Geskryf deur: Tessa Robbertze
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

My reis is een van hoop, ’n doel en die oortuiging dat elke persoon ’n unieke rol het om in hierdie wêreld te speel, maak nie saak hoe groot of klein nie. Ek was op die voorblad van die Beeld-koerant toe ek ’n paar dae oud was. My ma het my foto gesien en dadelik geweet sy wil my aanneem. Suid-Afrika was daai tyd nog onder apartheid, en baie ander mense wou my ook aanneem. Dit was egter met die hulp van maatskaplike werker Tessa van Wyk dat my aanneming moontlik gemaak is.

Ontdekking deur verlies
Die volle verhaal van my aanneming is eers baie later in my lewe aan my geopenbaar. Toe ek omtrent 23 jaar oud was, net ure nadat my ma oorlede is, het ek die drang gevoel om deur haar Bybel te blaai. Ek vind toe ’n koevert met my naam op, binne-in was die Beeld-artikel van toe ek ’n baba was. My ma het my altyd vertel sy het gebid om my te vind, maar ek het gedink sy het eenvoudig ’n weeshuis besoek. Toe ek die artikel vind het ek ’n dieper begrip gekry van hoe die Here haar na my gelei het.

’n Nalatenskap van liefde
My ma het nie net vir my grootgemaak nie, sy het ook 27 ander kinders grootgemaak en vir hulle liefde en ’n kans op ’n beter lewe gegee. Haar goedheid en toewyding het my geïnspireer om ook ’n verskil in die wêreld te maak. In 2016 het ek ’n vrouefonds gestig wat sorgpakkies aan staatshospitale verskaf, omdat ek glo dat selfs die kleinste daad van vriendelikheid ’n diepgaande impak kan hê. Ek verstaan hoe oorweldigend die lewe kan voel, veral vir vroue wat deur moeilike besluite in die gesig gestaar word – soos my biologiese ma moontlik ervaar het.

Bemagtiging van vroue
In 2018 het ek ’n vrouebemagtigingsnetwerk begin, saam met ’n aanlyn tydskrif wat die stemme van inspirerende vroue versterk. In 2021 het ek my persoonlike handelsmerk bekendgestel, wat gefokus is daarop om ander se inspirerende stories te deel en ’n joernaal te publiseer. Ek glo in die krag van skryf om te genees en te bemagtig. Ek het al in verskeie plaaslike tydskrifte verskyn en het die eer gehad om in 2021 op die voorblad van Huisgenoot te wees. Ek is ook ’n radio-aanbieder, beoordelaar by skoonheidskompetisies en entrepreneur. Ek bestuur my eie klerereeks en bemagtig ander.

God het ’n plan met jou lewe
Die boodskap wat ek wil oordra is eenvoudig: ons het almal ’n doel. As iemand my nie by die treinstasie gevind het nie, as Beeld nie my foto gepubliseer het nie, as my ma my nie aangeneem het nie, of as maatskaplike werker Tessa nie ingetree het nie, sou ek nie die persoon wees wat ek vandag is nie. Ek sou nie die geleentheid gehad het om soveel ander mense te help nie. Ons dade – hoe groot of klein ook al – het die krag om lewens te verander. Dankie, Jesus!

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 01/02/2025

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here