Geskryf deur J.John
Artikel oorsponklik geplaas in JUIG! Tydskrif Junie 2026

In die Bybel word God beskryf as ons Hemelse Vader, Abba. Menslike vaders moet Hom navolg. Vaderskap vra baie vaardighede. Een manier om daaraan te dink, is in terme van dele van die liggaam. Vaders het die volgende nodig:

1. ’n Hart
Kinders het liefde nodig – ’n diep, opregte liefde wat meer is as net ’n emosie. Hulle moet ook weet dat hulle werklik geliefd is. Die Bybel beskryf God as ’n liefdevolle Vader wie se hart na mense uitreik. In Jesus se gelykenis van die verlore seun (Luk 15) laat die vader sy opstandige seun gaan, maar hy bly uitkyk vir sy terugkeer. Wanneer hy hom uiteindelik sien, hardloop hy hom tegemoet, omhels hom, herstel hom as sy seun en reël ’n feesviering.

2. ’n Brein
Vaderskap verg wysheid en gesonde verstand. Die hart en kop moet saamwerk. Ons moet dink voordat ons:

  • Besluite neem. Loopbane, werk en vrywillige betrokkenheid kan ’n positiewe of negatiewe invloed op kinders hê.
  • Praat. Met kinders is dit maklik om die woordestryd te wen, maar dit laat emosionele en verhoudingswonde wat tyd neem om te genees.

3. Oë
As vaders moet ons vooruit dink en doelbewus werk om vaardighede, dissipline en ’n gesonde gesindheid in ons kinders te kweek wat hulle later in die lewe sal help. Ons het visie nodig om te dink oor die volgende:

  • As die Christelike geloof vir ons die belangrikste is, lê ons werklik Bybelse fondamente in ons kinders se lewens?
  • Wat doen ons saam as ’n gesin? Help dit om ons kinders te inspireer en waardes en vaardighede in hulle te vestig wat sal bly staan?
    Ons moet ook met aandag na ons kinders kyk – met deernis en begrip – sodat ons hul sterk- en swakpunte raaksien. Kom ons moedig hulle aan om die gawes wat God aan hulle gegee het, ten volle te ontwikkel.

4. Ore
Om na ons kinders te luister, is belangrik. Dit wys vir hulle dat hulle waardevol is en moedig hulle aan om openlik met ons te praat. As ons aandag gee wanneer hulle oor die klein dingetjies praat, sal hulle makliker na ons toe kom wanneer iets regtigbelangrik is. Moenie net luister na wat hulle sê nie, maar ook na wat agter hul woorde lê. Soms, te midde van uitroepe vir “meer pizza”, is daar ’n soeke na begrip, hulp of raad. Die skerpsinnige luisteraar sal iets belangriks in die geraas hoor.

5. ’n Neus
Ontwikkel ’n “neus vir moeilikheid”. ’n Vader moet onrus kan aanvoel, selfs wanneer niks gesê word nie. ’n Oplettende pa ken sy kind en kan agterkom, hoe goed dit ook al weggesteek is, of daar vrede of spanning is. Hierdie ouerlike aanvoeling help jou om nie onnodig in te meng nie, maar ook nie stil te bly wanneer iets aandag vereis nie. Leer om daardie stil waarskuwingstekens raak te sien.

6. ’n Mond
Met ons mond praat ons en gee ons liefde. Ons moet ons woorde wys gebruik – dit kan bou of breek. Dit is maklik om skerp kritiek uit te spreek; dit verg sorg om woorde te kies wat ’n kind se waarde bevestig en terselfdertyd help om houding en gedrag reg te lei.

7. Hande
Hande is gemaak om vas te hou en ook om te laat gaan. Daar is tye wanneer jy jou kind moet vashou – wanneer hulle bang is, leiding nodig het of ondersteuning soek. Om dan nie daar te wees nie, stel hulle diep teleur. Maar daar kom ook tye wanneer jy moet laat gaan. Party vorms van ouerskap misluk omdat kinders te gou laat gaan word en ander omdat hulle nooit die ruimte kry om self te groei nie.

8. Voete
Ouerskap kan nie oor ’n slimfoon gedoen word nie. Ons moet by ons kinders wees wanneer hulle ons nodig het en soms die ekstra myl loop. As jy ’n oproep van ver af kry, is die beste reaksie dikwels om op te staan en self daarheen te gaan. In ’n wêreld wat al hoe meer virtueel raak, bly fisiese teenwoordigheid iets besonders en tasbaar. Dit beteken baie vir ’n kind om te kan sê: “Jy was daar toe ek jou nodig gehad het.”

9. MOED (Binnegoed)
Suksesvolle ouerskap is nie maklik nie. Christelike ouerskap vra baie van ’n mens. Soms moet vaders grense stel, opstaan en vasstaan vir wat reg is – selfs al maak dit hulle ongewild. Enige man kan ’n kind verwek, maar dit vra moed om werklik ’n pa te wees.

10. Knieë
Laastens sal ouerskap jou na gebed dryf. Jy moet bid vir beskerming vir jou en jou kinders, vir wysheid, leiding, vergifnis en genesing. Daar is baie dinge waarop ’n mens trots kan wees – prestasies, ’n suksesvolle loopbaan, ’n mooi huis. Maar een van die grootste prestasies is om kinders groot te maak wat ons kan eer en vir wie ons kan eer. Dit is ’n werk van genade – en daarom moet ons daarvoor bid.


Hierdie artikel verskyn in die Junie 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif. Lees die digitale weergawe van hierdie tydskrif hier: joygifts.co.za


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Fotos verkry deur oorspronklike artikel gepubliseer in JUIG! Tydskrif; Junie 2026
Datum gepubliseer: 19/05/2026

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here