Geskryf deur: TWR
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

In die klein dorpie Meapleu bring die onderrig van ’n nuwe godsdiens hewige weerstand mee. “Enige evangelisasiegroep wat besoek aflê, word met klippe weggejaag,” verduidelik sendelingpastoor Philippe Makaye, streekbestuurder vir die Facility Foundation Côte d’Ivoire, ’n vennoot van TWR. Radio-evangelisasie dring egter huise binne met behulp van die luggolwe en bereik selfs die mees weerstandige individue. Volgens Makaye se e-pos het hierdie benadering hele gesinne tot bekering gebring en die gemeenskap getransformeer.

“Wanneer die program begin, weet almal dat God met die dorp praat.”

Die Daniete van Ivoorkus
Die Daniete, wat byna 2 miljoen tel, woon hoofsaaklik in Ivoorkus, met kleiner gemeenskappe in Liberië en Guinee. In Ivoorkus identifiseer ongeveer ’n derde as Christene, waarvan sowat 15% evangeliese gelowiges is. In die buurlande is hierdie syfers selfs laer. Ten spyte hiervan hou die meerderheid steeds vas aan hul tradisionele etniese gelowe.

Verandering deur luggolwe
Meapleu is deel van ’n reeks dorpe in die 18-bergestreek in die weste van Ivoorkus, ’n gebied waar vreesgebaseerde godsdiensoortuigings oorheers het. Die Daniete het steeds volgehou in hul tradisies, maar sedert 2018 (toe TWR begin uitsaai het in sommige van die dorpe) het hul geloof en lewenswyse begin verander. “Een van die eerste dorpe wat die Goeie Nuus gehoor het, was Bampleu, naby die grens met Liberië. Voordat die Evangelie-uitsendings begin het, was daar ’n groot gevoel van onveiligheid en vrees onder die 475 inwoners,” sê Makaye. “Diefstal was algemeen in die dorp, tot so ’n mate dat sommige inwoners slapelose nagte beleef het.”

Plaaslike kerke en radiobediening
Ten spyte van die bestaande Christelike teenwoordigheid, is plaaslike kerke dikwels gelei deur onopgeleide predikante met beperkte Bybel-kennis. Die bekendstelling van TWR se uitsendings het ’n noodsaaklike bron vir hierdie leiers en hul volgelinge geword. “Almal het geluister,” sê Makaye. In die dorp se sentrale bymekaarkomplek, waar ’n radio en luidsprekers geïnstalleer is, het inwoners saamgekom om die uitsendings in die Dan-taal te hoor, Sondag- en Donderdagoggende, met heruitsendings in die aand.

Evangeliese impak
“Die 15 minute lange evangelisasieboodskappe is gebaseer op Bybelgedeeltes en maak luisteraars bewus van hulle behoefte om met God versoen te word,” verduidelik Makaye. Elke boodskap eindig met ’n oproep tot bekering. “Wanneer die program begin, weet almal dat God met die dorp praat,” sê hy. “Tydens die span se laaste besoek aan die dorp het die hele gemeenskap saamgedrom. Hulle het ons met gejuig en applous verwelkom.”

Getuienisse van transformasie
Die dorp se hoofman, Kpan René, ’n gereelde luisteraar, het aan sy besoekers vertel hoe die dorp getransformeer word. “Die vrees vir God is in baie mense se harte gewek en die gedrag van beide jongmense en volwassenes is besig om te verander,” sê hy. “Vandag is dit moeilik om gevalle van diefstal in die dorp te vind.” Inwoners sê dat Bampleu nou ’n rustiger en vreedsamer plek is as voorheen, en hulle skryf hierdie verandering toe aan die impak van die Woord van God. Mense in nabygeleë dorpe sien die verandering en word aangetrek daardeur. “Die hele dorp het nou die Persoon van Christus, sy sending en sy opoffering leer ken,” sê Makaye.

Masker-rituele
Intussen is die inwoners van Meapleu steeds toegewy aan maskers. Die Daniete se maskers verteenwoordig geeste uit die woud en word gedra tydens masker-rituele. Hierdie geeste kan vredeliewend of oorloglustig wees, maar bly geheimsinnig en onvoorspelbaar. Die tradisionele geloof van die Daniete sluit ook reïnkarnasie in. Dit is hierdie agtergrond wat die mense van Meapleu aanvanklik weerstandig teenoor die Evangelie gemaak het.

Verslae uit die streek is egter bemoedigend:
• Sewe lede van een gesin het op hulle radio na ’n lering oor bekering geluister. Al sewe het besluit om Jesus te volg.
• Bin-houye Radio, vernoem na die dorp waarin dit geleë is, het meer as 120 luistergroepe, waarvan sommige tot 200 lede het.
• Nog 32 luistergroepe het in Liberië ontstaan.
• Die stasie het ongeveer 50 000 gereelde luisteraars.
• In die dorp Wheleu het ’n gesin van vyf tot geloof in Christus gekom.

’n Oproep vir ondersteuning
Makaye pleit vir die verspreiding van meer radio’s om die reikafstand van hulle programme te vergroot. Hy beklemtoon die dringende behoefte aan verdere ondersteuning om hul missie te bevorder. “Radio-uitsendings help predikante om vinniger verlore siele vir Christus te wen,” sê hy. “Ons skat dat ons met ten minste 2 000 radio’s dorpenaars in naburige dorpies kan help om die Woord van God te hoor.”


HOOP KEN GEEN GRENSE NIE
Om die Goeie Nuus van Jesus Christus deur die radiobediening te verkondig, word moontlik gemaak deur die skenkings van ons ondersteuners. Oorweeg dit asseblief om hande te vat met TWR om die Evangelie te verkondig:

Transworld Radio South Africa
Standard Bank | Rekening: 011932945
Tak: 011545 | Verwysing: JUIG + jou naam

011 974 2885 | info@twrafrica.org | twrafrica.org

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 09/04/2025
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here