Mediaverklaring verskaf deur Solidariteit Helpende Hand

Van komberse in Colesberg en sopkombuise in die Wes-Kaap tot bingo-oggende vir bejaardes in Limpopo en kinders wat leer om hul broodjies met maatjies te deel in die Vaaldriehoek.

Só het Solidariteit Helpende Hand se streke, takke en vrywilligers reg oor Suid-Afrika vanjaar Wêreldhongerdag aangepak deur meer as 40 aksies en projekte onder die tema “Honger vir Hoop” aan te bied. Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, gaan honger oor baie meer as net kos.

“Ons weet mense is nie net honger vir kos nie. Hulle is honger vir hoop, vir werk, vir geleenthede, vir die toekoms en vir oplossings. Wêreldhongerdag herinner ons daaraan dat ons nie die probleem in een dag gaan oplos nie, maar dat ons saam aan oplossings kan begin bou,” sê Noëth.

Helpende Hand se landswye veldtog het vanjaar gefokus op verskillende vorme van honger, insluitend fisiese honger, emosionele honger, geestelike nood, eensaamheid, die behoefte aan menswaardigheid en selfs “honger vir lees” en onderrig.

Wilma van der Vyver van Solidariteit Helpende Hand se Helderberg-tak het saam met inwoners van ’n plaaslike tehuis aan ’n inkleur- en legkaartbousessie deelgeneem om die “honger vir geselskap” op Wêreldhongerdag aan te spreek.

In die Wes-Kaap het takke boeke aan skole en gemeenskapsprojekte geskenk om geletterdheid te bevorder, terwyl ander takke sop, brood en noodvoorrade aan kwesbare gemeenskappe versprei het. In die Suid-Kaap het skole en kleuters blikkieskos en nie-bederfbare produkte ingesamel om reeds op jong ouderdom ’n kultuur van omgee en deel te vestig.

In Colesberg stel Helpende Hand se plaaslike tak weer 30 komberse beskikbaar vir seniors en kinders wat gedurende die wintermaande sukkel om eredienste by te woon weens koue weersomstandighede.

In die Oos-Kaap het vrywilligers ouetehuise besoek, saam met seniors gekuier en warm eetgoed, serpe en gebreide mantels uitgedeel om die “honger vir geselskap” aan te spreek. In KwaZulu-Natal is nie-bederfbare kos ingesamel en gebruik om mammas te leer hoe om verantwoordelik te begroot en inkopies te doen.

Takke in Gauteng, Noordwes, die Vrystaat en Limpopo het op hul beurt projekte aangepak wat wissel van voedingskemas en skenkings aan tehuise tot bewusmakingsveldtogte, eetstakings, gemeenskapsopleiding en fondsinsameling vir studiefondse. In die Oos-Rand het vrywilligers by tehuise besoek afgelê om die “honger vir geselskap” aan te spreek en terselfdertyd bewusmaking oor Wêreldhongerdag te skep. In Volksrust het Privaatskool Amajuba, ’n klein CVO-skool met slegs 18 leerlinge, ook vir Wêreldhongerdag kos en klere ingesamel. Volgens Helpende Hand wys die inisiatief dat selfs klein gemeenskappe ’n groot verskil kan maak wanneer mense saamstaan en deel wat hulle het.

Leerlinge van Privaatskool Amajuba in Volksrust het vir Wêreldhongerdag kos en klere ingesamel as deel van Solidariteit Helpende Hand se “Honger vir Hoop”-veldtog.


Vrydag, as deel van die “Honger vir Hoop”-veldtog in samewerking met Pretoria FM, word Suid-Afrikaners ook uitgedaag om prakties betrokke te raak deur vir die dag te vas en die geld wat hulle normaalweg aan kos sou spandeer, aan Helpende Hand se voedingsprojekte te skenk. Skoolleerlinge word terselfdertyd aangemoedig om hul snoepiegeld vir een dag op te offer om ’n verskil in ’n ander kind se lewe te maak. Volgens Helpende Hand gaan die veldtog nie net oor fondsinsameling nie, maar oor die skep van ’n kultuur van deel, omgee en gemeenskappe wat mekaar dra in moeilike tye.

Die organisasie hoop om vanjaar die ekwivalent van 50 000 borde kos teen R20 per bord in te samel om nood reg oor Suid-Afrika te help verlig. Mense wat by die veldtog betrokke wil raak, kan ’n skenking maak by https://helpendehand.co.za/wereldhongerdag/.

“Om honger te gaan slaap is sleg. Om honger op te staan is sleg. Om honger skool toe te gaan of werk toe te gaan, is sleg. Daarom vra ons op Wêreldhongerdag: Hoe kan ek iets van dit wat ek het met iemand anders deel?” sê Noëth.

“Baie mense dink hulle kan nie ’n groot genoeg verskil maak nie, maar selfs ’n klein bydrae beteken vir iemand hoop. Dit gaan nie net oor ’n bord kos nie. Dit gaan oor waardigheid, ondersteuning en die gevoel dat iemand omgee.”

Hy benadruk dat volhoubare oplossings belangrik bly.

“Ons wil nie mense afhanklik maak van almoese nie. Ons wil gemeenskappe help bou wat mekaar dra, ondersteun en versterk. Daarom probeer Helpende Hand nood op ’n geordende en gestruktureerde manier aanspreek sodat hoop weer moontlik word.”

Helpende Hand doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om nie Wêreldhongerdag as slegs ’n simboliese dag te sien nie, maar as ’n geleentheid om prakties betrokke te raak in hul gemeenskappe.

“Ons kan nie alles verander nie, maar ons kan begin deur vandag iets te deel van dit wat ons het,” sluit Noëth af.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Hoof foto verskaf deur Solidariteit Helpende Hand
Datum gepubliseer: 30/05/2026

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here