Geskryf deur Jean Symons
Artikel oorsponklik geplaas in JUIG! Tydskrif Junie 2026
In elke gemeenskap, elke skool en elke huis sien ons die tasbare effek van vaderskap. Ons hoef nie ver te kyk om dit raak te sien nie. Waar vaders teenwoordig is, hetsy as biologiese pa’s, leiers of geestelike vaders, floreer mense. Waar hulle afwesig is, ontstaan daar dikwels gebrokenheid. Kan ons vandag net weer besef dat God Homself deur Jesus as ’n liefdevolle Vader aan ons openbaar het? Jesus se primêre openbaring van God is nie as ’n heerser of regter nie, maar as Vader: “Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak” (Joh 1:18). Dit beteken Jesus is die Een wat vir ons die hart van die Vader kom wys het – sigbaar, verstaanbaar en naby. Dit verander alles, veral vir iemand wat dalk seergekry het in hulle verhouding met hul pa. Want God is nie net ’n Vader nie, Hy is jóú Vader. Kom ons kyk wat ware, lewegewende vaderskap beteken.
’n Vader gee lewe
’n Vader gee nie net fisiese lewe nie, hy help ook om sy kinders se identiteit te vorm. “Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring …” (Jak 1:18). Dink aan die invloed wat ’n bloekomboom op sy omgewing het. Dit droog die grond rondom hom uit en min groei in sy skaduwee weens die suur van sy blare. Dit is nie die soort vaderskap wat Jesus deur ons wil wys nie. Hy wil hê jy moet ’n bron van seën wees vir dié wat naby jou leef. Ons woorde dra krag en niks laat iemand so groei soos opregte waardering en aanmoediging nie. Elke kind, of dit nou jou eie is of iemand onder jou leiding, het ’n unieke persoonlikheid. As vaders is ons geroep om dit raak te sien en te koester. Jou kind hoef nie soos jy te wees om waardevol te wees nie. Daar is iets in jou kind wat hierdie wêreld nodig het. Wanneer jy dit raaksien en help ontwikkel, bou jy selfvertroue, selfwaarde en geloof. Jy gee hulle die moed om te waag en te groei. Dit is hoe lewegewende vaderskap lyk.
’n Vader versorg
“Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien” (Ps 103:13). Versorging gaan oor meer as kos en geld. Jy versorg jou kinders deur hulle emosionele wêreld te help vorm. Dit begin by aanvaarding, waar jy hulle uniekheid erken en waardering, waar jy groei en vordering raaksien. Dit vra ook teenwoordigheid in die oomblikke wat saak maak en liefde wat deur woorde en aanraking sigbaar word. Verantwoordbaarheid speel ’n belangrike rol, waar gesonde grense sekuriteit bring en bevestiging waar jy jou kind laat weet: “Ek sien jou. Ek is trots op jou.” Hierdie dinge vorm ’n kind se innerlike wêreld meer as wat ons besef.
’n Vader los ’n nalatenskap
Ware sukses lê nie net daarin om self iets te bereik nie, maar om ander te help groei en selfs verder te gaan as jy. Jesus sê: “Wysheid word deur al haar kinders reg bewys” (Luk 7:35 AFR20). Alles wat jy is, die goeie punte sowel as die swakhede, kan oorgedra word na jou kinders. Jou storie, jou geloof en jou waardes word saad wat in die volgende geslag vrug dra. Of jy nou ’n biologiese pa, ’n leier of ’n geestelike vader is, jou rol het betekenis. Niemand van ons is volmaak nie, maar ons hemelse Vader is. Begin met eenvoudige, praktiese stappe en wees doelbewus teenwoordig in jou kinders se lewens:
- Raak teenwoordig – Skep gereelde, betekenisvolle tyd saam met jou kinders.
- Spreek lewe – Maak dit ’n gewoonte om jou kind se identiteit te bevestig.
- Bou strukture van groei – Skep veilige ruimtes vir ontwikkeling en groei.
- Los ’n nalatenskap – Dra jou geloof en waardes aktief oor na die
volgende generasie.
Jou invloed as vader is groter as wat jy dink. En die vrug daarvan sal gesien word, nie net vandag nie, maar vir geslagte wat kom.

Hierdie artikel verskyn in die Junie 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif. Lees die digitale weergawe van hierdie tydskrif hier: joygifts.co.za
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Hoof foto verskaf deur oorsponklike artikel geplaas in JUIG! Tydskrif Junie 2026
Datum gepubliseer: 19/06/2026
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








