Artikelbron: Evangelical Focus
In Turkye werk plaaslike Protestante hard om gesinne by te staan wat slagoffers was van die aardbewings wat die Kahramanmaraş-streek drie maande gelede getref het.
Terwyl tienduisende oorlewendes dakloos bly, is meer as 100 nuwe huise gebou om skuiling te bied.
Die aardbewing op 6 Februarie het groot skade aangerig en die lewens van 50 783 mense geëis volgens amptelike syfers. Dit was ’n tyd van groot wanhoop, met geboue wat ineengestort het en mense wat haweloos gelaat is.
Die Protestantse Kerkstigting het met humanitêre werk begin, aangesien tienduisende mense wat die aardbewing oorleef het, steeds dakloos is. Vanaf Februarie het die stigting verskeie voorrade versprei, insluitend kos, higiëneprodukte, water, brandstof, kooktoerusting, vuurmaakhout en mediese voorrade. Klere en kombuistoebehore is ook voorsien aan gesinne wat in tente woon.
Benewens basiese benodigdhede, werk die stigting om mense te help om die daaglikse uitdagings te hanteer wat hulle te bowe moet kom. Dit is byvoorbeeld ’n uitdaging om klere te was, dus is wasmasjiene en droërs in verskillende streke van Hatay Samandağ geïnstalleer. Twee wasmasjiene en twee droërs is in twee verskillende stede geplaas, en hulle word gereeld van ongeveer 30 pakke wasmiddel en 30 bokse wasgoedversagmiddel voorsien.
Daar is ook ’n aansienlike tekort aan tente in die gebied, en die stigting het 30 tente aangekoop en versprei kort ná die aardbewing in Samandağ. Die afgelope paar weke is ‘n bykomende 200 tente van China ontvang en word aan gesinne uitgedeel.
Benewens die voorsiening van algemene behoeftes, word spesifieke behoeftes ook aangespreek. Die stigting het byvoorbeeld ’n skootrekenaar aan ’n universiteitstudent verskaf sodat hy sy studies kon voortsit. Hulle verskaf ook wiegies en ander items aan swanger vroue wat binnekort geboorte gaan skenk.
Pogings word ook aangewend om ontspannings- en opvoedkundige aktiwiteite vir kinders van geaffekteerde gesinne te verskaf. Sedert die eerste paar dae ná die aardbewing het pastore verbonde aan die stigting die streek op verskillende tye besoek om die behoeftes op die terrein te bepaal en hulle werk hard om soveel ondersteuning as moontlik te bied.
Broers en susters van plaaslike kerke help vrywillig met verskeie take, insluitend die verspreiding van hulp en die aflewering van nodige voorrade.
Die primêre inisiatief van die stigting is die “Tiny House”-projek, wat behels dat tydelike huise van 25 vierkante meter met twee slaapkamers elk gebou word. “Ons het ons aanvanklike doelwit van 100 huise bereik. Ons werk nou aan ons tweede doelwit van 140 huise. Tot dusver het ons 106 houthuise gebou en geïnstalleer wat aan gesinne in die area oorhandig is,” het ’n woordvoerder van die stigting gesê. Christen-broers en -susters kry voorkeur.
Benewens die bou van huise, werk plaaslike Protestante ook aan die installering van toilette en storte, aangesien sanitasie een van die belangrikste behoeftes is. “Tot dusver het ons altesaam 39 toilette en 27 storte voorsien. Ons verskaf alle toerusting vir elke eenheid en verseker dat dit gereed is vir gebruik.”
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 12/05/2023
Foto: evangelicalfocus.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.