Geskryf deur: FOR SA
Artikelbron: Artikel verskaf
Die omstrede Wetsontwerp op Onteiening is terug in die nuus aangesien sittings in provinsies landswyd plaasvind. Die onteiening van eiendom, insluitend grond, is ’n omstrede kwessie en baie Suid-Afrikaners is onbewus van die verreikende implikasies daarvan. Die moontlike nadelige gevolge daarvan beïnvloed selfs godsdiensvryheid omdat baie godsdiensorganisasies die grond besit waarop hul kerk, moskee, sinagoge of opleidingsentrum gebou is.
Die Wetsontwerp op Onteiening is in Oktober 2020 in die parlement ingedien. Dit is reeds in September 2022 deur die Nasionale Vergadering (NV) goedgekeur. Die wetsontwerp is nou voor die parlement se tweede huis, die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP), wat reeds die publiek genooi het om kommentaar op die wetsontwerp te lewer. Aangesien die wetsontwerp die provinsies raak, moet elke provinsiale parlement (of wetgewer) ook openbare betrokkenheid fasiliteer. Die Wes-Kaapse provinsiale parlement het byvoorbeeld vir skriftelike kommentaar op die wetsontwerp gevra en hou nou openbare sittings. FOR SA gaan vandeesweek ’n mondelinge voorlegging lewer om die gebrek aan behoorlike beskerming vir die eiendomsreg van godsdiensorganisasies uit te lig.
Ter agtergrond: Die algemene oogmerk van die wetsontwerp maak voorsiening vir die onteiening van grond en sekere grondverwante eiendomsregte waarvoor daar potensieel geen vergoeding betaal sal word nie. Die definisie van “eiendom” in die wetsontwerp is egter nie beperk tot grond nie. Dit maak die begrip “eiendom” te breed omdat dit enige ander tipe eiendom kan insluit. As die definisie van eiendom nie uitdruklik beperk word tot grond en grondverwante regte nie, kan “eiendom” enigiets van grond tot intellektuele eiendom of selfs die klere aan jou lyf beteken. Die wetsontwerp lys kriteria wat oorweeg moet word voordat onteiening sonder vergoeding kan plaasvind, maar dit is ’n “oop” lys, wat regsekerheid uitsluit en moontlik oop is vir misbruik. Die wetsontwerp maak ook nie voorsiening vir geregtelike toesig in scenario’s waar eiendom op ’n dringende basis onteien word nie. Daar is ook geen uitsonderings vir sekere soorte grond nie – spesifiek grond wat vir godsdienstige doeleindes gebruik word.
FOR SA se besware teen die wetsontwerp fokus uitsluitlik op die potensiële onteiening van “kerkgronde” en/of grond wat vir godsdienstige doeleindes gebruik word. Soos die wetsontwerp tans daarna uitsien, kan geloofsgemeenskappe moontlik sien hoe hulle grond en ander eiendom teen hul wil en sonder enige vergoeding onteien of weggeneem word. Die Grondwet beskerm die fundamentele reg op godsdiensvryheid, wat die reg insluit om ’n mens se geloof in ’n gemeenskap met ander te beoefen, wat die vorming, aansluiting by en instandhouding van godsdiensverenigings insluit – wat eiendom kan en dikwels besit. FOR SA is ook bekommerd dat hierdie wetsontwerp moontlik in stryd is met artikel 25 van die Grondwet, wat spesifiek eiendomsreg beskerm en ook regverdige en billike betaling vir eiendom vereis.
Dit is duidelik dat dit ’n rampspoedige uitwerking sal hê in hulle reg om hulle godsdiens in ’n gemeenskaplike omgewing te beoefen sou ’n Christelike geloofsgemeenskap byvoorbeeld sy kerkgebou verloor. Dit is ook teen-intuïtief dat die wetsontwerp nie daarin slaag om eiendom wat deur geloofsgemeenskappe besit word, te beskerm nie, aangesien hierdie eiendom in die oorgrote meerderheid van gevalle as ’n gemeenskapsbate gebruik word en hulle werk en missie die plaaslike gemeenskap bevoordeel. Godsdiensorganisasies is gereeld betrokke by gemeenskapsopheffingsprojekte en is tipies die eerste wat bystand bied in die geval van ’n natuurramp.
In al sy voorleggings oor hierdie wetsontwerp namens Suid-Afrika se geloofsgemeenskappe, het FOR SA die volgende versoek:
- Die huidige definisie van “eiendom” wat te wyd is, moet beperk word tot grond en toepaslike grondverwante eiendomsregte.
- ’n Vrystellingsklousule moet ingevoeg word om enige onteiening van grond wat spesifiek in verband met die grondwetlike reg op godsdiensvryheid en die regte van godsdiensgemeenskappe besit of gebruik word, te voorkom.
- Alle bepalings wat voorsiening maak vir grondonteiening sonder vergoeding moet verwyder word of indien die parlement die bepalings behou wat dit toelaat, moet die kriteria vir onteiening sonder vergoeding beperk word tot ’n “geslote” lys om regsonsekerheid te vermy.
- Die konstitusionele hof moet genader word vir ’n verklarende bevel oor of die voorgestelde “nul vergoeding” in sekere klousules van die wetsontwerp kwalifiseer as ’n “regverdige en billike” betaling soos vereis deur die Grondwet. (FOR SA is oortuig daarvan dat onteiening sonder vergoeding artikel 25 van die Grondwet oortree.)
- Bepalings wat in die wetsontwerp ingesluit word, moet toepaslike geregtelike toesig vereis waar eiendom op ’n dringende basis onteien word. Met ander woorde, die saak moet eers deur ’n regter oorweeg word.
FOR SA beoog ook om mondelinge voorleggings aan die NRVP te maak sodra dit sy eie openbare verhore aanbied – en het spesifiek versoek vir ’n geleentheid om dit te doen. Die NRVP se openbare sittings sal na verwagting aangebied word ná die openbare sittings in die provinsiale parlement.
Sou hierdie wetsontwerp deur die NRVP aanvaar word, sal dit na die president gaan om as wet bekragtig te word.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 21/06/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.