Geskryf deur: Mario Denton
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Uitbranding word gedefinieer as ’n toestand van liggaamlike, emosionele en geestelike uitputting wat veroorsaak word deur langdurige stres en deur jou te oorwerk. Dit kan enigiemand raak, ongeag hul beroep of lewenstyl. Hoewel die meeste mense verskillende grade van stres in hulle werk ervaar, veroorsaak uitbranding dat die persoon uitgeput voel op ’n liggaamlike, emosionele en geestelike vlak; dat daar uiteindelik min of geen energie oor is om produktief te wees nie.
Lesse te leer by Jesus en sy dissipels
In Markus 6 lees ons hoe Jesus die dissipels op ’n sending uitstuur. Kyk wat is sy reaksie toe hulle kom terugrapporteer: “Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: ‘Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie’” (Mark 6:30-31).
Het Jesus dalk hulle fisieke, emosionele en geestelike uitputting gesien en hulle toe na ’n stil plek geneem om te rus?
Lesse wat uitbranding ons leer:
1 Die lewe gaan oor balans, in alle emosies en alles wat ons aanpak.
2 Moet nooit waarskuwingsligte ignoreer nie.
3 Moenie mislukking met verskonings regverdig nie.
4 Fokus op die dinge wat jy weet jy beter kon doen.
5 Verandering is onvermydelik. Ons verander, al wil ons nie.
EVALUEER JOUSELF 1:
Hoe gereeld was jy die afgelope drie tot ses maande:
• in staat om irritasies in jou lewe te beheer?
• kwaad oor dinge buite jou beheer?
• ontsteld oor iets wat onverwags gebeur het?
Hoe dikwels het jy:
• gevoel probleme hoop so hoog op dat jy dit nie te bowe kan kom nie?
• senuweeagtig en gespanne gevoel?
• gevoel dat dinge volgens plan verloop?
• gevoel dat jy te veel hooi op jou vurk het en nie alles kan hanteer nie?
Vroeë waarskuwingstekens van werksuitputting:
Let op die volgende vroeë waarskuwingstekens: Ontpersoonliking (wanneer jy voel of jy buite jou liggaam is of voel dat dinge rondom jou nie werklik is nie, of beide); sinisme; afgetrokkenheid; hoër werksfrustrasie en prikkelbaarheid met gepaardgaande verlaagde werkstandaard; tamheid en uitputting; onbetrokkenheid en emosionele afstand rakende jou werk en verlaagde professionele doeltreffendheid.
Hoe sou sake daarna uitsien as jy jou verwagtinge vir die volgende ses maande drasties oortref het? Waarmee was jy besig toe jy in die afgelope ses maande rustig gevoel het? Aan wie en wat wil jy meer of minder tyd bestee? Dit is belangrik om te identifiseer wat die dinge is wat jou kognitiewe helderheid bied en dié wat jou energievlakke dreineer.

Ten opsigte van jou welstand, beveel ek sterk aan dat jy Markus 6:7-12; 30-31 stadig en verskeie kere LEES. (indien moontlik, hardop.) OORDINK die woorde. Luister aandagtig. Is daar een woord of frase wat vir jou uitstaan? Fokus op die woorde. Herhaal hulle. Laat God toe om met jou te praat. REAGEER in gebed. Vertel God wat jy dink oor wat jy gelees het, hoe dit jou laat voel. Vertel Hom wat jou troos en wat jou uitdaag. Vra vir sy hulp. RUS. Stop. Wees stil. Bestee tyd om in stilte net by God te sit. Nooi die Heilige Gees in en laat Hom toe om jou van binne af te verander.
Met verwysing na jou eie sending (reis):
• As jy vir Jesus sou vertel wat jy gedoen het, wat sou jy vir Hom sê? Hoe sou die gesprek verloop?
• Is jy ontvanklik om sy reaksie te hoor? Hoe voel jy oor ’n stil plek, en rus? Sal jy sy woorde aanvaar?
GEBED
Hemelse Vader, ons Skepper wat meer as in staat is om te voorsien in wat ons nodig het vir elke seisoen en situasie, ons erken U soewereiniteit. Dankie vir dit waarmee U ons toevertrou en wat U ons uitstuur om te doen. Mag ons getrou bevind word om dit uit te voer. Here, wanneer ons terugkom, bid ek dat ons na U stem sal luister en U uitnodiging sal aanvaar om vir ’n rukkie te kom rus. Mag ons verkwikking vir ons siele vind. In Jesus se Naam, Amen.
DR. MARIO DENTON – invloedryke internasionale sielkundige en dosent. Kontak hom by marden@mweb.co.za of +27 (0) 82 882 9903
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 20/04/2024
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.