Geskryf deur: Daniel Kolenda – Christ for all Nations

Wanneer ons aan sending dink, is dit maklik om eerste aan die nood te dink. Ons dink aan die miljoene wat nog nooit die Naam van Jesus gehoor het nie, die skares wat in oop velde oor die hele Afrika bymekaarkom en die dringendheid om die Evangelie aan hulle te bring. Dit alles is waar. Die nood is werklik groot. Ons sien dit oral om ons. Maar hoor my hier … ek glo die diepste motivering vir sending is nie eintlik die nood van die verlorenes nie. Laat ek verduidelik.

Alles begin by Golgota
Die kruis staan in die middel van ons geloof. Daar het Jesus ons sonde, ons skaamte en ons oordeel op Hom geneem. Die Seun van God het gewillig sy lewe afgelê sodat ons vergewe en met God versoen kan word. Paulus skryf: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom 5:8). Nog voordat ons Hom gesoek het, het Hy ons gesoek. Nog voordat ons Hom liefgehad het, het Hy ons liefgehad. Wanneer ons werklik verstaan wat Jesus aan die kruis gedoen het, ontstaan daar ’n diep dankbaarheid in ons harte. En daardie dankbaarheid dryf ons tot aksie. Sendingwerk is een van die kragtigste uitdrukkings van daardie dankbaarheid.

Die liefde van Christus dring ons
Paulus verduidelik die motivering vir sy bediening baie duidelik. Hy skryf: “Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het” (2 Kor 5:14). Let op wat Paulus nié sê nie. Hy sê nie dat hy gedryf word deur skuldgevoel, druk of verpligting nie. Hy sê nie hy word gedryf deur mense, sy denominasie of sy familie se verwagtinge nie. Hy sê hy word gedryf deur die liefde van Christus. Wanneer jy verstaan wat Jesus vir jou by Golgota gedoen het, verander iets in jou. Die kruis verander jou hele perspektief. Jy besef dat die genade wat jy ontvang het, nie iets is wat jy verdien het nie. Dit is ’n geskenk, vrylik gegee deur Jesus se offer. En wanneer jy daardie geskenk ontvang het, wil jy hê ander moet dieselfde verlossing ervaar. Dít is die hart van evangelisasie. Ons verkondig die Evangelie omdat ons oorweldig is deur wat Jesus vir ons gedoen het. Ons verkondig dit omdat ons harte oorloop van liefde vir Hom en ons eenvoudig nie hierdie boodskap vir onsself kan hou nie.

Die boodskap van die kruis
Die boodskap wat ons na die nasies dra, is eenvoudig maar kragtig. Paulus skryf: “Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God” (1 Kor 1:18). Die kruis is nie net ’n simbool van die Christendom nie. Dit is nie ’n kenteken wat wys aan watter groep jy behoort nie. Nee. Dit is die hart van die Vader, wat vandag nog brand van sy liefde. By die kruis word die krag van God op die diepste moontlike manier, vir alle tye, openbaar. By die kruis kom die Vader se plan van liefde en verlossing vir ’n gebroke wêreld tot vervulling. By die kruis oorwin Jesus sonde en dood, eens en vir altyd. By die kruis word die deur van verlossing wyd oopgemaak vir die hele wêreld. Wanneer ons die Evangelie verkondig, verkondig ons daardie voltooide werk – dat vergifnis beskikbaar is. Ons verklaar dat Jesus leef en dat Hy vandag nog red. Waar hierdie boodskap verkondig word, word lewens verander.

’n Reaksie van dankbaarheid
Ware dankbaarheid bring altyd ’n reaksie. As iemand jou uit ’n brandende gebou red, sal jy dit nooit vergeet nie. Jou lewe sal vir altyd gekenmerk word deur dankbaarheid teenoor die een wat jou gered het. Op ’n veel groter manier het Jesus ons gered. Hy het ons nie net van tydelike gevaar gered nie, maar van ewige skeiding van God. Hy het vir ons nuwe lewe gegee en ’n ewige toekoms saam met Hom. Hoe reageer ons op so ’n genade? Een van die mooiste reaksies is om deel te neem aan die verspreiding van die Evangelie. Party gaan uit en verkondig. Party bid getrou. Party dien agter die skerms. Ander gee, sodat die boodskap plekke kan bereik waar hulle self nooit sal kom nie. Al hierdie dinge is uitdrukkings van dankbaarheid vir Golgota. Wanneer gelowiges in evangelisasie belê, sê hulle in werklikheid: “Here, dankie dat U my gered het. Ek wil hê ander moet hierdie boodskap ook hoor.”

Die voorreg om deel te neem
Jesus het eenkeer na die skares gekyk en gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min” (Matt 9:37). Hierdie woorde is vandag net so waar soos toe Jesus dit die eerste keer gesê het. Oor die hele wêreld, en veral in Afrika, is miljoene mense oop vir die Evangelie. Hulle is gereed en wag om die Goeie Nuus van Jesus Christus te hoor. Een van die merkwaardigste dinge van God se plan is dat Hy ons nooi om deel te neem. Hy kon engele gestuur het om die Evangelie te verkondig, maar in plaas daarvan het Hy daardie verantwoordelikheid aan sy mense toevertrou. Dit is ons, sy kinders, wat Hy na die nasies stuur. Of ons nou verkondig, bid of ander uitstuur, ons deelname aan sy oes is ’n voorreg.

Moet nooit die kruis vergeet nie
Ons moet die kruis altyd voor ons hou. Die oomblik wanneer ons ons verlossing as vanselfsprekend begin beskou, sal ons passie vir die verlorenes vervaag. Maar wanneer ons voortdurend die prys wat Jesus vir ons betaal het onthou, bly ons harte sag en dankbaar. As gevolg van Golgota het ons hoop. As gevolg van Golgota het ons lewe. En as gevolg van Golgota dra ons die Evangelie na die nasies. Mag ons dankbaarheid vir Jesus se offer nooit koud word nie, en mag daardie dankbaarheid ons bly aanspoor totdat die hele wêreld die Goeie Nuus hoor.

Hierdie artikel verskyn in die Mei 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif. Lees die digitale weergawe van hierdie tydskrif hier: joygifts.co.za


Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Fotos verkry deur oorspronklike artikel
Datum gepubliseer: 22/04/2026

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here