Geskryf deur: Alex Pollock 
Artikelbron: www.incontextinternational.org 

Die ministers van buitelandse sake van China, Pakistan en Afghanistan het op Sondag, 7 Mei, in Islamabad ontmoet om gesamentlike sekuriteitsmaatreëls, teenterreurstrategieë en beleggingsmoontlikhede te bespreek. Daar is ’n reisvrystelling aan Afghanistan se minister van buitelandse sake, Amir Khan Muttaqi, deur die Verenigde Nasies (VN) toegestaan om na Islamabad te reis ten einde die spitsberaad te kan bywoon. Muttaqi was onder ’n reisverbod wat deur die VN se Sekuriteitsraad opgelê is as deel van Afghanistan se internasionale isolasie.

Qin Gang, China se minister van buitelandse sake, tesame met Pakistan se Bilawal Bhutto Zardari, het aangedui dat hulle belang stel om verhoudings met Afghanistan te verdiep deur die inkorporering van die Taliban-regering in die China-Pakistan Ekonomiese Korridor (CPEK), ’n beleggingsprojek wat paaie, hawens en spoorweë insluit. China het egter gewaarsku dat daar eers beduidende verbetering op sekuriteitsgebied in Afghanistan sal moet plaasvind voordat hy sal oorweeg om in dié land te belê. As gevolg van Afghanistan se omvattende internasionale isolasie wat gevolg het nadat die Taliban aan bewind gekom het in Augustus 2021, sukkel die mense van Afghanistan geweldig op verskeie fronte. Die land se ekonomie is besig om ineen te stort en ’n groot deel van die bevolking lewe in ’n toestand van verarming. As China se potensiële beleggings in Afghanistan naastenby dieselfde sou wees as dié van sy projek in Pakistan – ter waarde van miljarde dollars – sou die verhoogde ekonomiese uitvloei van so ’n projek natuurlik broodnodige verligting vir die mense bring.

Vanuit ’n tradisioneel Westerse oogpunt lyk die toenemende rol van China en Pakistan in Afghanistan kommerwekkend, maar dit is die mense op grondvlak in Afghanistan wat sukkel weens die sanksies en isolasie, veel meer as die regering self wat internasionale rolspelers eintlik probeer straf. Die Here kan enigeen of enige nasie gebruik om redding en hoop vir sy mense te bring, maak nie saak hoe onwaarskynlik hulle as bondgenoot mag lyk nie. As een van die onveiligste lande vir Christene, is dit vir Afghaanse gelowiges baie moeilik om bemoediging van die groter liggaam te ontvang. Hoe dit ook al sy, sedert die oorname deur die Taliban, het baie Afghane na Pakistan gevlug, wel ook ’n moeilike land vir Christene, maar die Christelike Kerk is darem sigbaar in Pakistan en baie Afghane het Christus al in Pakistan leer ken.

China se Belt and Road-inisiatief bied steeds ruim geleenthede vir die verspreiding van die Evangelie, beide in Afghanistan en Pakistan. Verhoogde streeksintegrasie beteken dat Afghanistan potensieel vir buitelanders sal oopgaan, wat op sy beurt ’n groot bemoediging vir die Christelike oorblyfsel in Afghanistan sal wees, wat aanhou groei ten spyte van geweldige uitdagings.

Tydens die spitsberaad het China en Pakistan gepraat oor die noodsaaklikheid om Afghanistan weer deel te maak van wêreldbetrekkinge om sodoende streeksveiligheid, asook groter wêreldveiligheid, te bevorder. Pakistan se buitelandse ministerie het ’n verklaring uitgereik wat sê dat daar ’n groot “behoefte is dat die internasionale gemeenskap voortdurend hulp en bystand aan Afghanistan sal verleen, insluitende dat Afghanistan se oorsese finansiële bates ontvries moet word.” Verder kommunikeer die verklaring ook die voorneme om voort te gaan om humanitêre bystand aan die Afghaanse mense te voorsien met die doel om ontwikkeling in Afghanistan aan te moedig.

China het dieselfde voorneme uitgespreek en ook genoem dat die wêreldsupermoondheid gereed is om met beide Pakistan en Afghanistan saam te werk om die totstandkoming van ’n Globale Ontwikkelingsinisiatief, ’n Globale Veiligheidsinisiatief en ’n Globale Beskawingsinisiatief tot stand te bring. Afsonderlik van China en Pakistan se beraad, het die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Antόnio Guterres, ’n twee dae lange beraad met spesiale gesante uit verskeie lande oor Afghanistan gehou wat daarop gemik was om ’n internasionaal goedgekeurde strategie vir interaksie met die Afghaanse regering daar te stel. Geen afgevaardigdes van Afghanistan was teenwoordig by daardie beraad, wat in Doha, Qatar op Maandag, 8 Mei gehou is nie.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat die Heer se wil binne Afghanistan, sowel as die groter streek, sal geskied deur wie ook al die Here kies om te gebruik, sodat die Afghaanse Kerk bemoedig kan word en Sy Koninkryk kan uitbrei,
  • dat uiters noodsaaklike humanitêre bystand Afghanistan sal bereik en dat alle ontwikkelings- of beleggingsprojekte verligting vir die mense sal bring, en
  • dat die wêreldwye Kerk nie moeg sal word om vir ons Afghaanse broers en susters, wat onder geweldige druk leef, te bid nie.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 13/05/2023

VRYWARING

JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here