Geskryf deur: Jeremiah Goddard
Artikelbron: incontextinternational.org
Op Dinsdag, 7 November, was dit ’n maand sedert die huidige oorlog uitgebreek het tussen die Israelse regering en Hamas in Gasa, ná die groep se aanval op Israel op 7 Oktober. Verskeie oproepe vir ’n wapenstilstand het oor die afgelope paar weke opgeklink, insluitend ’n resolusie wat die Nasionale Vergadering van die Verenigde Nasies einde Oktober opgestel het.
Die resolusie is deur 120 nasies goedgekeur, terwyl 14 nasies daarteen gestem en 45 buite stemming gebly het. Die resolusie is nie bindend nie en het tot geen ware verandering gelei nie; dit het egter wel die oorweldigende globale steun vir ’n wapenstilstand getoon. Israel en Amerika was nie ten gunste van ’n onderbreking in die gevegte nie, weens die waarskynlikheid dat Hamas dit sal aangryp as geleentheid om te hergroepeer. Benjamin Netanyahu, Israel se eerste minister, het op 7 November laat blyk dat hy ten gunste van “taktiese onderbrekings” is, ten einde hulp en voorrade deur te laat.
Die Israelse weermag (IDF) het Gasa (wat in ’n noordelike en suidelike gebied verdeel is) omsingel, wat Palestyne gedwing het om na die suide te vlug, waar die moontlikheid bestaan om hulp wat deur die Rafah-grensoorgang met Egipte kom, te ontvang. Die geleentheid vir hulp om Gasa te bereik, was beperk as gevolg van Israel se blokkade van Gasa (land en see) en die beperkte toegang via die Rafah-grensoorgang met Egipte.
Weens die omvattende blokkade en Egipte se kommer oor die moontlikheid om deur vlugtelinge oorval te word (honderdduisende en moontlik selfs tot meer as ’n miljoen), is slegs sommige buitelandse burgers, mense met dubbele burgerskap en etlike Palestyne toegelaat om via die Rafah-grensoorgang die grens oor te steek. Ondanks hierdie beperkings het lande ander maniere gevind om hulp aan Gasa te verleen. Jordanië het byvoorbeeld mediese voorraade, wat dringend benodig word, by ’n Jordaniese veldhospitaal in Gasa neergelaat. Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Anthony Blinken, het onlangs vier dae lank ontmoetings met sleutelrolspelers in die Midde-Ooste gehad, insluitende Nikos Christodoulides, die president van Ciprus, met wie hy gedagtes gewissel het oor die skep van ’n maritieme voorsieningslyn, wat broodnodige voorrade sou kon inbring.
Blinken het tydens sy besoek aan die Midde-Ooste ook probeer verhoed dat die oorloguitbrei na ander lande. Een land wat rede tot kommer bied, is Libanon, waar Hisbolla (’n groep wat Hamas se aanval op Israel steun en deur Iran ondersteun word) ondersteuning geniet. ’n Verskerping van konflik op Israel se grens met Libanon kan veroorsaak dat die reeds gespanne verhouding tussen die twee lande vererger.
Dit is maklik om oorweldig te voel deur die eindelose dekking van die oorlog en om hierdie gebeure dalk net as blote feite en data te beskou, terwyl die koste van hierdie oorlog, soos elke oorlog, menslike lewens is, wat anders gestel moontlik duisende verlore siele kan beteken. Ons weet dat God vrede begeer en nie oorlog nie, maar ons weet ook dat Hy oorlog kan gebruik om nuwe siele tot sy Koninkryk toe te voeg. Dit het baie duidelik geblyk uit die oorlog in Sirië, waar baie nuwe gelowiges getuig het dat hulle eerder weer die oorlog sou kies en in die proses verlossing in Christus vind as om geen oorlog te beleef en sonder Christus aan te hou leef nie. Dit verander nie die feit dat ons harte breek vir die duisende wat gesterf het en steeds sonder Christus sterf nie, maar ons vind troos in die wete dat ons ’n soewereine God dien, wat ook binne hierdie oorlog aan die werk is en dit op ’n soortgelyke manier kan gebruik om siele aan beide kante van die konflik tot sy Koninkryk toe te voeg.
Die burgers van Israel bly waaksaam uit vrees vir nog ’n aanval soortgelyk aan die een van 7 Oktober. Aan die ander kant is Palestynse burgers vasgevang tussen Hamas en Israel. Met ’n geraamde 1 405 sterftes in Israel tesame met sowat 240 mense wat steeds deur Hamas gyselaar gehou word en ’n geskatte 10 000 mense wat hul lewens in Gasa verloor het, is die tol wat hierdie oorlog reeds geëis het, enorm.
Ons weet dat God se vaderhart ween oor die lewensverlies in Israel en Palestina. Wanneer ons onder hierdie moeilike omstandighede na hoop soek, vind ons ’n God wat vredemakers oproep en die waarde van menselewens hoog ag. Ons het broers en susters in Gasa en Israel; in beide gebiede is daar getuienisse van Christene wat opstaan en die gaping oorbrug. Die skoonheid van die bruid van Christus in Gasa (’n skamele ± 1 000), die Wesoewer (ongeveer 50 000) en Israel (121 000, insluitende Jode, Arabiere en buitelanders), is hul gees van solidariteit met mekaar, verenig in hul geloof, ondanks kerklike verskille. Daarbenewens is daar ook hul gees van solidariteit met die Palestynse Moslems en Jode wat in die middel van die oorlog vasgevang is.
Dit is hoe ons God se vingerafdrukke in hierdie oorlog sien: in die manier waarop die Kerk liefde, hoop en vergifnis toon te midde van die hartseer. Terwyl ons weet Sy hart breek vir die verlore siele aan beide kante, vertrou ons dat Hy ook hierdie oorlog sal gebruik om Homself aan mense te openbaar en ’n oes in te bring.
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid dat die Israeli-gyselaars vrygelaat sal word en die lewensverlies sal ophou;
- dat liefhebbers van vrede na vore sal kom om ware vrede in die streek te bewerkstellig en te verhoed dat vyandelikhede na die omringende lande versprei; en
- dat Christene in Gasa en Israel hul geloof met vrymoedigheid sal deel en sal aanhou om Christus se hande en voete te wees.
Daar is verskeie maniere waarop mense almal wat deur hierdie oorlog geraak word, kan bemoedig en bystaan. Hieronder is twee daarvan:
crisisresponsenetwork.net (verwysing Gasa)
www.bridgesforpeace.com
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 09/11/2023
Foto slegs ter illustrasie: unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.