaroor ons mediteer. Ons moet bewus raak van die leuens en valse oortuigings wat ons gevange hou. Ons moet die Woord toelaat om ons denkpatrone te herskryf. So wen ons die oorlog tussen ons ore. So leef ons die oorvloedige lewe waarvan Jesus in Johannes 10:10 praat.

LISA POLSON – joernalis by JUIG! Tydskrif.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 10/04/2025
Foto slegs ter illustrasie.

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here