Geskryf deur: Lourieke Haller
Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

Oom Denis Oliver is die stigter van Crosses for Christ, ’n bediening wat reeds meer as 22 jaar lank pragtige houtkruisies uit geelhout en olyfhout maak. Die trooskruisies het geronde kante sodat kankerlyers en ander wat ernstig siek is, die kruisie met die bemoedigende woorde maklik in hulle hande kan vashou.

Elke kruisie word verpak met of ’n bekeringsgebed of bemoedigende teksversie daarby, daarom gebruik kerke, bedienings, evangelisasiewerkers, hospitaalbedienings en soortgelyke liefdadigheidswerkers dit jare lank al met groot vrug.

Koinonia Discipleship Training Academy het onlangs die onderneming by oom Denis oorgeneem en gebruik die kruisies vir hulle evangelisasiewerk. Oom Denis is egter steeds betrokke by kwaliteitbeheer en soos altyd word nie een kruisie versend sonder dat daar oor die kruisie gebid is en die werk wat dit gaan verrig geseën word nie.

Roeping in 1983

Die merkwaardige verhaal van geloof en God se roeping het alles in 1983 begin toe oom Denis geweet het God roep hom om sy lewe aan hom oor te gee, maar as 45-jarige, was hy te besig om sy eie droom te bou. Binne die kort tydperk van 18 maande het hy en sy vrou, Gill, egter weens onvoorsiene omstandighede alles verloor wat hulle besit het. God het nou oom Denis se volle aandag gehad …


Oom Denis Oliver en sy vrou, Gill

Krisisoomblik

“Dinge het van sleg tot erger gegaan en ek het uiteindelik my lewe onvoorwaardelik aan Jesus Christus oorgegee,” vertel hy. “Maar waar begin jy as alles verlore is, as jy werkloos is en jy moet voorsien en jy het gee benul van wat vertroue en geloof beteken nie? Ek was desperaat en het verkeerdelik gedink noudat ek my lewe vir Jesus gegee het, sou alles binne ’n japtrap weer regkom. Hoe verkeerd was ek nie! In plaas daarvan om te verbeter, het dit net vererger. Ons het die eerste jaar oorleef deur loswerkies wat ek gekry het om te doen, maar ek het nie juis vordering gemaak nie.”

Dit was op hierdie krisisoomblik dat die roeping vir oom Denis duidelik geword het.

“Het jy al ooit ’n dag in jou lewe beleef wanneer jy nie kon wag vir die dag om net tot ’n einde te kom nie? Wanneer alles eenvoudig net van sleg tot nog slegter gegaan het? Vir my was daardie dag 1 Desember 1986. Ek was aan die einde van daardie dag klaar met alles en almal om my. Al wat ek wou doen was om vroeg in die bed te kruip en te hoop dat die volgende dag beter sou wees … Ek het in die bed gelê met my nuwe Bybel langs my en probeer om klarigheid te kry oor wat aan die gang is in my lewe. Ek het gewonder of die lewe nog selfs die moeite werd was. Ek is van nature ’n positiewe mens, maar daardie dag het ek gevoel die damwal gaan bars en my meesleur. Ek kon nie meer nie.

Visioen in die nag

“Toe gebeur dit. Ek het ’n sterk drang gehad om op my knieë te gaan, te bid en by die Here aan te dring vir ’n antwoord of daar enige hoop of doel vir my lewe is. Hierdie was my gebed daardie aand van 1 Desember 1986:

‘Here, ek voel heeltemal uitgeput en ek is desperaat om te weet of daar enige doel is vir my lewe. Ek moet ook by U hoor of U God is, en as U is, sal U met praat en my help. Ek weet ek stel nou eise, maar ek moet vanaand ’n antwoord op my gebed kry, aangesien môre te laat kan wees. Ook Here, die antwoord, as daar een is, moet direk van U af kom en nie deur iemand anders wat dink dat hulle dalk ’n woord van U af vir my het nie. Amen.’

“Ek het teruggeklim in die bed en dadelik aan die slaap geraak. Omstreeks 03:00 die volgende oggend het ek wakker geword, regop gekom in die bed en voor my die helderste en duidelikste visioen gesien. Dit was die woorde ‘Genesis 15:1’. Ek het dadelik my nuwe Bybel gegryp om Genesis op te soek. Dit was iewers voorlangs het ek geweet. Tot my verbasing was dit die heel eerste boek in die Bybel – so maklik om te vind. Genesis 15:1 is die Here se verbond met Abram en lui soos volg: “Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ’n skild en jou loon is baie groot.”

“Ek het dadelik Abram se naam met my eie vervang en ek het daardie visioen as antwoord op my gebed beskou. Ek weet God het my gebed daardie aand geantwoord. Daardie woorde uit Genesis is die fondament waarop ek my geestelike lewe gebou het.”

Houtkruisies van hoop

“Ek het spoedig daarna uitgevind dat die kruis my aantrek en ek het ’n groot gevoel van vrede ervaar elke keer wanneer ek ’n kruis gesien het. Min het ek geweet dat die Heilige Gees besig was om my te lei om betrokke te raak by die maak van houtkruisies.”

Oom Denis het eers klein begin, maar sy vervaardiging van houtkruisies het uitgebrei en kerke en bedienings het ook bestellings by hom begin plaas. Hy was verras oor die reaksie wat hy gekry het.

Voorbeelde van een van die kaartjies wat saam met die kruisies verpak word.

Hy het die volgende te sê oor die kruis en die betekenis van die kruisies.

“’Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.” – 1 Korintiërs 1:18. My gebed is: ‘Jesus, gebruik U Woord kragtig in my lewe en help my om ’n getroue getuie van U reddende liefde te wees.” Ek sê dankie vir die Here vir die trooskruis. Dit dien as vertroostende herinnering aan alles wat vir Hy vir ons gedoen het en dat ons so ’n persoonlike verhouding met God kan hê. Die kruisies herinner ons ook dat hierdie wêreld nie die einde van alles is wat lieflik is nie. Pyn sal nie meer deel wees van die nuwe ewige lewe nie. Die dood sal agtergelaat word. Daar is ’n nuwe lewe wat vir ons wag wat ons verwagtinge sal oortref.”

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 14/05/2023

VRYWARING

JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here