Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Die volgende getuienis van ’n gewapende reaksiebeampte is onlangs in JUIG! Tydskrif gepubliseer nadat die leser by die tydskrif se kantoor ingeloer het om die getuienis met die personeel te deel:
“Ek werk as ’n gewapende reaksiebeampte by ’n bekende firma in ons area. Al kan die werk baie gevaarlik en stresvol wees, leer ek die mense in die omgewing ken en kry ek dikwels ’n geleentheid om met hulle te gesels en hulle te bemoedig. Die Here is ook getrou deur my te beskerm teen enige ernstige beserings. Ek is onlangs uitgedaag deur ’n preek dat God met ons praat en dinge vir ons het om te doen, maar ons hoor dikwels nie sy stem nie. Ek het besluit dat ek in daardie komende week na Hom sou luister.
Luister na die Heilige Gees se stem
“Dit was ná middernag, die strate was stil en die nag vir ’n verandering ’n rustige een. Ek was op ’n roetinepatrollie, maar het afgewyk van my gewone roete en by ’n ander straat af gery op pad om vir my ’n koffie te gaan kry by een van die vulstasies daar naby. Toe ek verby ’n park ry, sien ek die silhoeët van ’n donker figuur op ’n bankie. Ek het daardie sagte stem gehoor wat vir my sê om af te trek en ondersoek in te stel. Ek wou eers die stem ignoreer en het gedink dis net my eie gedagtes, maar het toe om die hoek gery, die voertuig geparkeer en teruggestap na die park toe.
Rig sy geweer op my
“Die figuur het my aanvanklik nie opgemerk nie, maar toe ek hom nader, het die man opgespring. Hy het ’n rewolwer in sy hand gehad en dit op my gerig. Ek sou normaalweg baie anders gereageer het, maar in plaas daarvan het ek geluister na die stem van die Here wat vir my sê dat Hy my sal beskerm; dat ek die man moet help.
God het my gebruik, Hy sal jou ook gebruik!
“Ek het kalm en bedaard met hom gepraat en daarin geslaag om tot by hom te kom. Ek het my arms om hom gesit en hom net omhels terwyl ek bid. Hy het begin snik. Nadat ek hom ontwapen en aangemoedig het om op die bankie te gaan sit, het hy vertel dat hy op die punt was om selfdood te pleeg. God het my daardie aand daarheen gestuur om hierdie desperate man se lewe te red!
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 03/03/2023
Foto slegs ter illustrasie. www.freepik.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.