Geskryf deur: Katelin van Zyl Artikelbron: www.Incontextinternational.org 

Die hoof van die Soedanse gewapende magte (SAF), generaal Abdel Fattah Burhan, het op Maandag 14 Augustus die Rapid Support Forces (RSF) in ’n rare televisie-onderhoud van oorlogsmisdade beskuldig.

In sy toespraak, ter viering van Soedan se gewapende magte-dag, het die generaal bevraagteken hoe die RSF en sy leier, Mohammed Hamdan Dagalo, kon dink dat oorlogsmisdade demokrasie sou kon herstel. Die paramilitêre mag is nie die enigste strydende party wat van oorlogsmisdade beskuldig word nie. Amnestie Internasionaal het bewyse gevind wat aandui dat die SAF ook skuldig is. Arabiese verdedigingsmagte is ook (naas die RSF) van gruweldade in die Darfoer-streek beskuldig, met geweld wat oënskynlik etnies gemotiveerd is. Human Rights Watch het Amerika en die Verenigde Nasies (VN) onlangs versoek om bykomende sanksies af te dwing rakende die individue wat vir die misdade in Darfoer verantwoordelik is en waarteen die regering nie sy mense kan beskerm nie.

Darfoer het ’n geskiedenis van gewelddadige volksmoord, wat teruggaan na 2003. Sommige analiste en oorlewendes beskou die huidige geweld in dieselfde lig. Die gruweldade wat gerapporteer is en hoofsaaklik mense in Darfoer teiken wat nie van Arabiese herkoms is nie, sluit summiere teregstellings, massagrafte en aan dat dorpe afgebrand word, in.

Historiese spanning tussen Arabiese en nie-Arabiese gemeenskappe word met grond- en waterdispute verbind. Voormalige president Omar al-Bashir word daarvan beskuldig dat hy dit uitgebuit het om politieke mag te behou. Tydens die burgeroorlog in Darfoer in 2003 het die toenmalige president al-Bashir die hoofsaaklik nie-Arabiese gewapende opstand bestry deur die werwing en bewapening van Darfoeri Arabiese verdedigingsmagte (bekend as Janjaweed). Hulle is in 2013 herstruktureer en gewettig as die RSF.

Terwyl die aantal ontheemde mense vier miljoen oorskry, met ongeveer 884 000 van hulle wat na naburige lande gevlug het, en meer as 20 miljoen mense wat hoë vlakke van voedselonsekerheid in die gesig staar, ontaard die toestand in die land in ’n humanitêre krisis. Ondanks diplomatieke pogings deur binne- en buitelandse rolspelers is daar geen teken dat die gevegte tot ’n einde gaan kom nie.

Die aanvang van die reënseisoen het ook kommer gewek dat daar ’n herhaling van verlede jaar se vloedramp kan wees. Stortreën het reeds meer as 450 huise in die noorde van Soedan vernietig. Benewens die risiko van verdere skade aan huise en infrastruktuur kan die swaar reën ook tot ’n verhoogde risiko ten opsigte van wanvoeding, ontheming en oordraagbare siektes weens virusse, bakterieë en parasiete lei. Talle mediese fasiliteite is nie in bedryf nie en hulpgroepe landswyd het met veiligheidsuitdagings te kampe, insluitende geteikende aanvalle en burokratiese hindernisse wat hul vermoë om hulp te verleen, aan bande lê. Die wêreldwye Kerk kan vir hulle beskerming en toegang tot hulpbehoewende gemeenskappe bid.

Die dodetal wat in Junie op ongeveer 3 000 gestaan het, is nie sedertdien aangepas nie. Burgerlikes wat nie in kruisvuur gesterf het nie, is dood as gevolg van die onvermoë om medisyne in die hande te kry of omdat hulle sonder kos in hul huise vasgekeer was. Talle liggame is nie begrawe nie en sommige lykshuise is verlate. As lyke wel begrawe is, is begrafnisse nie ooreenkomstig Soedanse Moslem-tradisies gehou nie. Christene kon ook nie begrafnisse volgens hul keuse hou nie. Talle mense wat gevlug het, het natuurlik hul werk en van hul besittings verloor. Daar is verslae van ontheemde persone wat met kreatiewe oplossings vorendag moes kom om hul gesinne in ’n nuwe omgewing aan die lewe te hou. Die wêreldwye Kerk kan bid dat God kreatiewe idees en gesonde oorlewingstrategieë sal inspireer en dat die gemeenskap na die mees kwesbares, insluitende bejaardes, gestremdes en weeskinders sal omsien. Daar is bemoedigende berigte van gelowiges wat steeds getrou dien, selfs in gebiede wat ernstig deur gevegte geraak word, soos in en rondom Khartoem, die hoofstad. Dit gebeur ondanks die fisieke, emosionele en geestelike tol wat die oorlog eis van elkeen wat familielede, vriende, huise en werke, sowel as algemene vryheid en die vermoë om veilig rond te beweeg, verloor het. Hulle vra vir gebed terwyl hulle byeenkom vir Bybelstudie, eredienste, gebedstye, aanbidding en gemeentelike samesyn.

Mag hierdie gelowiges vashou aan hul geloof en hoop in Jesus, en getuig: “Die Here is altyd op Sy troon; op Sy regterstoel is Hy steeds gereed vir die regspraak. Hy lewer ’n regverdige uitspraak oor alle mense, Hy vel ’n billike vonnis oor die nasies. Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here ’n toevlug, ’n skuilplek in tye van nood. Daarom vertrou almal wat U Naam bely, op U, want U, Here, laat dié wat vra na U wil, nie in die steek nie.” (Psalm 9:8-10).

Hy versterk die gees van diegene wat na Hom opkyk, en rus ons toe om die geestelike oorlog wat rondom en teen ons woed, te beveg met die gordel van die waarheid, die borsharnas van geregtigheid en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. Met die helm van verlossing op die kop moet Jesus se volgelinge daagliks die skild van geloof opneem om die brandpyle van die bose af te weer, en die geveg met die swaard van die Gees, die Woord van God, voer. (Efesiërs 6:10-18). Mag die wêreldwye liggaam van Christus onthou om ook vir hierdie gelowiges, wat in gebed volhard, te bid, en ook daaraan herinner word dat ons ook geestelike oorloë voer, selfs al sien ons nie ’n fisiese manifestasie van oorlog nie.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat God ’n deurbraak in vredesonderhandelinge sal bewerkstellig en ’n einde aan die wetteloosheid en genadelose geweld sal bring;
  • dat God noodlenigingsgroepe in staat sal stel om diegene in nood by te staan en dit vir mense moontlik sal maak om vir hul gesinne te voorsien; en

dat die Kerk in Soedan vertroos, versterk en beskerm sal word en volhardend en vrugbaar sal wees terwyl hulle God in buitengewoon uitdagende tye dien.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 19/08/2023
Foto slegs ter illustrasie: unsplash.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here