Geskryf deur: Solidariteit Helpende Hand Artikelbron: Artikel verskaf 

Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek-kleuterskool en -naskoolsentrum in die Strand is in ‘n
toevlugsoord omskep vir inwoners van Kay’s Woonwapark wat ná kitsvloede ontruim moes word.
Dit volg nadat erge reënbuie vandeesweek oor die Wes-Kaap uitgesak het.

Sekere skole moes ontruim word en verskeie sakeondernemings, huise en informele nedersettings,
waaronder Kay’s, is tydens kistvloede oorstroom. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) skat dat
dele van die provinsie teen Woensdagaand reeds 100 mm reën gekry het.


Die oormatige reën het veroorsaak dat die Jakkalsvleikanaal, Lourensrivier en Kayserrivier oorstroom
het.

Joey Lötter, die bestuurder van Ons Plek Strand, sê inwoners van die woonwapark is
Woensdagoggend omstreeks 01:00 deur die vloed getref. “Nagenoeg 280 mense is ontwortel.
AfriForum en die stad se rampbestuurspan moes help om sekere inwoners uit hul huise te red.
Diere-organisasies het ook gehelp om al die honde en katte te red en die kleiner diere word tans hier
by Ons Plek versorg. Danksy die vinnige optrede is geen lewensverlies tot dusver aangemeld nie,” sê
Lötter.

Lötter sê die hele gemeenskap het die res van Woensdag bestee om die kamp te ontruim en
besittings te red wat daar te redde was.

“Die rivier staan tans so heuphoogte in sekere dele van die kamp. Daar is slegs 20 huise in die kamp
wat darem nie te veel skade opgedoen het nie en reg is om mense te vestig,” sê sy.
Volgens Lötter word 50 mense tans by Ons Plek Strand, direk langs Kay’s, gehuisves. Nog 20 mense
word by die nabygeleë NG Kerk versorg. Die kerk en Solidariteit Helpende Hand se noodfonds het
matrasse vir die vloedslagoffers aangekoop. Die stad Kaapstad het ook sover al nagenoeg 200
komberse geskenk.

“Die gemeenskap se hulp tot dusver was ongelooflik. Ons dink egter die ergste is nog nie verby nie,
want swaar weer word vir die naweek voorspel. ‘n Beampte van die rampbestuursentrum het ook vir
my gesê dié was een van die ergste vloede wat hy nog in die omgewing beleef het. Talle rolspelers
gaan die situasie vandag (Donderdag) meer in diepte assesseer.”

Lötter sê die grootste dringende behoefte is warm klere, komberse, kussings, skoene, huisware,
skoonmaakmiddels en moppe. Die skenkings kan by Ons Plek Strand afgelaai word, waarna
Helpende Hand dit sal kanaliseer na waar die nood die grootste is.

Helpende Hand het gereël dat die slagoffers berading ontvang.

Vir meer inligting en om te help, skakel Lötter by 079 733 9477 of besoek Ons Plek Strand by
Woltemadestraat 66.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 20/06/2023

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here