Geskryf deur: Stefan J. Bos
Artikelbron: www.worthynews.com

Christene wêreldwyd het Sondag begin bid vir die meer as 360 miljoen medegelowiges wat “wêreldwyd op plekke woon waar hulle weens hul geloof ’n hoë vlak van vervolging trotseer,” het die World Evangelical Alliance gesê.

Die Internasionale Dag van Gebed vir die Vervolgde Kerk, afgekort as IDOP, is op 5 November gehou en sal weer op 12 November gehou word te midde van toenemende wêreldwye onderdrukking van toegewyde gelowiges, sê die organiseerders.

Dit is bekend dat duisende Christene vermoor, ontvoer en tronk toe gestuur is, insluitend in Nigerië, Noord-Korea, China, Nepal, Indië, Laos, Mianmar, Pakistan, Iran en baie ander nasies.

In ’n boodskap aan Worthy News het ’n belangrike mede-organiseerder van die jaarlikse geleentheid Christene gevra om nie “dié wat in stilte ly”, insluitend in Nigerië, te vergeet nie.

“Bid vir Rhoda Jatau, wat sedert Mei 2022 deur die Nigeriese regering aangehou word. Bid vir haar familie en kinders. Sy is ’n ma van vyf,” het Jubilee Campaign USA gesê, ‘n Christelike groep wat diegene verteenwoordig wat dikwels oor die hoof gesien word in die wêreld se besige nuussiklus.

Jatau, ’n toegewyde Christen, is in Nigerië se onbestendige noordoostelike deelstaat Bauchi gearresteer omdat sy ’n WhatsApp-boodskap gestuur het wat as godslasterlik beskou is.

“TRAGIESE MOORD”
Hierdie daad was na bewering in reaksie op “die tragiese moord” op ʼn tweedejaarstudent van ’n Christen-kollege. Deborah Emmanuel Yakubu in Sokoto, Nigerië, was die slagoffer van gepeupelgeweld weens ’n soortgelyke boodskap.

In opmerkings wat met Worthy News gedeel is, het Rhoda se man gesê: “Al wat ek wil hê, is dat Rhoda lewendig en vry moet wees.” Noordoos-Nigerië is onder verskeie gebiede waar Christene aanvalle deur Islamitiese groepe en owerhede trotseer.

“Bid vir ’n einde aan geweld teen Christene en ander deur [Islamitiese groepe] Boko Haram, Fulani-militante en ander kriminele bendes,” het Jubilee Campaign geskryf.

Die groep het Christene ook gevra om te bid vir die “vrylating van die [Christen-] vroue en meisies wat as slawe aangehou word, insluitend Leah Sharibu” wat onder die 110 skoolmeisies was wat deur Boko Haram ontvoer is.

Die meisies is uit die Government Girls’ Science and Technical College ontvoer.

Vyf skoolmeisies is op dieselfde dag van hul ontvoering op 19 Februarie 2018 dood en byna al die ander is etlike weke later in Maart vrygelaat. Sharibu is egter gevange gehou omdat sy geweier het om haar tot Islam te bekeer.

BID VIR HULLE
“Bid vir oop deure vir [haar en ander] meisies wat as slawe aangehou word om te kan ontsnap. Bid dat owerhede die terugkeer van die meisies en vroue sal prioritiseer,” het Jubilee Campaign in sy boodskap aan Worthy News gesê.

Ander gebedsversoeke was vir die Nepalese pastoor, Keshav Acharya, wat glo aangehou word omdat hy sy Christelike geloof aanlyn met ander Nepalese deel.

Verlede week het die hooggeregshof van Nepal  die beslissing van die Jumla hooggeregshof bevestig. Pastoor Keshav sal hiervolgens een jaar gevangenisstraf moet uitdien.

“Hierdie besluit deur die hooggeregshof beklemtoon die kommerwekkende rigting wat Nepal inslaan, deur godsdiensminderhede en individue wat nie ooreenstem met Hindoeïsme nie, te onderdruk,” berig Jubilee Campaign.

Jubilee Campaign het ook sy kommer uitgespreek oor China waar owerhede kinders onder die ouderdom van 18 verbied het om die kerk by te woon. Dit kom te midde van groeiende kommer binne die regerende Chinese Kommunisteparty oor die verspreiding van Christenskap, het Worthy News berig. Daar is ten minste 96 miljoen toegewyde Christene in China, volgens konserwatiewe skattings, terwyl ander bronne sê dit kan ten minste 130 miljoen wees.

Christene word ook aangemoedig om te bid vir ander vervolgde Christen-individue en die vervolgde Kerk in die algemeen te bid, insluitend vlugtelinge.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 10/11/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerk van www.pixabay.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here