Geskryf deur: Errol Naidoo
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Die ANC-regime het in Januarie gepoog om die presidentskap van die Verenigde Nasies (VN) se menseregteraad in Genève te verower, maar het ver teen Marokko verloor. Die Suid-Afrikaanse regering wou die pos beklee om die gruweldade van sy tirannieke bondgenote soos China, Kuba en Iran te verdoesel terwyl hy sy ideologiese agenda onder die dekmantel van “menseregte” bevorder.
Altyd aan die verkeerde kant
In Junie 2015 het die Suid-Afrikaanse regering die Soedanse diktator, Omar al-Bashir, gehelp om te ontsnap. Hy is gesoek vir gedokumenteerde misdade van volksmoord in Soedan. Die regering het geweier om hom in hegtenis te neem – in weerwil van twee lasbriewe van die Internasionale Geregshof vir sy arrestasie.
Hersiening van diplomatieke verhoudinge
’n Amerikaanse kongreslid het ’n beroep gedoen vir die hersiening van Amerikaanse betrekkinge met Suid-Afrika as gevolg van sy bande met Rusland, China en Hamas. Die ANC-regime se bande met totalitêre state en terreurgroepe het Westerse demokrasieë gemotiveer om hulle verhouding met Suid-Afrika te herevalueer.
’n Hartseer stand van sake vir die nasie
President Cyril Ramaphosa het onlangs sy staatsrede gelewer wat heel voorspelbaar nie op veel neergekom het nie. Dit is hartseer dat pres. Ramaphosa ’n ware kans gehad het om in die geskiedenis bekend te staan as die man wat Suid-Afrika van verbysterende koerse van diefstal, bedrog, geldwassery en rampokkery gered het – maar hy het dit raadsaam gevind om die ANC bo die landsburgers te kies.
Korrupsie vier hoogty
By ’n geleentheid in 2023 vir ’n “korrupsievrye SA” het pres. Ramaphosa gesê: “Korrupsie het ons demokrasie gewond en mense se geloof in ons instellings geskud. As korrupsie nie gestuit word nie, sal die grootste skade nie die gesteelde fondse, die verlore werksgeleenthede of die dienste wees wat nie gelewer is nie. Die geloof in demokrasie sal die grootste skade ly.” Hy is reg, Suid-Afrika se demokrasie het misluk omdat pres. Ramaphosa se party dit gebruik het om die land vir sy hulpbronne te verkrag.
’n Gebrek aan sterk leierskap
Dit is ongelooflik dat pres. Ramaphosa nie die karakter en moed het om te doen wat reg is nie, ondanks die feit dat hy die omvang van die skade van korrupsie vir die land en sy burgers begryp en die grondwetlike mag het om dit te beëindig. Die ANC- kriminele netwerk is deurtrek van hierdie lafhartige streek; dit is duidelik te sien in sy ruggraatlose leierskap.
Word misdadigers beskerm?
Pres. Ramaphosa kan die aansienlike magte wat die Grondwet aan hom verleen, gebruik om korrupsie te bekamp. Byvoorbeeld, die Zondo-kommissie (wat meer as ’n biljoen rand gekos het) se verslag het verskeie senior ANC-amptenare by massiewe korrupsie betrek, maar die verslag lê en stof vergaar. Pres. Ramaphosa ver-kies heel duidelik om die misdadigers in die ANC te beskerm eerder as om reg te laat geskied.
Besoedelde ondernemings
Dit lyk asof die ANC-vloek elke staats-vlak besoedel. Sy bande met kriminele ondernemings soos prostitusie en sy voorneme om die hele seksbedryf te wettig het selfs die Suid-Afrikaanse weermag beïnvloed. Suid-Afrika se VN-vredesmagsoldate is geskors vir die bestuur van bordele en vir sekshandel naby die militêre basis in die Demokratiese Republiek die Kongo.
Die bevordering van ’n goddelose agenda
Die ANC-regime is net so korrup soos die VN – wat hy manipuleer om sy diaboliese agenda te bevorder. Die Suid-Afrikaanse regering gebruik bedrieglike taktiek om topposisies in globale liggame vir sy eie duistere doeleindes te bekom. Die regering beywer hom onversetlik vir ’n permanente setel in die VN-veiligheidsraad sodat hy sy goddelose agenda tot voordeel van totalitêre regimes kan bevorder.
’n Brokkie ‘goeie nuus’
Die goeie nuus is dat die ANC landswyd groot verkiesingsteun verloor. Sy voormalige leier, Jacob Zuma, wat eintlik tronkstraf moet uitdien vir sy misdade teen die mense van Suid-Afrika, beywer hom vir die MK-party wat volgens voorspellings die ANC se steun in KwaZulu-Natal kan halveer.
Verkondig God se visie oor Suid-Afrika
Die ANC-regime het Suid-Afrika in ’n mafiastaat omskep. Korrupsie vier steeds hoogty. ’n Verslag dui aan dat dié wat verantwoordelik is vir die plundering van VBS Bank, wat ongekende ellende vir die armes veroorsaak het, waarskynlik net oor die vingers getik gaan word. “Wanneer ’n volk nie duidelikheid het oor die wil van God nie, verloor hulle koers” (Spr 29:18 NLV). Ons moet ’n Goddelike visie vir Suid-Afrika verkondig!
ERROL NAIDOO – president van Family Policy Institute. Vir meer inligting oor sy organisasie, besoek familypolicyinstitute.com
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 21/03/2024
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.