Geskryf deur: Ds. Schalk Strauss
In Suid-Afrika is ons baie bekend met “bakhandmentaliteit”. Dit word dikwels kreatief op emosiebelaaide plakkate met hartroerende verhale, pleidooie en seënbedes neergepen. Daar is sekerlik uitsonderings, maar oor die algemeen is dit ’n ingesteldheid wat van die veronderstelling uitgaan dat die wêreld my iets skuld. Dit ontvang graag, maar is nie regtig bereid om iets te gee nie.
Die hartseer werklikheid is dat hierdie mentaliteit nie net op straathoeke staan nie, maar dikwels ook in die kerkbanke sit. Hoe baie hoor ’n mens die opmerking: “Ek kry niks by hierdie kerk nie.” Hoewel ’n mens onder sekere omstandighede begrip het vir so ’n opmerking, getuig dit oor die algemeen van ’n verkeerde kerkbegrip. Mense sien dikwels die kerk as ’n instansie wat veronderstel is om húlle behoeftes te dien: Hulle soek goeie preke wat hulle beter oor hulself laat voel; hulle wil oor die erediens voel soos oor ’n goeie kunstenaar se konsert – waarde vir geld; hulle soek beradingsdienste in krisistye – huweliksbevestigers, predikers tydens begrafnisse en maatskaplike dienste op aanvraag. Dit is ’n ingesteldheid wat voortdurend vra: Wat gee die kerk vir my? Wat doen die kerk vir my? Dit beskou Christenskap en kerklidmaatskap as ’n soort ruiltransaksie waar ek verkieslik meer moet uitkry as wat ek insit. Die boodskap van Kersfees help ons egter om hierdie ingesteldheid met dié herinnering reg te trek: Dit is saliger om te gee as om te ontvang (Hand. 20:35b).
Kersfees: God gee Homself
In hierdie uitgawe val die fokus op die profetiese uitspraak in Jesaja 9:5: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors …”
Die teologiese rykdom van hierdie uitspraak word deur ons skrywers ontgin deur die ryke betekenis van die spesifieke aspekte van die profesie na die oppervlak te bring. Een van die aspekte wat Jesaja beklemtoon, is die feit dat die beloofde Kind aan ons “gegee” is. Die gawe van hierdie Kind lê nie soseer in die feit dat Hy ’n geskenk aan die wêreld is soos ’n eersteling vir ’n jong ouerpaar nie, maar in die feit dat God Homself in hierdie Kind aan ’n in-sondegevalle-wêreld gegee het.
Dit is belangrik dat ons sal verstaan wat dit beteken dat Hy Homself só aan ons gegee het. Eerstens het Hy nie iets gegee waarvan Hy te veel gehad het nie. Christus, wat in die gestalte van God was, het Homself “ontledig” deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem (vgl. Filip. 2:6-7). Hy het Homself dus volledig vir ons gegee. Hy doen dit vrywillig omdat Hy ons liefhet (vgl. Joh. 3:16).
In Johannes 10:18 verklaar Christus dat niemand sy lewe by Hom afneem nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Aan die kruis voeg Hy die daad by die woord toe Hy met ’n groot stem uitgeroep en die gees “gegee” het (vgl. Mt. 27:50). Dit is juis aan hierdie onselfsugtige selfoorgawe wat Paulus ons herinner as hy skryf dat Christus Homself as ’n slagoffer tot ’n lieflike geur vir ons “oorgegee” het (vgl. Efés. 5:2). Sy doel met hierdie selfoorgawe was natuurlik ons redding, maar ten diepste was dit om die eer van God te herstel. Hy gee Homself vir ons oor om ons van alle ongeregtigheid te verlos sodat ons vir Hom ’n volk kan wees – rein en ywerig in goeie werke (vgl. Tit. 2:14).
“Hierdie gesindheid moet in julle wees”
Só moedig Paulus ons in Filippense 2:5 aan. Wie waarlik die grootsheid daarvan beleef dat God Homself aan ons geskenk het, bly nie onaangeraak daardeur nie. Dit is ’n geskenk wat jou nie net aan die hart ruk nie, maar wat die hart uitruk. Dit is ’n geskenk wat nie net die hartsnare roer nie, maar wat ’n nuwe hart inplant wat ’n ander deuntjie sing (vgl. Eség. 36:26). Wanneer dit gebeur, herinner Kersfees ons nie net daaraan om te gee nie, maar dring dit ons om onsself te gee.
In dankbare verwondering gee ek myself aan God oor as ’n lewende, heilige en God welgevallige offer (vgl. Rom. 12:1). Dit gaan nie meer oor my nie, want ek verloën myself en is bereid om my kruis op te neem en Hom te volg (vgl. Lk. 9:23-24). Ek leef immers nie meer nie, maar Christus leef nou in my en wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het (Gal. 2:20). Hierdie selfoorgawe impliseer ook dat ek myself aan my naaste gee, want hulle wat God liefhet, het ook mekaar lief (vgl. 1 Joh. 4:11). God het hierdie gesindheid van selfoorgawe gebruik om te sorg dat die eerste gelowiges versorg was. Hulle was een van hart en siel en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie … niemand onder hulle was behoeftig nie (Hand. 4:32-35). Hierdie oorgawe behoort volledig en sonder voorbehoud te wees omdat Hy ons eerste liefgehad het (1 Joh. 4:19).
’n Tasbare gawe
Toe God Homself in Christus aan ons gegee het, het Hy dit op ’n baie konkrete manier gedoen – die Woord het vlees geword (vgl. Joh. 1:14). Daarom moedig Jakobus ons ook aan om ons liefde en selfoorgawe konkreet te maak en die behoeftiges nie net weg te stuur met die wens dat hulle versorg sal word nie, maar inderdaad in hul behoeftes te voorsien (vgl. Jak. 2:15-16). Wees betrokke by die kerk van Jesus Christus soos dit tot uitdrukking kom in jou plaaslike gemeente. “Kerk” is nie ’n gebou nie – dit is mense, gelowiges.
Om dus by die kerk diensbaar en betrokke te wees, beteken om aan medegelowiges diensbaar en in mekaar se lewens betrokke te wees. Leer ken mekaar. Deel jou laste sodat ons mekaar daaraan kan help dra.
Gee jou gawes. Lees gerus weer Exodus 35:1-36:7 om iets hiervan te verstaan. Die volk se hart het hulle opgewek. Wie deur die Gees met kunsvaardigheid geseën is, het hul gawes in diens van God gestel. Ander het gegee wat nodig was – so oorvloedig dat hulle later gestop moes word. Daar was geen murmurering nie. Geen klagtes oor die kerk wat “al weer geld wil hê” nie. In Handelinge 9:36-39 lees ons van Tabíta se oorvloedige goeie werke en aalmoese. Sy het haar tyd en gawes gebruik om klere vir behoeftige weduwees te maak (vgl. Hand. 9:36-39). Paulus dank ook die gemeente wat hom ten spyte van hul diepe armoede, met middele vir sy bediening bygestaan het. Hul optrede getuig van “ryke milddadigheid” wat hulle gedring het om self “bo vermoë” te gee (vgl. 2 Kor. 8:1-5).
Tyd is ’n kosbare kommoditeit waaroor mense deesdae baie jaloers is. Daar is egter min dinge kosbaarder om te gee: tyd met jou geliefdes, tyd saam met die eensames, tyd vir ’n koninkrykprojek, tyd om vir ander te bid en saam met hulle hul laste te dra, tyd om ander te leer en dit wat jy weet ook aan ander toe te vertrou. Saam met tyd, loop die gawe van gasvryheid. Petrus roep ons op tot gasvryheid sonder murmurering (1 Petr. 4:9). ’n Huis wat vir ander oopstaan, is ’n huis waarin daar mildelik gegee word.
Slot
Die boodskap van Kersfees is ’n kragtige teenvoeter vir ’n bakhandmentaliteit. God wat die wêreld so liefgehad het dat Hy sy eniggebore Seun daarvoor gegee het, dring ons deur sy Gees om onsself in antwoord op sy liefde aan Hom en ons naaste te gee. Ons gee nie die afvalstukkies van onsself, ons tyd of ons gawes, nie. Soos Hy Homself volledig vir ons gegee het, gee ons onsself volledig aan Hom. Soos die brandoffer van die Ou Testament wat volledig uitgebrand is (vgl. Lev. 1:9), plaas ons onsself op die altaar van die lewe om onsself in volle toewyding aan God en ons naaste te gee.
“My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid” (1 Joh. 3:18).
Foto slegs ter illustrasie.
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








