Geskryf deur: Liezl Barnard
Artikelbron: febaradio.co.za
“Ons visie was nog altyd om hierdie nuwe generasie van Khmu-gelowiges te bemoedig en ’n saadjie van hoop in hulle te plant,” sê Samuel*, een van FEBA- Etniese Bedienings se omroepers. “Al ons personeel wil hê dat hulle trots sal wees daarop om Khmu te wees – dat hulle hul kultuur sal liefhê en die taal sal praat.”
Daar is tans sowat 850 000 Khmu in die wêreld. Die meerderheid woon in afgeleë dorpies in die berge van Laos en Viëtnam, met kleiner getalle in die noorde van Thailand en China. Die Khmu beoefen tradisioneel animisme – hulle glo dat natuurlike verskynsels ook ’n gees het – en voorvaderaanbidding. Die meeste van hulle is arm, het swak opvoeding, en word verstoot in die lande waar hulle woon. Kortom: hulle benodig die Goeie Nuus.
FEBA se daaglikse uitsending is die enigste Christelike uitsending beskikbaar in die Khmu-taal. Dit is deels te danke aan dié uitsendings en die FEBA Etniese Bedieningspan, wat afgeleë dorpies besoek om die mense van FEBA en sy boodskap te vertel, dat daar vandag sowat 70 000 Khmu-Christene is … en die bediening groei steeds! Tog ervaar Khmu-Christene nie net vervolging van vyandige regerings nie, maar ook van hul gemeenskapsleiers en families.
Sunya* en Mala* het verlede jaar hul worstelinge met Samuel gedeel by ’n kamp wat FEBA- Etniese Bedienings vir Khmu-jongmense in Thailand aangebied het. Meer as 100 jongmense het dit bygewoon.
Sunya se verhaal
Sunya, ’n weeskind, het twee jaar gelede ’n Christen geword. In daardie stadium was sy 17 en het by familie gebly wat teen haar bekering gekant was. Hulle het gesê hulle sal haar onterf as sy ’n Christen bly en een van haar ooms het herhaaldelik gedreig om haar te vermoor. Nietemin het Sunya sterk gestaan in haar geloof.
Deur God se genade kon sy by ’n ander oom van haar, wat ’n pastoor en diep gelowige is, gaan woon. Sy het hoërskool voltooi en werk tans om universiteitstoelating te kry sodat sy wiskunde kan studeer.
Mala se verhaal
Mala (17) en haar jonger suster is die enigste Christene in hul gesin. Hul stiefpa sien neer op hul geloof, terwyl hul ma hulle aanhou druk om op te hou tyd mors met dinge soos kerk en skool en eerder prostitute te word om geld te verdien.
Mala se swaer is ’n dwelmverslaafde wat haar in die verlede probeer aanrand het. Hy minag haar omdat sy ’n “uitheemse” geloof volg. Enkele dae voor die kamp het hy ’n vuurwapen in die lug afgevuur en vir Mala en haar kleinsus uit die huis geskop omdat hulle kerk toe gaan. Genadig kon Mala en haar sussie by gelowige familielede gaan woon, waar ’n plaaslike Khmu-leier hulle weekliks besoek en bemoedig.
Hoop vir die toekoms
Die FEBA- Etniese Bedieningspan is passievol oor die volgende generasie gelowiges. Hulle moedig jong Khmu-luisteraars aan om hul opvoeding ernstig op te neem en bied jeugkampe aan om God se Woord met benadeelde jongmense te deel.
“Ek onthou ons eerste jeugkamp sowat 15 jaar gelede,” sê Samuel. “Van die 100 jongmense het slegs vier graad 12 voltooi. Meer as die helfte van die mense wat die kamp bygewoon het, het skool vroeg verlaat. Vandag is al die jongmense op pad om hoërskool klaar te maak en byna 20 is op kollege!”
Hoop vir die toekoms bring moed in die hede. Deur FEBA- Etniese Bedienings se getrouheid ontvang baie Khmu die geskenk van God se Woord en kry hulle die hoop wat hulle ontbreek het. Mag dieselfde waar word vir nog vele ander.
*Name verander vir veiligheid
Besoek gerus www.febaradio.co.za vir meer inligting.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 20/03/2024
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.