Artikel verskaf deur FEBA

Die viering van FEBA Radio SA se 30ste bestaansjaar val vanjaar saam met die viering van die internasionale FEBC-moederorganisasie se 80ste.

Die eerste van twee verjaardagsvieringe vir FEBA se ondersteuners het Saterdag 30 Mei in Pretoria by die NG-gemeente Lynnwood plaasgevind. Sowat 180 gaste het hierdie heuglike gebeurtenis bygewoon saam met FEBA se Raadslede, personeel en drie direkteure van Afrika-lande se radiostasies.

Dr Jurie Vermeulen, direkteur van FEBA Radio SA, het met behulp van treffende foto’s en video’s ’n aanbieding gedoen oor die werk van FEBA wêreldwyd. Tussendeur het hy vir Godi (Niger), Ayata (Tsjad) en Bright (Mosambiek) geleentheid gegee om te vertel van die werksaamhede en uitdagings by hul radiostasies. Die gehoor het ook in groepies vir spesifieke behoeftes in die verskillende lande gebid.

Die formele verrigtinge is afgesluit deur ’n gebed en paar woorde van refleksie op die beginjare deur FEBA se eerste SA-direkteur, ds Petrus Moolman (85).

Die tweede byeenkoms is op Saterdag 6 Junie by die NGK Bellville-Riebeeck gehou, waar 185 ondersteuners deelgeneem het aan die feesvieringe. FEBA Radio SA wil graag NG Lynnwood en NG Bellville-Riebeeck bedank vir die gebruik van hul fasiliteite.

Weens die voortdurende konflik in Mali wat in April weer uitgebreek het, kon FEBA Mali se direkteur die vieringe nie meemaak soos oorspronklik beplan nie.

Kollig op FEBA Mali

KanuYah FM het begin as M’Bimba Dembélé se persoonlike projek om die evangelie in sy deel van Mali te versprei. In 2019 het die stasie ’n volledige lid van FEBA geword, wat vir ’n volkome opgradering van die stasie en die toerusting betaal het.

Vandag dien M’Bimba Dembélé nog steeds as FEBA Mali se direkteur. Die stasie, wat onder luisteraars as KanuYah FM bekend staan, het sowat 15 voltydse personeellede en baie vrywilligers wat onder andere met opvolgwerk help. Waar moontlik werk die span saam met pastore en kerke, maar baie luisteraars woon in gebiede waar radio hul enigste toegang tot die evangelie is – selfoondata en internet is te duur.

Slegs 2 tot 3% van Mali se bevolking is Christene; bykans 95% is Moslem. Die Moslemkultuur verskil van plek tot plek: in sommige gebiede beoefen mense ’n nie-gewelddadige vorm van Islam en is hulle bloot geslote vir die evangelie omdat hulle so geheg is aan hul godsdiens; in ander gebiede vrees mense gewelddadige vervolging of verlies aan status indien hulle Christene sou word. Groepe soos die Bozo-mense is vurig gekant teen ander gelowe en Christene is geneig om hul geloof geheim te hou.

KanuYah FM saai in ses tale uit, insluitende Frans en Bambara, die taal wat deur die meeste mense in Mali gepraat word. Direkteur Dembélé meen dat die gebruik van plaaslike tale noodsaaklik is. Die span se mees effektiewe evangelisasieprogramme sluit in radiodrama’s, Bybelvoorlesing en Bybelonderrig – almal in plaaslike tale. Hulle hou ook ’n gereelde Bybelvasvrakompetisie om luisteraarbetrokkenheid aan te moedig.

Getuienis uit Mali

“Dis my passie om na KanuYah FM te luister. Ek het egter ’n ernstige probleem nadat die stasie my na Christus gelei het. Ek is deel van ’n familie waar opvoeding nog tradisioneel is en my pa is uiters streng met al sy kinders. Om sake te vererger, haat hy die Christendom. Die moeilikheid in ons gesin het begin toe hy ontdek het ek is gedoop. Die situasie het so versleg dat ek moes ingee en gaan woon by my oudeneefbroer, maar toe ek dit gedoen het, het ek gesien hoe baie probleme veral gesondheidsprobleme – in my lewe begin wat ek nie kon oplos nie. Op ’n dag het een van die pastore op KanuYah FM gesê dat iemand na hul op Christus behoort te draai om hul ouers tevrede te stel nie. Daarna het ek onderneem om na Christus toe terug te keer, ongeag my pa se reaksie. Ek het na ons dorp se kerk toe gegaan, waar gemeentelede vir my en my pa gebid het.

Ek wag nou op die uitwerking van hul gebede.”



> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Hoof foto verskaf deur bron – FEBA Nuusbrief 12 Junie 2026
Datum gepubliseer: 12/06/2026

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here