Geskryf deur Lindy Snyman
Artikel oorspronklik geplaas in die Junie uitgawe van JUIG! Tydskrif
Pas nadat ons in 2016 getroud is (ek was 28 en my man 32), het ons begin probeer vir ’n babatjie. As ek nou terugkyk oor die afgelope dekade, besef ek oor hoeveel hekke ons moes spring. In die storm leef jy net in oorlewingsmodus – dit was ons realiteit vir jare.
’n Pad vol struikelblokke
Ons het twee miskrame beleef. Ons het drie rondes IVB (in vitro-bevrugting) probeer. Intussen moes ek ’n kanker-skrik verwerk en ’n totale histerektomie ondergaan, met komplikasies daarna. Uiteindelik het ons ’n surrogaat gevind, maar ná ’n jaar se saamstap is ons aansoek in die hof afgekeur. ’n Tweede surrogaat het spoorloos verdwyn. Dit het ons emosioneel en finansieel uitgeput. Ek was moedeloos en kwaad vir die Here. Hoekom altyd ons? Ek het die glas half leeg gesien.

’n Stap van geloof
Na al die mislukkings het ons besluit om ons trots te sluk en openlik op Facebook te vra of iemand bereid sou wees om ons embrio te dra. Dit was vernederend om ons storie so oop te lê, maar ons het niks meer gehad om te verloor nie. Op 6 Januarie 2024 het ek ’n boodskap ontvang wat my tot vandag toe hoendervleis gee – van ’n familielid van ’n goeie vriendin wat nog nooit oorweeg het om ’n surrogaat te wees nie.
’n Antwoord op gebed
Maar Marisa van der Merwe het geskryf: “Ek het aan julle gedink, daaroor gemediteer en vir julle gebid … Ek het nog nooit oorweeg om ’n surrogaat te wees nie. Maar die oomblik toe ek besef het dat ek dit vir julle kan doen, was my hart vasbeslote.” Daardie woorde het alles verander. Die Here het ons gebede verhoor en vir ons ’n onselfsugtige vrou oor ons pad gestuur. Oor die volgende twee jaar het sy en haar gesin ons oorlaai met aanvaarding en liefde. Wat sy vir ons gedoen het, is onmeetbaar.
God se tyd is volmaak
Op 6 Januarie 2026 is ons dogter, Olivia Jane Snyman, gebore – gesond en perfek geskape. Presies tien jaar nadat ons begin probeer het, is ons gebede beantwoord. Presies twee jaar nadat ons daardie boodskap ontvang het, is sy gebore. Ek het besef ons storie is nie een van verlies nie, maar van hoop. My geloof het soms gewankel, maar God was besig om agter die skerms te werk.

’n Nuwe perspektief
As ons nie nóg ’n IVB-poging aangepak het nie, sou die kanker moontlik nie betyds ontdek gewees het nie. As ons vorige surrogaatskappe gewerk het, sou ons nooit vir Marisa ontmoet het nie. Die glas was nooit half leeg nie – ons kon dit net nie sien nie. Vandag loop ons beker oor. Ons dankbaarheid teenoor Marisa, haar gesin en die Here kan nie beskryf word nie. Hy het in haar hart gewerk en vir ons, deur genade alleen, voorsien.
’n Boodskap van hoop
Aan elkeen wat wag en bid: Moenie ophou nie. Selfs wanneer dit voel jy klop aan ’n toe deur, hoor Hy jou. Selfs wanneer jou geloof klein voel, hou Hy jou vas. Ons pad het tien jaar geneem, maar die uitkoms was groter as wat ons ooit kon droom. Alle eer aan God.

Hierdie artikel verskyn in die Junie 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif. Lees die digitale weergawe van hierdie tydskrif hier: joygifts.co.za
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Hoof foto verkry deur oorspronklike artikel gepubliseer in die JUIG! Tydskrif; Junie 2026
Fotos verskaf deur Lindy Snyman
Datum gepubliseer: 27/05/2026
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








