Geskryf deur: Dr. Pearl Kupe
Artikelbron: JOY! Magazine
Die verkiesing kom al hoe nader vir Suid-Afrika. Dit is ’n tyd vir diep nadenke, gebed en strategiese aksie terwyl ons peins oor die toekoms van die pragtige nasie van Suid-Afrika en sy profetiese en verlossende doel. Ons kan nie oor die toekoms van Suid-Afrika besin sonder om na die land te kyk deur die lens en perspektief van “geregtigheid” nie. Ons moet Suid-Afrika se vorige en huidige gedrag teen ’n geregtigheidsmaatstaf sien en meet.
Geregtigheid en God
Geregtigheid is wie God is. Een van God se name is Jehova Tsikendu, wat “die Here ons geregtigheid” beteken. Nog ‘n naam is Jehova El Mishpat wat “God van geregtigheid” beteken. Psalm 97:2 sê vir ons dat geregtigheid en reg die grondslag van Sy troon is. God se heerskappy is ingebed in geregtigheid en reg. Die mandaat wat aan ons gegee is om God en sy Koninkryk te soek, beveel ons ook om sy geregtigheid na te streef. Dit is onmoontlik om God te soek en nie terselfdertyd geregtigheid na te streef nie, aangesien dit ’n belangrike deel uitmaak van wie Hy is.
Bekering gaan herlewing vooraf
Herlewing word baie dekades lank konsekwent oor Suid-Afrika en Afrika geprofeteer. Die profetiese woord verklaar dat herlewing sal uitbreek vanaf die Kaap (Kaapstad) na Kaïro (Egipte). In 2 Kronieke 7:14 staan daar: “As … my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”
Hierdie skrif gee ’n belofte van genesing vir die land. Wanneer die land genees is, sal herlewing uitbreek. Die Skrif doen ook ’n beroep vir bekering en dat God se mense wegdraai van goddeloosheid en om eerder te bid en God se aangesig te soek. Dit is ’n oproep tot bekering en ’n oproep tot geregtigheid. Bekering gaan herlewing vooraf.
Regverdige regering
Daar is drie takke van die regering – die geregtelike, wetgewende en die uitvoerende gesag. Jesaja 33:22 sê: “Want die Here is ons Regter. Die Here is ons Regeerder. Die Here is ons Koning. Hy is die een wat ons sal red.” God is die oorspronklike geregtelike, wetgewende en uitvoerende gesag. Hy is die oorspronklike bron van regering en bestuur; ons redding lê in Hom. Seuns van God wat verstaan dat hul rol is om hul Vader se boedel te bestuur, moet ’n kritieke rol speel in al drie takke van die regering.
Regverdige regbank
Debora was ’n rigter (regter) wat onder ’n palmboom gesit het. Rigters 4:4-5 sê: “In daardie tyd was Debora, die vrou van Lappidot, die leier van die Israeliete. Sy was ‘n profetes. Sy het altyd onder die Deborapalm in die Efraimsberge tussen Rama en Bet-El gesit, en die Israeliete het daarheen gekom sodat sy hulle geskille kon bylê.
Sit onder ’n palmboom
Die feit dat Debora onder ‘n palmboom gesit het, is van kritieke belang. Psalm 92:13 sê: “Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon.” Die palmboom is dus ’n simbool van geregtigheid. Debora het vanuit ’n plek van geregtigheid geoordeel. Dit is belangrik dat ons regverdige regters en landdroste het wat nie omgekoop of korrup beïnvloed kan word om onregverdige oordele te vel nie. Die prosedure vir die keuring van sulke individue moet hersien word en burgers moet aangemoedig word om betrokke te raak en aan die keuring deel te neem.
Regverdige wetgewer
Wette bepaal die gedrag van die bevolking in ’n nasie. Wat ook al gekriminaliseer word, word onwettig en wat ook al gewettig word, moet gedoen word, al is dit immoreel. Wette weerspieël ook die morele maatstaf van ’n nasie. Daar is ’n wêreldwye neiging en druk om alle vorme van onsedelikheid in nasies te wettig. Daar moet doelbewuste stappe geneem word om regverdige leiers in die parlement te kies wat wette sal maak wat die goeie sedes en waardes van die nasie weerspieël.
Regverdige uitvoerende gesag
Spreuke 29:2 sê vir ons: “’n Volk juig as regverdige mense die mag kry; ‘n volk sug as ’n goddelose mens regeer.” Dit is dus ewe belangrik dat regverdige bekwame diensbare leiers van integriteit gekies word om die nasie te lei. Dit moet leiers wees wat nie in daardie posisies is om hulself te dien nie, maar om die nasie te dien.
Regverdige aanbidders
In tye van stryd gaan die stam van Juda alle ander stamme vooruit. Aanbidding is ’n wapen wat God gebruik om gevegte te wen en om die mure van Jerigo te laat tuimel. Laat ons in hierdie tyd bid dat God toegewyde, geheiligde en regverdige aanbidders sal oprig wat weet hoe om in die geestelike ryk te veg.
Regverdige nasie
Spreuke 14:34 sê: “Geregtigheid verhoog ’n volk, maar die sonde is ’n skandvlek vir die nasies.” Geregtigheid begin op ’n individuele vlak. Laat ons elkeen onsself uitdaag om geregtigheid na te streef en om regverdige besluite te neem. Ons kan nie de vinger na korrupte leiers wys wanneer ons self omkoopgeld aan polisiebeamptes en ander staatsamptenare betaal nie. Jesus het ’n geheiligde, heilige, toegewyde lewe van geregtigheid gelei. As gelowiges is ons geroep om Hom te volg, Hom na te doen en sy dissipels te wees. Dit beteken dat ons geroep is om ’n heilige lewe na te streef en in geregtigheid te wandel. Laat ons uitgedaag word om geregtigheid as individue en as ’n korporatiewe liggaam na te streef. Daar is ’n regverdige oorblyfsel wat besig is om te verrys om met vrymoedigheid vir God en sy Koninkryk te staan! Jy kan deel van daardie oorblyfsel wees!
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 07/11/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.