Geskryf deur: Daniela Ellerbeck
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Ons reg op godsdiensvryheid (artikel 15 van die Grondwet) is een van die belangrikste menseregte wat ons in Suid-Afrika geniet – dit is die vryheid om te kies wat ons glo, die vryheid om ons oortuigings openlik met ander te deel en die vryheid om ons godsdiensoortuigings in die openbaar uit te leef deur aanbidding en gebruike. Ons reg op vryheid van uitdrukking (artikel 16 van die Grondwet) is nou verwant omdat dit ons reg beskerm om ons geloof in die openbaar met ander te deel; dit beskerm spesifiek ons ​​vryheid om inligting of idees oor te dra.

Vryheid van uitdrukking
Dit is vanselfsprekend dat ons nie veel godsdiensvryheid sou hê as ons nie vry is om ander mense van ons geloof te vertel nie. Die konstitusionele hof het gesê dat hierdie regte almal deel is van ’n “web van wedersyds ondersteunende regte”. Hulle is dus ineengevleg – wanneer die een bedreig word, word die ander ook bedreig.

’n Bedreiging vir godsdiensvryheid
Een van die mees kommerwekkende bedreigings vir vryheid van uitdrukking is die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bekamping van Haatmisdade en Haatspraak, wat haatspraak kriminaliseer. Die wetsontwerp, bekend as die “Haatspraakwetsontwerp”, word tans deur die parlement oorweeg. Dit is verlede jaar vir die publiek se kommentaar oopgestel en meer as 103 000 voorleggings is gemaak om teen die bepalings daarvan beswaar aan te teken. Sou hierdie wet in sy huidige vorm aanvaar word, kan jy ’n ongespesifiseerde boete en/of drie jaar tronkstraf opgelê word vir ’n eerste oortreding, verhoog tot vyf jaar gevangenisstraf vir ’n volgende oortreding. Selfs om iemand anders se opmerkings op Facebook te deel, sal ‘n oortreding wees indien dit neerkom op die wetsontwerp se definisie van “haatspraak”.

Maklik om skuldig bevind te word
Ewe problematies is dat dit ingevolge hierdie wetsontwerp makliker sal wees om skuldig bevind te word aan die misdaad van haatspraak en dan tronk toe gestuur te word, as om ingevolge die Gelykheidswet beveel te word om verskoning te vra. Dit is omdat die wetsontwerp se definisies van “haatspraak”, “skade berokken” en “slagoffer” breër is as dié van die Gelykheidswet. Die wetsontwerp se beskerming teen vervolging vir godsdienstige spraak is ook onvoldoende. Hoewel ’n vrystellingsklousule vir bona fide godsdienstige spraak nou ingesluit is, moet dit aansienlik versterk word om godsdienstige uitdrukking werklik voldoende te beskerm.

Die pad vorentoe
Die wetsontwerp demonstreer hoe belangrik openbare deelname aan die wetgewingsproses is om te verseker dat ons vryheid om ons geloof uit te leef en om ander daarvan te vertel, beskerm bly. Freedom of Religion South Africa (FOR SA) gaan voort om aktief met die par-lement in gesprek te tree en sal die publiek in kennis stel van enige verwikkelinge.

Bly op hoogte van die stryd vir geloof en vryheid deur in te teken op FOR SA se nuusbrief en ondersteun ons deur finansieel by te dra.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 06/03/2023
Foto slegs ter illustrasie

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here