Artikelbron verskaf deur: TWR Africa

In ’n land wat bekend is vir vrede en stabiliteit, was die geweld wat tydens Tanzanië se verkiesing op 29 Oktober uitgebreek het, skokkend.

“Ons geliefde nasie … het skrikwekkende vlakke van geweld en vernietiging beleef,” het die bestuurder van ’n TWR-vennoot radiostasie in die land geskryf.*

Maar wat die mens ten kwade bedoel, kan God ten goede gebruik (sien Gen 50:20).

“Uit ervaring hier in Afrika weet ek dat wanneer vrede versteur word, wanneer mense onseker voel, daar ’n groter ontvanklikheid vir die Evangelie is,” het Egide Bandyatuyaga, TWR Oos-Afrika se bedieningsdirekteur, gesê. “In die geestelike sfeer soek mense veiligheid en beskerming.”

In die verkiesing op 29 Oktober het die sittende president, Samia Suluhu Hassan, met 98% van die stemme gewen, het Christianity Today berig. Ná die verkiesing het daar geweld uitgebreek tussen die polisie en betogers in Dar es Salaam en ander groot stede.

In ’n verslag wat op 21 November uitgesaai is, het CNN beweer dat die polisie mense wat by die betogings betrokke was, met dodelike geweld aangerand het en dat liggame in massagrafte gevind is. President Hassan het erken dat daar ongevalle was en het ’n kommissie aangestel om die saak te ondersoek, maar haar regering het die CNN-verslag as bevooroordeeld en misleidend beskryf.

Tydens die ergste stadium van die betogings het die regering die kommunikasienetwerke afgeskakel, en die land was vir ’n week sonder internet. Maar die bestuurder van ons vennootstasie en sy gesin was veilig, en “ons radiostasie het aanhou uitsaai en die Evangelie en boodskappe van hoop aan ons luisteraars verkondig,” het hy gesê.

Hoe om te bid
Ons vennoot en Bandyatuyaga vra dat gelowiges regoor die wêreld vir Tanzanië sal intree in hierdie moeilike tyd. Bandyatuyaga stel voor dat ons só bid:

  • Bid dat veiligheid vinnig herstel sal word en vir alle mense. Mag die politieke leiers ’n pad vind om hul verskille op ’n vreedsame manier op te los wat veiligheid en regte vir almal verseker.
  • Bid dat kerke en Christelike bedieninge ’n boodskap van vrede en versoening sal verkondig.
  • Bid dat families wat geliefdes verloor het, troos by die Here sal vind. Mag die Here ook in hul behoeftes voorsien.
  • Bid dat radiostasies mense sal bly bereik met die liefdevolle boodskap van God en dat Hy hulle sal gebruik om nóg mense na verlossing te lei.

 *Weens veiligheidsredes identifiseer ons nie die stasie of die bestuurder nie.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.

Datum gepubliseer: 2/12/2025
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here