Geskryf deur: Solidariteit Helpende Hand
Artikelbron: Artikel verskaf
Qedani Mahlangu, die voormalige Gautengse LUR vir gesondheid, sê sy is steeds “baie jammer” oor die Life Esidimeni-tragedie wat onder haar leiding tot die dood van 144 mense gelei het.
Mahlangu het Dinsdag dié stelling gemaak tydens kruisondervraging deur adv. Phyllis Vorster van AfriForum se privaat vervolgingseenheid. Adv. Vorster is ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag aangestel om die families van sommige van die Life Esidimeni-slagoffers namens Solidariteit Helpende Hand by te staan tydens die geregtelike doodsondersoek (GDO).
Mahlangu getuig tans in GDO in die hooggeregshof in Pretoria oor haar rol in die omstrede besluit wat gelei het tot die verskuiwing van ongeveer 1 400 psigiatriese pasiënte vanaf die Life Esidimeni-fasiliteite. Sommige is dood nadat hulle na swak toegeruste en ongelisensieerde nieregeringsorganisasies verskuif is.
“Retrospeksie is die beste onderwyser. In retrospeksie kon dinge anders gedoen gewees het tydens die implementering van die plan. Ek sê weer eens ek is baie, baie jammer. Ek wens ek kan die tyd terugdraai, maar ek kan nie,” het sy gesê.
Sy het volgehou dat daar nie fout was met die besluit om die staat se kontrak met Life Esidimeni te beëindig om die Gautengse Departement van Gesondheid geld te spaar nie, maar dat die implementering van die plan skeefgeloop het.
Sy het ook gesê dat dit nie háár verantwoordelikheid was om toe te sien dat die betrokke organisasies aan al die nodige vereistes voldoen nie. Mahlangu het erken dat daar nie voldoende met die pasiënte se families gekommunikeer is nie. Dat kommunikasie baie beter kon gewees het, blyk uit die destydse ondersoeke en die gesondheidsombudsman se verslag.
Die Gautengse Departement van Gesondheid het destyds die families per SMS in kennis gestel dat hul geliefdes na ander instellings oorgeplaas gaan word. “Daarom sal ek aanhou om verskoning te vra vir die dinge wat gebeur het toe ek as LUR van gesondheid aan die stuur van sake was,” het sy getuig.
René Roux, die woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand, sê die instansie hou die verloop van die GDO en beslissings wat daaruit spruit met belangstelling dop.
“Jammer is nie genoeg nie. Verbeel jou jy neem ’n glasbord en gooi dit stukkend teen die grond. Dit lê in stukkies. Jy kyk daarna en sê: “Jammer.” Dit is so maklik soos dit. Maar maak dit die glasbord weer heel? Hierdie families is stukkend. Geregtigheid moet geskied,” sê Roux.
Die GDO duur voort.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 12/05/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.