Geskryf deur: Katelin van Zyl
Artikelbron: www.incontextinternational.org
Op Donderdag, 26 Oktober – Ethiopië se jaarlikse herdenking van Nasionale Weermagdag – het die eerste minister, Abiy Ahmed Ali, in ’n toespraak bevestig dat Ethiopië nie geweld sal gebruik teen buurlande in die Horing van Afrika om direkte toegang tot ’n hawe in die Rooisee te verkry nie.
Hy het vroeër in die maand gesê dat vrede in die streek ’n “gebalanseerde wedersydse deelname” tussen Ethiopië en sy bure vereis en het sy kommer uitgespreek dat die onvermoë om toegang tot die oseaan te verseker (in een van die wêreld se besigste seeroetes), tot konflik kan lei. Sedert Eritrea in 1993 sy onafhanklikheid van Ethiopië bekom het, het Ethiopië op Djiboeti se hawe staatgemaak vir sy in- en uitvoere. Eritrea, Somalië en Djiboeti, wat elk sy versoek om onderhandeling oor direkte toegang verwerp het, het Abiy veroordeel dat hy dreigende uitlatings gemaak het. Hierdie diplomatieke spanning het bygedra tot kommer oor toenemende binnelandse onbestendigheid wat in agt van Ethiopië se streke aangemeld is, maar veral in die Amhara-streek. Dit is Ethiopië se derde grootste streek, wat die tuiste is van die tweede grootste etniese groep (ongeveer 28%) en dit is ook ’n belangrike streek vanweë sy historiese, godsdienstige, kulturele, politieke en ekonomiese betekenis.
Sedert April vanjaar is daar konflik tussen die Ethiopiese Nasionale Weermag (ENDF) en die FANO en Amhariese etniese burgermagte in Amhara. Die toenemende geweld is veroorsaak deur teenstand teen die federale regering se besluit om streke se spesiale magte (wat paramilitêre groepe uit elkeen van Ethiopië se etniese streke insluit) te ontbind en hulle met die polisie en nasionale weermag te integreer.
Daar was wydverspreide kommer in die streek dat hierdie besluit Amhara sal blootstel aan aanvalle deur ander streke, veral in die lig van die feit dat Tigray-rebelle nie ten volle ontwapen is nadat die Pretoria-vredesooreenkoms op 2 November verlede jaar onderteken is nie. Baie in die Amhara-streek, wat ’n bondgenoot van die ENDF was gedurende die twee jaar lange konflik in Tigray, het ook verraai gevoel deur daardie ooreenkoms. Dit het hulle wantrouig gemaak teenoor die vredesooreenkoms en die federale regering.
Soos baie etniese groepe, beskuldig Amharas die streeks- en federale regerings daarvan dat dit deur etniese Oromo’s oorheers word. Afgesien daarvan dat hulle op die ENDF se onttrekking uit die streek aandring, eis burgermagte ook dat sekere gebiede met groot Amhariese bevolkings in Tigray amptelik onder die Amhariese streeksregering geplaas moet word. Sporadiese skermutselinge het gevolg, wat ná die moord op die Amhariese Welvaartsparty se leier aan die einde van April, toegeneem het. Vroeg in Augustus het die federale regering ’n ses maande lange noodtoestand in Amhara afgekondig en sommige stede het ’n afname in geweld ervaar, maar nuwe konflikte is in verskeie stede en dorpe in die streek aangemeld.
Indien die onbestendigheid in Amhara volhou, kan dit ander lande ook by die stryd betrek. Daar word vermoed dat die Eritrese regering die plaaslike burgermagte in Amhara ondersteun, alhoewel dit nie amptelik deur Eritrea bevestig is nie. Dit word aanvaar dat die alliansie tussen Eritrea en Amhara voort sal duur, veral omdat Eritrea sowat 30 000 burgermaglede gedurende die Tigray-konflik opgelei het. Eritrea is ’n bondgenoot van Egipte, terwyl die Verenigde Arabiese Emirate die Ethiopiese regering ondersteun.
Namate vertroue binne Ethiopië asook met sy bure verbrokkel, kan die wêreldwye Kerk bid vir wysheid vir eerste minister Abiy om hierdie verhoudings te herstel en die land en streek na vrede te lei. In 2019 het hy die Nobelprys vir Vrede ontvang vir sy pogings om vrede en internasionale samewerking te bewerkstellig, in besonder vir sy werk om sy land se jarelange grensgeskil met sy buurland Eritrea te beëindig. Alhoewel hy nie ’n volmaakte leier is nie, kan die Kerk bid dat hy vrede sal bly bevorder, nie net ter wille van die streek se bestendigheid en sekuriteit nie, maar omdat hy gesê het hy is ’n gelowige, en daarom moet sy optrede en besluite Christelik van aard wees.
Abiy het ook wysheid nodig om die land se ekonomiese probleme op te los. Daar is ’n groot waarskynlikheid dat Ethiopië nie sy skuld sal kan betaal nie, en baie Ethiopiërs sukkel met stygende verbruikerspryse. Tesame met die koronaviruspandemie en aanhoudende droogte, het die Tigray-konflik gelei tot vernietigende ekonomiese en finansiële gevolge, wat deur verdere onbestendigheid en konflik vererger sal word.
Volgens ’n Ethiopiese kontak is verdeeldheid volgens etniese lyne die hoofoorsaak (hoewel ander faktore godsdienstige aspekte insluit) van die onbestendigheid in die land. Ethiopië het meer as 80 etniese groepe, maar die drie belangrikste etniese groepe wat om mag meeding is die Oromo (eerste minister Abiy se volksgroep), die Amhara en die Tigray. Die grondwet het nie voldoende voorsiening gemaak vir hierdie dinamika nie en Abiy se regering is huiwerig om die grondwetkwessie aan te spreek.
Dit blyk dus dat ’n blywende oplossing ’n grondwetlike verandering moet insluit wat prakties en regverdig is en tot volhoubare vrede sal lei. ’n Kontak van INcontext wat vertroud is met gebeure in Ethiopië, het gesê dat gebed nodig is om die verhoogde vyandigheid te bowe te kom en die gaping wat deur die konflik vergroot is, te oorbrug. Daar is ’n behoefte aan begrip tussen alle etniese groepe, maar veral die Oromo en Amhara wat tesame ongeveer 80% van die bevolking uitmaak, omdat hul eenheid noodsaaklik is vir bestendigheid en vrede in Ethiopië.
Gelowiges het die geleentheid om ’n voorbeeld te stel deur versoening en eenheid na te streef, veral met ander gelowiges uit ander etniese groepe wat hul geloof in Christus deel. Mag hulle gehoorsaam wees aan die voorskrif in Efesiërs 4:3 wat lui: “Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.”
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid vir die volle implementering van die Pretoria-vredesooreenkoms, vir vredesamesprekings in Amhara, en dat die spanning tussen Ethiopië se regering en sy bure ontlont sal word;
- dat stappe geneem sal word om Ethiopië se etniese kwessies op ’n praktiese, volhoubare en regverdige manier op te los wat nie tot meer spanning en onbestendigheid in die toekoms sal lei nie; en
- dat gelowiges in Ethiopië Christus sal weerspieël deur vrede, eenheid, heling en versoening na te jaag.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 10/11/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit wikipedia.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.