Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Volgens Alex Rosenberg, ’n filosofieprofessor aan Duke Universiteit, is sciëntisme die wêreldbeskouing wat alle ateïste deel. Dit is “die oortuiging dat die metodes van wetenskap die enigste betroubare manier is om kennis te bekom en dat die wetenskap al die betekenisvolle waarhede oor die werklikheid verskaf… Om wetenskaplik te wees, beteken eenvoudig dat ons wetenskap as ons eksklusiewe gids tot die werklikheid beskou.” Met ander woorde, volgens sciëntisme behoort godsdienstige of filosofiese oortuigings nie ons begrip van ’n bepaalde bewering te beïnvloed nie. Slegs wetenskap definieer die werklikheid.
Wetenskap as die enigste gesag
Aanhangers van sciëntisme glo dat wetenskap alleen betroubaar is, en dat slegs wetenskap antwoorde op morele vrae kan verskaf. Die gevolg van hierdie geloofstelsel is dat die ondersteuners daarvan, in hul ondersteuning vir byvoorbeeld aborsie, poog om ’n wetenskaplike basis te vind om te sê dat menslike embrio’s nie mense is nie; en hulle beskou genetieseseleksie-programme soos eugenetika as wetenskaplik geldig, ten spyte van die morele gruwel daarvan.
Toewyding aan wetenskap
Susan Haack, ’n filosofieprofessor aan die Universiteit van Miami, sê sciëntisme is “’n oordrewe vorm van onderdanigheid aan wetenskap, ’n oormatige bereidwilligheid om enige bewering wat deur die wetenskap gemaak word as gesaghebbend te aanvaar, en om enige kritiek op wetenskap of wetenskaplikes as antiwetenskaplike vooroordeel te beskou”. Sulke wetenskaplike ekstremisme kan beskryf word as ’n soort godsdienstige radikalisme. Trouens, sciëntisme word dikwels gebruik om die bestaan van God te ontken of weg te redeneer.
Die ironie van sciëntisme
Interessant genoeg gebruik die wetenskap dikwels dinge wat nie “wetenskaplik” is nie, soos introspeksie of geheue, om kennis te verskaf. Daarom kan ons tereg vra: Hoe kan niewetenskaplike waarnemings die voorstander van sciëntisme daartoe lei om die gevolglike hipotese as geldig te aanvaar? Wat is die grondslag vir wetenskaplike waarheid, as dit nie heeltemal deur suiwer wetenskaplike metings, sonder enige vooroordeel, bepaal kan word nie? Sciëntisme bring meer filosofiese vrae as wat dit beantwoord.
’n Selfverydelende filosofie
Een filosofiese kwessie wat geopper is, is die feit dat die tesis van die korrektheid van natuurwetenskap nie self ’n produk van natuurwetenskap is nie, dus voldoen dit nie aan sy eie kriteria nie. As ons nie wetenskaplik kan bewys dat sciëntisme waar is nie, hoekom moet ons dit in die eerste plek glo?
Wetenskap kan nie alles verklaar nie
Mense het morele en godsdienstige oortuigings. Net soos sciëntisme dit goeddink om homself te definieer met kennis van buite die wetenskaplike gebied, lig diegene wat nie aanhangers van wetenskap is nie, hul oortuigings in met kennis van buite die wetenskaplike gebied – naamlik godsdiens en filosofie. En daar is baie in die lewe wat nie wetenskaplik gemeet, gekwantifiseer of gedefinieer kan word nie – dinge soos vertroue, liefde en verhoudings val buite die gebied van wetenskap.
Evolusie teenoor die skepping
Die swakheid van sciëntisme kan gesien word in die debat tussen evolusie en kreasionisme. Nóg evolusie nóg kreasionisme kan bewys word deur gekontroleerde laboratorium-eksperimente deur gebruik te maak van goed gedefinieerde beginsels van die wetenskaplike metode; hoe kan ’n mens dan een van die twee verwerp bloot deur die toepassing van fundamentele oortui-gings? Sciëntisme berus op onbewysbare aannames, en tog maak dit gevolgtrekkings wat aanhangers daarvan as gunstig beskou, en Christene maak gevolgtrekkings deur gebruik te maak van waarnemings van lewe, gedrag en selfs denkpatrone wat deur die Heilige Gees beïnvloed is.
Die keuse tussen hoop en leegheid
Uiteindelik is sciëntisme, met sy oordrewe verheerliking van wetenskap, ’n godsdiens, net soos die Christendom ’n godsdiens is. Die een bied hoop vir die toekoms en ’n ewige lewe. Die ander nie. Wanneer die boek van die lewe oopgemaak word, sal jy wil hê dat jou naam daar gevind word. Dit is Jesus wat red, nie ons begrip van die wetenskap nie.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 11/04/2025
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








